2019-09-09
Prediker 3:1-8 NLV
Wanneer laas het jy die tyd geneem om te lag, te dans en lief te hê? Kan jy onthou? In die woorde van ‘n onbekende digter: ‘This is the age of the half-read page; the quick hash and the mad dash. The bright knight with the nerves tight; the plane hop and the brief stop. The lamp-tan in a brief span; the big shot in a good spot. The brain strain and the heart pain; the catnaps until the spring snaps…and the fun’s done!’ Dit laat mens dink, nè? Moet dit egter so wees? Nee, as dit is hoe jou lewe vandag lyk, is die kans goed dat dit is omdat jy dit so gemaak het. Jy is die enigste een wat dit kan verander! Jy sê jy is besig? Ons is almal besig. Wie sê dat jy nie die lewe kan geniet wanneer die pas versnel nie? Vir seker nie God nie! Chuck Swindoll skryf: ‘Ek weier dat vrolikheid die agterste gestoeltes inneem wanneer verantwoordelikheid aan die stuur kom. As die pret weg is, is dit omdat ons dit nie daar wil hê nie, nie omdat dit nie inpas nie. Ek gee nie om of jou ‘doenlysie’ tot by die horison strek nie, jy moet weer in balans kom en die tyd neem om te lag, van vreugde te dans en lief te hê. Hoekom? Omdat die Bybel so sê! Jou familie en vriende sal jou ook meer geniet wanneer jy dit doen.’ Die Psalmdigter het gesê: ‘U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). Gaan dus voort en geniet jou lewe soos God dit bedoel het om te wees – voor jy jou oë uitvee, is dit verby.
Sielskos: Eseg 43-45; Matt 24:26-35; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21
2019-03-26
Psalm 30:3 NLV
Ons praat so maklik oor dinge wat nie saak maak nie. Wanneer dit egter tyd is om oor ons vrese, ons eensaamheid, ons skuldgevoelens of ons behoefte aan liefde te praat, klap ons soos oesters toe. Soms maak ons asof ons nie hoor nie, terwyl die waarheid egter is dat ons nie hou van wat ons hoor nie. Jy het gehoor hoe jou maat sê dat hy meer van jou tyd nodig het, of jou kind wat sê: ‘Ek is lief vir jou.’ Jy het hulle ook hoor sug toe jy niks terug gesê het nie. Jy het weggehardloop en weggekruip omdat jy óf nie weet hoe om dit te gee wat hulle vra nie, óf omdat jy nie die prys wil betaal nie. Ons almal het wegkruipplekke – soos ons werk, ons gewoontes of verhoudings wat geen emosionele eerlikheid benodig nie. God het jou egter met ‘n behoefte aan aanraking en die uitdrukking van emosies geskep. Hoe lank gaan jy agter daardie masker wegkruip en jou behoeftes en vrese ontken? God het gesê: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie…’ (Genesis 2:18 NLV). As jy aanhou om jou emosies te ontken, sal jy nooit die vreugde van ‘n goeie verhouding ervaar nie. Dawid was nie bang om aan God te erken dat hy swak, hartseer of kwaad gevoel het, of liefde nodig gehad het nie. Hy het gesê: ‘Vanaf die einde van die aarde roep ek tot U om hulp, want ek is moedeloos verby…’ (Psalm 61:3 NLV). As jy nie jouself teenoor ander mense kan uitdruk nie, begin deur met God te praat. Wat Hy vir Dawid gedoen het, kan Hy ook vir jou doen. Draai dus vandag na Hom toe en laat die genesing begin.
Sielskos: Est 1-4; Luk 19:45-48; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31
2019-03-07
Hebreërs 10:20 NLV
In die Ou Testament was daar meer godsdienstige wette as wat enigiemand moontlik kon onderhou: meer as seshonderd van hulle. Elke keer wat jy daarin misluk het, moes jy ‘n offerdier as versoening bring. Dit het veroorsaak dat mense probeer en misluk het; skuldig gevoel het en harder probeer het; weer misluk het en meer opofferings gemaak het. Dit was ‘n nimmereindigende siklus. Toe het Jesus gekom en ‘n ‘nuwe, lewegewende pad… vir ons oopgemaak…’ om ‘n verhouding met God te hê. Sy pad het vergifnis van sonde sowel as die vervanging van offergawes deur geloof in Hom, ingesluit. Vir baie mense was dit te goed om waar te wees, dus het hulle aanhou werk en probeer om God met hulle goedheid te beïndruk. Doen jy dit? ‘n Christelike skrywer sê: ‘Ek het vir baie jare so gelewe. Dit beteken dat ek alles perfek moes doen; anders was ek by God in die moeilikheid. Omdat dit ‘n onmoontlike standaard was om te onderhou, het dit al my vrede en vreugde gesteel. Ek kon nie aan ander mense gee wat ek nie self geweet het hoe om te ontvang nie! Ek het nie God se genade vir my mislukkings ontvang nie, dus kon ek dit nie aan enigiemand anders bied nie. Ek het probeer om al die reëls na te kom, baie wat nie eers Skriftuurlik was nie – net dinge om oor skuldig te voel. Dank God dat ek egter nie meer so moet leef nie. Nou werk ek nie om gered te word nie, ek werk omdat ek gered is! My verlossing is nie gebaseer op dit wat ek doen nie, maar alleenlik op dit wat Jesus vir my gedoen het.’ Wanneer jy hierdie waarheid verstaan, is jou verhouding met God nie meer ‘n werk nie – dis ‘n vreugde.
Sielskos: Eks 33-35; Luk 14:25-35; Ps 112; Spr 7:6-9
2018-12-15
Filippense 4:4 NLV
Cheryl het aanhoudend gekla dat sy nie genoeg geld maak nie, nie die goed wat sy wou gehad het kon bekostig nie en daarom nooit iets van haar lewe sou maak nie. Haar berader het gesê, ‘Jy mors jou energie deur te kla, gebruik dit eerder om vooruit te beweeg.’ Cheryl het gestry, ‘Jy verstaan nie. Die werk is die probleem, nie ek nie.’ Die berader het geantwoord, ‘Jou klein salaris mag dalk ‘n probleem wees en jou baas mag dalk te veel van jou vereis, maar wanneer jy jouself aanhoudend ontstel doen jy meer skade as wat jou baas of jou werk aan jou doen.’ Cheryl het gevra, ‘Wat kan ek doen?’ Die berader het gesê, ‘Jy kan nie jou baas of jou werk beheer nie, maar jy kan die manier wat jy daaroor voel, beheer. Verander jou houding.’ Cheryl het haar raad gevolg. Sy het ophou kerm oor haar lewe en mense het dit opgemerk. Sy het ‘n bevordering gekry en binne ‘n paar maande is sy na ‘n posisie met ‘n groter salaris en ‘n baas wat meer ondersteunend was, geskuif. Goeie dinge gebeur met mense wat ‘n goeie houding het. Jou houding is iets wat jy ongeag van jou omstandighede kan kies. Paulus het geskryf, “Wees altyd bly omdat julle Christene is. Ek sê dit weer: ‘Wees bly!'” Waar was Paulus? In die tronk! Aan wie het Paulus geskryf? Aan mense buite die tronk! Hoekom het hy homself herhaal? Omdat ons so vinnig vergeet en weer in negatiwiteit verval. Ware vreugde is ‘n innerlike gevoel wat nie aan mense of uiterlike situasies onderworpe is nie. Jesus het gesê, ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV).
Sielskos: Est 5-10; Joh 21:1-25; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27
2018-11-23
Job 23:9 NLV
Soms sal jy God se teenwoordigheid nie aanvoel nie. Te midde van moeilike tye, het Job gesê, ‘Maar soek ek in die ooste, kry ek Hom nie. In die weste is Hy ook nie te vind nie. Ek sien Hom nie in die noorde nie, want Hy is onsigbaar. In die suide vind ek Hom nie’ (verse 8-9 NLV). Job het ver van God af gevoel. Ten spyte van sy onvermoë om God aan te voel, het hy egter besluit, ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur, sal Hy my onskuldig verklaar’ (vers 10 NLV). Moeilike dae vereis besluite van geloof. Dawid het gesê, ‘Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou’ (Psalm 56:4 NLV). Wanneer jy nie die weë van God kan verstaan nie, vertrou op die onveranderlike en liefdevolle karakter van God. Gaan deur jou Bybel en maak ‘n lys van God se karaktereienskappe en hou die lys byderhand vir moeilike dae. ‘n Skrywer merk op: “My lys lees as volg: ‘Hy is steeds soewerein. Hy ken steeds my naam. Engele reageer steeds op sy roep. Die harte van regeerders gee steeds aan sy bevele toe. Die dood van Jesus red steeds siele. Die gees van God woon steeds in heiliges. Die hemel is steeds net ‘n hartklop weg. Die graf is steeds net ‘n tydelike tuiste. God is steeds getrou. Hy word nie onkant betrap nie. Hy gebruik alles tot sy eer en ten goede van my. Hy gebruik tragedie om sy wil te bereik; en sy wil is reg, heilig en perfek. Hartseer mag dalk saam met die nag kom, maar vreugde kom saam met die môre.'” In tye wat verander, staan met vertroue op die onveranderlike karakter van God.
Sielskos: Gen 4-6; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 30:21-23