2020-10-07
1 Tessalonisense 5:18 NLV
Deur dankbaarheid te betuig, vul jy jou lewe met vreugde en veerkragtigheid. Die Britse teoloog, John Henry Jowett, het gesê: ‘Elke deug wat van dankbaarheid geskei word, word vermink en loop mank op die geestelike pad.’
Sonder dankbaarheid, word jou geloof ‘n hol godsdienstige praktyk, jou liefde vir ander verdwyn, jy voel van vreugde gedreineer en jy begin soos ‘n martelaar optree. Wanneer Paulus sê: ‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag,’ bedoel hy nie dat elke omstandigheid wat jy teëkom noodwendig God se wil is nie.
Pastoor Jack Hayford merk op: ‘In elke versekeringskontrak is daar die voorwaarde: ‘Tensy dit ‘n daad van God is.’ Kultureel gesproke word dit as die ergste ding wat kan gebeur, gedefinieer. Ek het al gehoor dat mense dit as volg interpreteer: ‘Wel, wat ook al gebeur is die wil van God. Wees dankbaar en loof God.’ Die Bybel sê nie dat alles Goddelik ontwerp is nie, dit sê dat God in dit, deur dit en verder as dit goeie werk kan vermag. ‘Die wil van God in Christus’ is dat ons dankie sê en God te midde daarvan loof. Hoekom sal ons dit doen? Omdat ons goed voel? Nee, ons doen dit omdat aanhoudende gebed ‘n lied van geloof in die situasie vrystel. Om deur dit te worstel en af en toe te bid gaan nie goed genoeg wees nie. Hy kan egter die beste van enige situasie maak, en dis hoekom die Bybel sê dat ons in alle omstandighede dankbaar moet wees.’
In enige omstandighede, kan jy kies om te kla of om God te loof – en jy kan nie God loof sonder om dankbaarheid te betuig nie!
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Joh 1:14-28; Ps 29; Spr 22:26-29
2020-09-23
Josua 1:8 NLV
In die Skrif beteken die woord, ‘sukses,’ eenvoudig dat jy God se wil vir jou lewe ken en doen. Dis so eenvoudig! Vir Josua, het sukses beteken om die Beloofde Land binne te gaan, dit te oorwin, daar te woon en elke dag die seëninge daarvan te geniet. Luister na wat God vir hom gesê het: ‘Wees sterk en baie dapper! Voer al die opdragte uit wat Ek vir my dienaar Moses gegee het. Moenie links of regs daarvan afwyk nie. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen. Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (verse 7-8 NLV). Ware sukses vereis hierdie drie dinge: 1) Om te word wat God wil hê jy moet wees. 2) Om te doen wat God wil hê jy moet doen. 3) Om te hê wat God wil hê jy moet hê. Soos jy die doelwitte bereik wat Hy vir jou lewe gestel het, word jy suksesvol. Soos die bekende skrywer en lektor, Dale Carnegie, een keer opgemerk het: ‘Sukses is om te kry wat jy wil hê. Geluk is om dit wat jy kry, te wil hê.’ In hulle eindelose soeke na prestasie, word sommige mense so gierig en gulsig dat hulle nooit tevrede is nie. Omdat hulle altyd meer wil hê, geniet hulle nie dit wat God reeds vir hulle gegee het nie. Ware sukses is nie ‘n bestemming nie, dis ‘n reis. Dis vreugde wat deur vooruitgang geskep word. Dit is die wete dat jy ‘op skedule’ is wanneer dit by God se taak vir jou lewe kom.
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Luk 23:13-25; Ps 52; Spr 21:17
2020-05-08
Psalm 40:9 NLV
Daar is geen vreugde in die lewe wat kan kers vashou by die vreugde wat jy voel wanneer jy weet dat jy te midde van God se wil loop nie. Nie roem nie, nie rykdom nie, nie plesier nie. Niks kan vergelyk word met die wete dat jy sy goedkeuring op jou daaglikse aktiwiteite het nie. Sal dit altyd maklik wees om God se wil te doen? Nee; dit is genotvol, maar dis nie altyd maklik nie. Die grootte van jou God-gegewe lewensopdrag bepaal inderwaarheid die vlak van aanval wat teen jou geloods sal word. In hierdie sin is Satan se aanval op jou dus ‘n bevestiging dat jy waarlik in God se wil is. Paulus skryf: ‘Wat harde werk betref, uitermate; wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry; drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ‘n dag en ‘n nag op die oop see oorleef. Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges. Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees. Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes. Watter medegelowige is swak, en ek voel nie saam swak nie?..’ (2 Korintiërs 11:23-29 NLV). Verbly jouself dus – jy is in die wil van God!
Sielskos: Num 16-18; Mark 7:14-23; Ps 44:1-8; Spr 11:9
2020-01-01
Nehemia 8:10 NLV
Wanneer jy na die Hallelujakoor van Händel luister, besef jy dat hy deur God geïnspireer was. Hy het die hele Messias in net drie weke geskryf. Hy sê dat die musiek letterlik na hom in ‘n warrelwind van note gekom het. Hy het koorsig gekomponeer, asof hy deur ‘n onsigbare komponis gedryf is om pen op papier te sit. Hy het geskryf toe sy sig besig was om te verswak en toe hy voor die bedreiging van die tronk gestaan het, omdat hy ‘n berg onbetaalde rekeninge gehad het. Die meeste van ons vind dit moeilik om onder stres te skep, veral wanneer fisiese of finansiële probleme aan die kern van daardie stres lê. Tog het Händel dit gedoen. Hoe het hy dit gedoen? Hy skryf die voltooiing van sy meesterstuk aan een ding toe: vreugde. Hy word aangehaal waar hy sê dat dit gevoel het of hy wou bars van vreugde oor dit wat hy in sy gedagtes en sy hart gehoor het. In plaas daarvan om te sterf, soos hy gedink het hy sou, het hy gelewe om te sien hoe sy komposisie ‘n gekoesterde tradisie en populêre werk word. Hy het ook gesien hoe dit gebruik word om groot bedrae geld vir die armes en haweloses in te samel. Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ Een van die eerste dinge wat Satan sal aanval, is jou vreugde. Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV). Dit maak dus nie saak wat hierdie jaar gebeur nie, behou jou vreugde!
Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14
2019-10-14
Psalm 30:6 NLV
Dis moelik wanneer jy die hele dag hard werk en dan na ‘n leë huis moet terugkeer. Dis ‘n vreeslike tipe eensaamheid. Dis die pyn van soveel hê om te deel, maar daar is niemand om dit mee te deel nie. God ken egter jou behoefte en Hy gee om. Dis hoekom Hy Eva vir Adam gemaak het, Boas vir Rut en Rebekka vir Isak gevind het. Dis hoekom sy Woord kwessies soos seksuele frustrasie, eensaamheid, mislukking en ‘n gebrek aan selfwaarde aanspreek. Daar bestaan natuurlike leemtes en begeertes in elkeen van ons en hoe ons hulle vul, bepaal ons vermoë om te oorleef en geluk te vind. As jy sukkel om op jou eie die uitdagings van die lewe te oorkom, moet jy weet dat jy nie alleen is nie! ‘…die Vader van meelewing en die God wat in elke opsig bemoedig’ (2 Korintiërs 1:3 NLV), is by jou. Niemand verstaan soos Jesus nie. Sy familie het Hom verwerp, sy dissipels het Hom verlaat en die wêreld het Hom gekruisig. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:15 NLV). Hy weet wanneer jy voel dat niks wat jy doen ooit goed genoeg is nie. Hy weet dat jy nie net ‘n ouer is nie, maar ook ‘n mens in eie reg. Hy weet, Hy verstaan en Hy nooi jou uit om na Hom toe te kom. Die seisoen waarin jy jou tans bevind gaan nie vir ewig aanhou nie. ‘n Nuwe een is op pad, met nuwe energie, nuwe verhoudings, nuwe ervarings en nuwe vreugde. Onthou dus: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.’ Jou vreugde sal weer terugkeer!
Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21; Heb 11:8-16