2021-02-10
Spreuke 14:30 NLV
In die laaste halfeeu, het dokters die verhouding tussen geestelike en fisiese gesondheid begin verstaan en beklemtoon. Tog praat die Bybel meer as drie duisend jaar gelede al daaroor toe koning Salomo vir ons hierdie vier spreuke gegee het: 1) ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid. Jaloesie vreet ‘n mens op.’ 2). ‘Oë wat blink, bring vreugde. Goeie nuus, bring gesondheid’ (Spreuke 15:30 NLV). 3) ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). 4) “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag” (Spreuke 17:22 NLV).
Hierdie Skrifgedeeltes kan as volg opgesom word: ‘n Houding wat met geloof gevul is (deur op die goeie eerder as die slegte te fokus), lag (die vermoë om jouself te verbly) en gesproke woorde van aanmoediging het ‘n diepgaande effek op jou gesondheid (sowel as die gesondheid van diegene rondom jou).
Wat is die teenmiddel vir stres? Kalmte! Wat is die geneesmiddel vir vrees? Geloof! Waar kom kalmte en geloof vandaan? Van God af! Dit het nie goed met Dawid gegaan toe hy die volgende geskryf het nie: ‘Ek het na U geroep, Here. Ek het by U gepleit om genade: ‘Wat sal dit U baat as ek sterf, as ek wegsak in die graf?’…’ (Psalm 30:9-10 NLV). Ons weet nie of hy stres gehad het of fisies siek was nie. God het egter ingetree en later het Dawid in dieselfde Psalm geskryf: ‘U het my droefheid verander in ‘n dans van vreugde. U het my… met vreugde geklee. Daarom sal ek sing tot u eer en nie swyg nie…’ (verse 12-13 NLV).
Daar is geen twyfel daaraan nie – jou gedagtes het ‘n diepgaande effek op jou gesondheid!
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Matt 13:36-46; Ps 138; Spr 4:14-17
2020-11-26
Psalm 25:15 NLV
Hannah Whitall Smith skryf: ‘Dis van geen nut vir ons om die self te ondersoek en daaraan te timmer in die hoop om dit te verbeter nie. Die Here wil hê dat ons daarvan ontslae moet raak.’ Jou ou natuur is gedetermineerd om jou aandag te hou; dit verkies dat jy eerder sleg van jouself dink as wat jy glad nie aan jouself dink nie. Wanneer jy in die proses is om jou vlees te ondersoek, mag jy dalk dink dat jy besig is om nederig, eerlik en geestelik te wees. Die enigste geestelike en veilige manier om egter jou vleeslike natuur te hanteer is om dit te ignoreer en jou aandag en verwagtinge eksklusief op die Here te fokus.
Dawid het verstaan hoe hierdie beginsel werk: ‘Ek kyk altyd op na die Here, want Hy sal my voete van die vangnet bevry.’ Deur na jou eie ‘voete van klei’ (swakhede en mislukkings), en die vangnet (jou onveranderde vlees) waarin jy verstrik is te kyk, sal jou nie uit die strik red nie. Jy sal net meer verstrengel word. Net God, tesame met jou samewerking, kan jou uit die vangnet van die vlees bevry. Jy moet slegs opkyk na die Here om oorwinning te behaal. Luister na wat Dawid gesê het: ‘Die Here is altyd by my… daarom sal ek nie struikel nie… U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:8-11 NLV).
Jou werk is eenvouding, alhoewel nie noodwendig maklik nie. Jy moet net jou vleeslike begeertes ignoreer en op Jesus gefokus bly. Sy werk is om jou deur sy magtige krag te transformeer!
Sielskos: 2 Kro 25-28; Joh 13:31-38; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27
2020-11-23
2 Korintiërs 13:5 NLV
Dis nie noodwendig sleg om op jouself te fokus nie, mits dit tot geestelike groei lei. Sommige mense neem egter verkeerdelik aan dat dit ‘n Bybelse mandaat is! Het God ons nie immers beveel om onsself te ondersoek nie? Met dit in gedagte begin ons wonder – ‘Is ek geestelik genoeg? Het ek waarlik berou oor my sondes? Bid ek genoeg? Is God tevrede met my?’ Die waarheid is dat wanneer jy op jouself fokus, dit jou mismoedig en oorwonne kan laat voel.
Kom ons kyk wat God regtig sê. Daar is net twee gevalle waar selfondersoek in die Bybel genoem word en nie een van die twee leer ons om op onsself te fokus nie.
Eerstens, het Paulus die Korintiërs aangespreek omdat hulle groot sonde in hulle kerk toegelaat het. ‘n Man het ‘n verhouding met sy stiefma gehad en niemand was daaroor ontsteld nie. Omdat hulle nie berou oor hulle onreinheid, seksuele vergrype en losbandigheid gehad het nie (sien 2 Korintiërs 12:21), het Paulus geskryf: ‘Ondersoek julleself of julle in ‘n egte geloofsverhouding met Christus staan…’ Dis nie ‘n uitnodiging om op jouself te fokus nie, maar ‘n geestelike ondersoek.
Tweedens, het Paulus die Korintiërs se gedrag gedurende die nagmaal gekorrigeer. Omdat sommige van hulle van die nagmaalwyn dronk geraak het, het hy gesê: ‘Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink’ (1 Korintiërs 11:28 NLV). Paulus bedoel nie dat jy op jou foute moet fikseer nie, maar op die bevrydende waarheid dat Jesus die prys vir al jou sonde betaal het – in die verlede, die hede en die toekoms.
Groei, vreugde en oorwinning lê daarin om ‘n ongesonde fokus op jouself agter te laat en op Christus gefokus te bly!
Sielskos: 2 Kro 16-18; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16
2020-10-30
Spreuke 15:23 NLV
William Penn, die stigter van die Britse kolonie in Pennsylvania in 1677 (die Amerikaanse staat van Pennsylvania is na hom vernoem), het ses beginsels vir gesprekke geformuleer:
‘1) Vermy geselskap waar dit nie winsgewend of noodsaaklik is nie, maar wanneer jy jou in so ‘n gesprek bevind, praat min en praat laaste.
2) Stilte is wysheid, waar om te praat dwaasheid sal wees. Stilte is altyd veilig.
3) Sommige mense is so dwaas dat hulle die gesprek onderbreek en aanneem wat die een wat praat wil sê, in plaas daarvan om te luister en te dink voor hulle antwoord. Dis nie net ongeskik nie, maar dom.
4) As jy twee keer dink voor jy praat, sal jy twee keer beter praat.
5) Dis beter om niks te sê as om nie tot die punt te kom nie. 6) Laat die waarheid altyd jou doelwit in alle gesprekke wees, nie oorwinning of onregverdige selfbelang, winsbejag of om jou kritici te ontbloot nie.’
In kort: Dink voor jy praat! Gee jouself tyd om wysheid in jou woorde te inkorporeer en vermy woorde wat ander mense minderwaardig laat voel of wat hulle sal intimideer.
Een van die beste manier om ander mense te oortuig, is om na hulle te luister. ‘n Skinderbek praat oor ander mense en ‘n vervelige mens praat oor homself, maar ‘n goeie gesprekvoerder praat oor dit wat jou interesseer en luister aandagtig na wat jy te sê het.
Die waarheid is dat mense soms minder onthou hoe meer jy praat. Hulle is meer geneig om jou woorde te onthou as hulle voel dat jy genoeg omgee om na hulle gedagtes en bekommernisse te luister. Die Bybel sê: ‘Daar is vreugde daarin om die regte antwoord te hê; wat is beter as die regte woord op die regte tyd?’
Sielskos: Esra 3-5; Joh 7:25-44; Ps 108; Spr 24:29
2020-10-17
Psalm 126:2 NLV
God het elke menslike emosie wat jy voel, geskep. Hy het jou ontwerp om te huil wanneer jy hartseer is en te lag wanneer jy gelukkig is: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles… ‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag…” (Prediker 3:1,4 NLV). Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV).
Vraag: Hoe gereeld lag jy? Dokters sê dat lag ‘n wonderlike genesende effek op jou liggaam het. Dit het ook wonderlike genesende effekte op jou gedagtes en siel. Stop en dink aan die dae wat jy gelag het, selfs al het jy nie regtig iets gehad om oor te lag nie. Jy was ver van God af en deur jou sondige gewoontes gebonde, maar Hy het jou vrygemaak, nie waar nie?
In die Ou Testament lees ons: ‘Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit soos ‘n droom. Ons het gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: ‘Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.’ Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde!’ (Psalm 126:1-3 NLV).
As God jou vrygemaak het, het jy waarlik iets om oor te lag. Hou op om so hard op jouself te wees – omdat jy nie perfek is nie, jou stadige groei in God, jou gebedslewe wat aandag kort, dat jy nie meer Skrifgedeeltes kan memoriseer nie, jou vrees om jou geloof met ander te deel, ens. Ons dra sulke swaar laste rond. Dis maklik om baie dinge te vind om oor bekommerd te wees, maar jy moet soms ‘n bietjie daaraan werk om gelukkig te wees. Die woord vir jou vandag is dus – lag meer!
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4