Wanneer jy sterf! (6)

2022-06-01
2 Korintiërs 5:2 NLV

Dr Elisabeth Kübler-Ross, ‘n kundige op die gebied van dood en afsterwe en dr Raymond Moody Jnr, het saam met dr Kübler-Ross, ook ‘n bekende psigiater, die gevallegeskiedenis van meer as vyfhonderd mense wat weer lewendig geword het nadat hulle deur hul dokters as dood verklaar is, ondersoek. Die mense in die studie het óf ‘n plek van skoonheid, verwondering, vreugde en vrede beskryf, óf hulle het iets vreesliks beskryf. Hulle het ook beskryf hoe hulle buite hul liggame gesweef het. Nadat hulle ‘dood’ verklaar is, was sommige wat blind was in staat om te sien. Hulle het vertel van mense wat die kamer binnegekom het, hoe hulle gelyk het en wat hulle gedoen het terwyl hulle daar was. Tog, toe hierdie mense wat blind was terug lewe toe gebring is, kon hulle nie meer sien nie.

In sy boek, Life After Life, skryf dr Moody: “‘n Dokter het my vertel van sy ervaring toe hy ‘n man behandel het wat klinies dood verklaar is. Hy het daarin geslaag om die man weer by te bring, maar die man het hom daarna gedagvaar omdat hy hom, na die glorie wat hy beleef het, na hierdie ellendige bestaan teruggebring het. Een vrou het vertel dat sy afgekyk het op die dokters wat besig was om haar te probeer bybring en vir hulle probeer sê het: ‘Los my uit!'”

Die apostel Paulus verduidelik dit as volg: ‘Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ‘n tentwoning is, afgebreek word, ons ‘n permanente byplek by God het, ‘n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan. In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek’ (verse 1-2 NLV). Wanneer jy sterf – begin jy waarlik lewe!

Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 13:36-46; Ps 113; Spr 12:15-17

Hou by God se plan (2)

2022-03-23
Filippense 1:6 NLV

Paulus skryf: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (vers 6 NLV). Jy sal opmerk dat Jesus gereeld tyd uit sy besige skedule geneem het om te bid. Hy sê ook vir ons hoekom Hy dit gedoen het: ‘…die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen…’ (Johannes 5:19-20 NLV).

Onder die gewig van ons sonde, het Hy aan die kruis uitgeroep: ‘…My God, my God, waarom het U my verlaat?’ (Matteus 27:46 NLV). Sy woorde leer ons drie belangrike dinge: 1) Ons kan God se plan volg en steeds by tye oorweldig en alleen voel. 2) Wanneer God nie antwoord nie, moet ons oefen om op die beloftes wat Hy in sy Woord vir ons gee, te staan. 3) Die pyn wat ons voel, sal uiteindelik in die vreugde wat aan die ander kant daarvan wag, verander.

Hou dus by God se plan; solank as wat jy dit doen, is daar niks wat die Vyand kan doen om jou te vernietig nie. Die Bybel sê: ‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie… Dit is die erflating van die dienaars van die Here…’ (Jesaja 54:17 NLV). Wanneer jy voel of jy nie verder kan gaan nie, doen wat Jesus gedoen het en bid: ‘…Vader, in u hande gee Ek my gees oor!..’ (Lukas 23:46 NLV). Met ander woorde, gee dit alles aan God oor. Vertrou Hom om te doen wat jy nie kan nie en jou deur dit alles tot oorwinning te bring.

Sielskos: Job 18-20; Luk 19:11-27; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18

Moenie jou vreugde verloor nie

2022-03-11
Filippense 4:4 NLV

Paulus skryf: “Wees altyd bly omdat julle Christene is. Ek sê dit weer: ‘Wees bly!'” Hoekom het Paulus homself herhaal? Omdat vreugde die brandstof is waarop ons hardloop en as ons dit nie dophou nie, kan ons tot stilstand kom. Dit beteken dat jy gereeld jou brandstofmeter moet nagaan om seker te maak dat jy nie in negatiwiteit en vertwyfeling verval nie.

In die Bybel, verteenwoordig wyn vreugde. Christus se eerste wonderwerk was inderwaarheid om water in wyn te verander – die beste wat hulle al ooit geproe het. Jesus is ‘n verskaffer van vreugde en wanneer jy aan Hom gekonnekteer bly, sal jy sy vreugde, ongeag jou omstandighede, ervaar. Hy het in Johannes 15:11 gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (NLV).

Dink vir ‘n oomblik hieroor: Hoe kan jy rondloop en sê jou sondes is vergewe, dat God jou lei en jou beskerm en dat jy hemel toe gaan – terwyl jy lyk of jy met ‘n emmer asyn gedoop is? Paulus het soveel vreugde in die tronk gehad, dat sy tronkbewaarders vir Christus gewen is en daar ‘n kerk in die keiser se paleis ontstaan het (sien Filippense 4:22).

Mense word altyd meer deur jou houding as jou teologie beïnvloed. Wanneer hulle sien hoe vreugdevol jy in moeilike tye is, sal hulle heel waarskynlik begin wonder wat jou geheim is en dink: ‘Ek het dit wat daardie persoon het, nodig.’ Hulle word dan meer ontvanklik vir die waarheid. Die vreugde wat hierdie wêreld bied, is net ‘n reaksie op omstandighede, terwyl die vreugde wat uit ‘n lewe met Jesus spruit, jou bo die omstandighede uitlig. Fokus dus op sy vreugde, put krag uit sy vreugde en demonstreer vandag sy vreugde aan die wêreld.

Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20

God sal jou nog ‘n kans gee

2022-02-19
Jeremia 29:13 NLV

Omdat hulle ongehoorsaam aan God was, het die Jode sewentig jaar as slawe in Babel deurgebring. Hulle het hulle vreugde, hulle vryheid en hulle identiteit verloor; al die dinge wat die lewe die moeite werd maak. God was egter nie klaar met hulle nie. Hy het vir hulle die volgende gesê: “‘Julle sal 70 jaar lank in Babel wees. Maar… Ek sal julle na julle land toe terugbring. Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister. As julle heelhartig na my soek, sal julle My vind'” (verse 10-13 NLV).

Miskien het jy die pad byster geraak. Wanneer jy egter die Bybelse weergawes van die mense wat God geseën en gebruik het lees, sal jy ontdek dat mislukking nie ongewoon is nie. Die feit is dat daar niks in jou verlede of huidige omstandighede is wat God nie kan gebruik nie. Wanneer ons in hierdie wêreld kom, weet niemand van ons presies wat ons veronderstel is om met ons lewe te doen nie. Jy kan egter begin op die plek waar jy tans is.

Wanneer God jou lewe weer op die regte pad bring, begin Hy deur jou ‘n sin van hoop te gee, want net Godgegewe hoop sal jou deur die rowwe tye staande hou. Indien jy wonder of jy ooit by die plek waar jy veronderstel is om te wees gaan uitkom, gaan terug en lees weer wat God vir sy mense beloof het: ‘…hoop vir die toekoms…’ (vers 11 NLV). Die God wat vir Israel nog ‘n kans gegee het, sal dieselfde vir jou doen wanneer jy na Hom toe draai.

Sielskos: Jes 49-52; Luk 10:25-37; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Vier Kersfees! (1)

2021-12-25
Hosea 14:8 DB

Die woord ‘vier’ beteken om te verbly, te verlustig en te waardeer. Jack Hayford skryf: ‘Daar is so baie wat in die naam van Kersfees gedoen word wat Christus nie verbly of eer nie. Desondanks bevind ek myself waar ek teen godsdienstige mense wat glo dat amper elke Kerstradisie verkeerd is, stry. Hulle is teen versierings, kersbome, of sommer net pret, asof sulke deelname iets heiligs besoedel. Sulke harde sienings is egter onnodig. ‘n Kersboom is ‘n spesifieke stelling. Deur middel van hierdie boom sê ons dat ons in die viering van Kersfees glo. Ons dien ‘n God wat ‘…aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet’ (1 Timoteus 6:17 NLV), en wat deurgaans in die geskiedenis deel van sy volk se feesvieringe is: ‘Hulle het in die Here se teenwoordigheid feesgevier en gedrink en was daardie dag vol vreugde…’ (1 Kronieke 29:22 NLV).

Alhoewel niemand kan sê dat die Bybel ons beveel om kersbome te hê nie, kom ons met vreugde rondom ons bome bymekaar. Ons sien sy lewendige takke as ‘n simbool van die ewige lewe wat Jesus se dood aan die kruis vir ons gegee het. Hy het vir ons vergifnis en ewige hoop gegee. Die kersliggies is ‘n getuienis van sy lig in die wêreld en van sy heerlikheid. Die ornamente reflekteer die dekoratiewe prag waarmee sy goedheid ons lewens versier. Die ster straal hoop uit en herinner ons dat die Here weer sal kom om ons te ontvang.’

Soos julle hierdie Kersfees om die boom bymekaarkom, moenie vergeet om die Een wat: ‘…Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’ (Johannes 8:12 NLV), gesê het, te vier nie.

Sielskos: Jes 9:1-7; Matt 1:18-25; Miga 5:2-5a; Jes 7:14