Die vreugdes van die hemel (3)

2023-03-28
Openbaring 21:4 NLV

Soms beskryf ons die dood as ‘om die Jordaan oor te steek,’ omdat die Jordaanrivier in die Dooie See uitloop. Daar word ‘n verhaal van ‘n bejaarde Christelike dame wat besig was om te sterf, vertel. Vir die meeste van haar lewe was sy aan haar bed of haar rolstoel vasgekluister. Die familie het bymekaargekom om van haar afskeid te neem. Terwyl hy haar hand vashou, het een van haar kleinseuns gevra: ‘Ouma, is Ouma bang om dood te gaan?’ Met trane van vreugde het sy geantwoord: ‘Nee, ek is nie bang vir die dood nie, want my Vader besit aan beide kante van die rivier land.’

Wat ‘n antwoord! In die hemel sal daar nie siekte, depressie, pyn, eensaamheid, vrees, smart of enige van die dinge wat die lewe op aarde so moeilik maak, wees nie. God se Woord sê: ‘Maar die Son van Geregtigheid, met genesing in sy vlerke, sal opkom vir hulle wat eerbied en respek vir My het…’ (Maleagi 4:2 NLV). Jesaja skryf: ‘Dié wat die Here bevry het, sal terugkeer na Sion. Hulle sal sing van blydskap, hulle sal vol vreugde wees, ellende en smart sal verdwyn’ (Jesaja 35:10 NLV).

Wanneer ons ‘n geliefde aan die dood afstaan, wonder ons of ons hulle in die hemel sal sien en sal herken. Ja! Jy sal nie minder in die hemel weet as wat jy op aarde geweet het nie. Paulus skryf: ‘Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan’ (1 Korintiërs 13:12 NLV). Die hemel sal die grootste familiereünie van alle tye wees. Die beste deel daarvan: Ons sal nooit weer van mekaar geskei word nie.

Sielskos: Job 32-34; Luk 21:25-38; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29

Die vreugdes van die hemel (1)

2023-03-26
Filippense 3:20 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n pastoor wat vir sy gemeente gevra het: ‘Wie van julle wil hemel toe gaan?’ Almal, behalwe een klein seuntjie, het hulle hande opgesteek. Die pastoor het gesê: ‘Seun, wil jy nie hemel toe gaan nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, maar ek dog jy maak ‘n groep bymekaar om nou dadelik te gaan!’

Kom ons wees eerlik, totdat ‘n geliefde sterf of ons oud word en voel dat ons ons opdrag hier op aarde voltooi het, dink of praat ons nie baie oor die hemel nie. Dan voel ons hoe die hemel ons begin aantrek. Ons moet so voel. Ons sal gemiddeld so sewentig of tagtig jaar hier deurbring, terwyl ons die ewigheid in die hemel sal deurbring. ‘Daarna sal ons… vir altyd by Hom… wees’ (1 Tessalonisense 4:17 NLV).

Hier op aarde kry ons ‘n gemengde telkaart; soms doen ons goed, ander kere nie so goed nie. In die hemel sal ons egter net soos Jesus wees. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie…’ (Filippense 3:20-21 NLV).

C.S. Lewis het geskryf dat in die hemel sal elkeen van ons “‘n skitterende, stralende, onsterflike skepsel, wat deurgaans pols met sulke energie en vreugde en wysheid en liefde as wat ons ons nie nou kan voorstel nie,” wees. Al die patriarge, profete en predikers in die Bybel het na die hemel verlang. Sagaria het dit as volg beskryf: ‘…Hulle sal ook soos ‘n juweel in ‘n koning se kroon wees. Hulle sal blink en skitter in sy land’ (Sagaria 9:16-17 DB).

As jy vandag sou sterf, sal jy hemel toe gaan? Jy kan, deur jou vertroue in Jesus Christus te plaas.

Sielskos: 1 Kon 17:1-24; 1 Kor 12

Jou beker vol seëninge

2023-03-11
Psalm 23:5 NLV

Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, wat U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge’ (verse 4-5 NLV).

God het nie beloof dat jy nie met die dood, of vrees, of die bose, of vyande te doen sal kry nie. Hy het eenvoudig gesê dat ten spyte daarvan, of selfs soms te midde daarvan, jou beker vol seëninge sal wees. Paulus skryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Hy deurweek jou met vreugde en vrede, sodat ‘…julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Hy gee jou vreugde in oorvloed, sodat ‘…julle… die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde [kan] bring nie’ (1 Petrus 1:8 NLV). Hy gee jou oorvloedige vrede – Hy gee ‘…God se vrede… Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV).

Wanneer jy dus sukkel om met jou salaris uit te kom, of die toekoms vrees, kyk in die spieël en sê: ‘God is my bron; ek het meer as genoeg, my beker is vol seëninge.’ Moet dit ook nie net in tye van nood of krisis doen nie; maak dit ‘n gewoonte wat jy elke dag uitoefen.

Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20

Jy moet jou seisoen ken

2022-12-02
Prediker 3:1 NLV

Wanneer God vir jou ‘n visie gee moet jy voorbereid wees om ‘n paar trane te stort, omdat elke visie teen ‘n prys kom. Die pad na oorwinning is vol toetse en beproewings. Niemand word daarvan kwytgeskeld nie. God het egter belowe dat daar ‘n oes sal wees: ‘Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak dra, sal sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra’ (Psalm 126:5-6 NLV).

Die Skrif leer ons twee dinge: 1) Daar is ‘n tyd om te huil. Dit is nie ‘n verskoning vir passiwiteit, of ‘n houding van swakheid wat jou tot trane reduseer omdat die lewe nie regverdig is en dinge moeilik is, nie. Nehemia is tot trane deur die puinhoop van Jerusalem gedryf. Toe het hy egter ‘n plan ontwikkel, ‘n span bymekaar gekry en dit herbou. Waaroor voel jy passievol? Wat dryf jou?

2) Daar is ‘n tyd om te oes. Alles in die lewe het ‘n rede en ‘n seisoen (sien Prediker 3:1-8). Wanneer jy die rede verstaan en die meeste uit die seisoen put, word jy ‘…soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd…’ (Psalm 1:3 NLV). Let die woorde: ‘op die regte tyd,’. Vrugte sal nie voor hul tyd groei nie. Dis hoekom jy onderskeid tussen jou lewe se veranderende seisoene moet tref en by hulle moet aanpas.

Dis veral waar wanneer dit oestyd is. Jy moet weet wanneer jy moet ophou huil en begin oes; anders sal jy die oes misloop. Trane is vir die saaier, maar vreugde is vir die maaier. Wanneer jou seisoen dus begin verander, oes jou lande met vreugde. Jy het jou ledegeld betaal; nou is dit tyd om dit wat God vir jou beloof het, te geniet.

Sielskos: 2 Kron 32-34; Joh 12:37-50; Ps 146; Spr 28:9-12

Onvoorwaardelike blydskap

2022-06-15
1 Johannes 1:3-4 NLV

Wanneer blydskap in jou lewe afwesig is, is krag ook afwesig (sien Nehemia 8:10). Ons vreugde moenie op dit wat om ons gebeur gebaseer word nie; dit moet van ons verhouding met Jesus afhanklik wees. Johannes sê: ‘…ons blydskap [kan] tot sy volle verwesenliking… kom’ (1 Johannes 1:4 NLV).

Pastoor Reimar Schultze merk op: ‘Johannes het dit nie gesê toe alles goed gegaan het nie, maar toe alles in duie gestort het.
1) Al sy mede-apostels is vermoor.
2) Rome het die tempel vernietig sodat daar nie een steen op ‘n ander een oorgebly het nie. Flavius Josefus, ‘n ooggetuie, het geskryf: ‘Die menigte wat omgekom het, het al die verwoesting wat mense of God al ooit oor die wêreld gebring het, oortref.’
3) Baie Jode en Christene het vlugtelinge geword. Die gemiddelde lewensverwagting was omtrent veertig jaar en 25 persent van die mense in Rome, was slawe.
4) Johannes het self as veroordeelde misdadiger op die eiland Patmos gebly. Hy het geen aardse gemak gehad nie; geen versekering dat hy nog ‘n dag sou oorleef nie. Toe sy beker van smart vol was, het God hom opdrag gegee om vir die wêreld die absolute mag en triomf van die Christendom oor alles te wys. Johannes se geskrifte, met verwysing na ons daaglikse wandel, sluit alles wat die hemel in die Woord wou openbaar af: as ons deel van die apostoliese gemeenskap is, sal ons blydskap tot sy volle verwesenliking kom.’

Die Psalmdigter het dit die beste gesê: ‘…in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV).

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 18:1-9; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12