2019-10-28
Daniël 4:25 NLV
As iemand wat in die Bybel glo, is daar drie woorde wat nie in jou woordeskat moet wees nie: geluk, toeval en lot. Vervang hulle eerder met die woord voorsienigheid, wat beteken dat daar vooruit gesien en voorsien word. Die Westminster geloofsbelydenis, wat in die sewentiende eeu geskryf is, verklaar: ‘God, die groot Skepper van alle dinge, dra, bestuur, skik en regeer alle skepsels, dade en dinge, van die grootste tot selfs die kleinste, deur sy alwyse en heilige voorsienigheid, volgens sy onfeilbare voorkennis…’ Dit beteken dat God, nie ons nie, in beheer is! Wat dan van die menslike wil? Kan ons nie onafhanklik optree nie? Die teoloog dr R.C. Sproul het geskryf: ‘God se soewereine voorsiening is verhef bo ons dade. Hy werk sy wil uit deur die optrede van menslike wil, sonder om die vryheid van daardie menslike wil te oortree.’ Kyk na Josef. Sy broers het hom probeer vernietig, maar in plaas daarvan het hulle aksies hom op die troon van Egipte geplaas en God se wil vervul. Later het hy gesê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is’ (Genesis 50:20 NLV). Judas se gruwelikste daad het die beste ding wat ooit gebeur het meegebring – Christus se versoening van ons sondes aan die kruis. Voel jy verward deur die dinge wat om jou aan die gang is? Een rede is omdat ons net omtrent 10 persent van ons geestelike potensiaal gebruik. Paulus wys ons ook daarop dat ons maar net ten dele ken (sien 1 Korintiërs 13:9 NLV). Wanneer ons in die hemel kom mag God dit dalk alles verduidelik – of nie. Tot dan, vertrou Hom. Verbly ook jouself, want Hy hou die hele wêreld in sy hande – insluitend vir jou!
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 7:25-44; Ps 104:27-35; Spr 24:29
2019-10-07
Nehemia 4:9 DB
God se soewereiniteit onthef ons nie van enige verantwoordelikheid nie. Die teenoorgestelde is waar. Dit bekragtig dit. Wanneer ons God vertrou, dink ons helder en reageer ons meer beslissend, soos Nehemia wat gesê het: ‘Maar ons het aanhoudend tot ons God gebid en dag en nag soldate op die mure laat wag staan.’ Nehemia het twee dinge gedoen. Hy het God vir sukses vertrou en op dit wat God vir hom gesê het om te doen, gereageer. Gebed nooi God uit om dinge te doen wat jy nie kan doen nie. Paulus het geskryf: ‘Moenie ophou bid nie’ (1 Tessalonisense 5:17 NLV). God kom die situasie deur uitnodiging binne. Totdat jy God se leiding soek, is jy aan die genade van jou eie en almal anders se gedagtes, uitgelewer. Hoekom sal jy met menslike kennis tevrede wees wanneer jy bonatuurlike insae kan hê? God het gesê: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie’ (Jeremia 33:3 NLV). Wanneer God dan sy wil aan jou openbaar, moenie talm nie en moenie debatteer nie – doen dit! Voor God vir jou sy volgende stel instruksies gee, wil Hy weet dat jy sy vorige instruksies gehoorsaam het. Hoekom? Omdat Hy jou nie verder as jou laaste daad van ongehoorsaamheid kan seën nie. Stop dus en dink daaroor. As jy die verkeerde ding gedoen het, bely dit, verander jou koers en kom weer so gou as moontlik op die regte pad. “Wat Ek beveel het, was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan'” (Jeremia 7:23 NLV).
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14
2019-10-05
1 Samuel 23:16 NLV
Die eerste swart man wat in die Amerikaanse bofbal liga gespeel het, se naam was Jackie Robinson. Hy het in elke stadion voor beledigings en mishandeling te staan gekom terwyl hy probeer het om deur bofbal se kleurgrens te breek. Een dag in sy tuisstadion in Brooklyn, het hy ‘n fout begaan. Terwyl die skare hom uitgejou het, het Robinson vernederd by die tweede bof gestaan. Sy spanmaat, Pee Wee Reese, het na hom gehardloop, sy arm om hom gesit en saam het hulle die skare aangekyk. Binne sekondes het die toeskouers stil geword. Jare later, toe Robinson vir sy loopbaan vereer is, het hy gesê: ‘Reese se arm om my skouer daardie dag, het my loopbaan gered.’ Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën, daarom het Hy genade aan Petrus bewys nog voordat dit gebeur het. Hy het vir hom gesê: ‘…As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:32 NLV). Wanneer God jou herstel, sal jy na ander met sy liefde wil uitreik. Jy sal volgens die Skrif lewe: ‘Versterk die moeë hande van dié wat moeg geword het. Bemoedig dié wie se knieë swak word en knik. Sê vir dié wat bang is: ‘Wees sterk en moenie bang wees nie. Want julle God kom… om julle te red!’ (Jesaja 35:3-4 NLV). Dawid se goeie vriend, Jonatan, ‘…het na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou.’ Wanneer jy verlore voel, het jy ‘n Jonatan nodig. Dis wanneer die ou spreekwoord: ‘In voorspoed ken ons vriende ons, in teenspoed ken ons ons vriende,’ waar word. Hulle is die mense na wie ons in moeilike tye draai. As jy dus dink dat jy ooit so ‘n vriend nodig sal hê, wees een!
Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 2:1-11; Ps 110; Spr 23:6-9
2019-04-25
Job 23:10 NLV
Dis ‘n fout om jou met ander mense te vergelyk, omdat God ‘n plan vir jou het wat uniek en persoonlik is. Sy metodes mag dalk soms vreemd en sy opleiding moeisaam lyk, maar sy resultate is altyd die wag werd. Sonder swendelary en speletjies vervul Hy sy doel in ons lewens en al wat Hy van ons vra, is om te vertrou en gehoorsaam te wees. Dis so eenvoudig. Let drie dinge op wat Job, te midde van onnoembare hartseer en moeilikheid, oor God gesê het: 1) ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan!’ Die pad waarop jy vandag is, is die een wat God vir jou gekies het en Hy maak nooit foute nie. Selfs wanneer jy nie weet waar Hy is nie, weet Hy waar jy is omdat Hy nooit sy oë van jou afhaal nie. 2) ‘Wanneer Hy my toets.’ Die woord ‘wanneer’ beteken dat God ‘n spesifieke tyd gekies het waarin jy getoets sal word en dat daar ‘n spesifieke tyd is wanneer jy uit die toets gebring sal word. Is jy nie bly dat dit Hy, eerder as mense, is wat jou toets nie? Sal jy enigiemand anders as Hom vertrou om jou deur hierdie leerkurwe te bring? Natuurlik nie. 3) ‘Soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar.’ Wanneer God jou klaar gesuiwer het en die onsuiwerhede uit jou lewe verwyder het, sal jy soos helder en kosbare goud skyn. Die proses volg altyd op die belofte. Ander mense mag dalk selfs vra of jy dieselfde persoon is. Wanneer hulle dit vra, antwoord net eenvoudig: ‘Nee!’
Sielskos: Num 7; Mark 1:21-45; Ps 94:12-23; Spr 10:27
2019-02-04
Handelinge 27:25 NLV
Op pad na Rome het Paulus ‘n verwoestende storm ervaar. Sy verhaal leer ons drie waardevolle lesse: 1) Jou ongehoorsaamheid kan ‘n storm veroorsaak. Omdat die kaptein nie na Paulus se waarskuwing wou luister nie, het hy sy skip, sy vrag en amper sy lewe verloor. Jou ongehoorsaamheid kan ‘n storm in jou gesondheid, jou finansies, jou familie of jou loopbaan ontketen. God begin nie sy gebooie met, ‘As jy lus is, moet jy die volgende doen,’ nie. Nee. Hy bedoel wat Hy sê en Hy sê dit vir jou eie beswil, gee dus aandag! 2) Jy is nie alleen in die storm nie. God is met jou. Paulus het gesê: ‘Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus… om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is. Daarom, hou moed, manne!..’ (verse 23-25 NLV). Met God aan boord, is daar nie ‘n storm wat sterk genoeg is om jou te sink nie. 3) Wanneer jy op God se beloftes staan, het jy sy outoriteit. Paulus het dalk soos ‘n gevangene gelyk, maar in realiteit het hy meer mag as die kaptein gehad. Alhoewel hy met kettings geboei was, was hy die vryste man op die skip. Wanneer jy duidelik van God gehoor het, kan jy enige situasie hanteer, omdat sy Woord sê: ‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie. Elke aanklag teen jou, sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van die Here…’ (Jesaja 54:17 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Hou aan om op God te vertrou en Hy sal jou deur hierdie storm bring!
Sielskos: Gen 10-12; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32