God wil jou vry maak

2017-07-08
Spreuke 14:12 NLV

Het jy al ooit gesien hoe ‘n veearts ‘n beseerde dier hanteer? Alhoewel die veearts net geïnteresseerd daarin is om te help, verstaan die dier nie omdat hy net op sy pyn gefokus is. As gevolg daarvan, probeer die dier die einste persoon wat hom probeer help, bykom. Is dit wat tans besig is om in jou lewe te gebeur? Miskien het mense wat hulself Christene noem, jou seergemaak. Jy het nie verwag dat hulle diegene sou wees wat jou sou seermaak nie. Jy kon so seergemaak gewees het, dat jy niemand meer vertrou nie – nie eers God nie. Jy het dalk nie gesê, ‘Here, ek vertrou U nie,’ maar jou dade spreek harder as jou woorde. Jy vermy dit om sy Woord te lees om ‘n antwoord te kry. Jy bid nie en laat niemand anders toe om vir jou te bid nie. Jy beweeg van een verhouding na die volgende. Jy probeer alkohol of dwelms wat jou gemoed verander. Jy spandeer ure daaraan om televisie te kyk of op die internet rond te swerf – en party dinge waarna jy kyk skend jou gewete en laat jou slegter voel. Wat is die antwoord? 1) Draai na God toe. Gee vir Hom ‘…al julle bekommernisse… want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Gee vir Hom jou pyn, jou mislukkings en jou struikelblokke. 2) Vergewe die persoon wat jou seergemaak het. Deur obsessief te wees oor wat hulle jou aangedoen het of deur wraak te probeer neem, hou jy hulle net aan jou vasgeketting. Vergifnis breek egter die ketting en maak jou vry. Deur jou eie krag mag jy dalk iets doen om jou pyn te verminder. Net God kan egter die wortel van die pyn uitroei en jou oorwinnend jou toekoms laat instap.

Sielskos: Ef 1:1-4:16; Mat 24:26-35; Ps 79; Spr 17:24-26