Vergewe omdat jy vergewe is

2021-02-05
Matteus 18:33 NLV

Jesus het gesê: ‘Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld. Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld. Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal. Hy val toe voor die koning neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’ Daarop het die koning hom innig jammer gekry. Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ‘n paar rand geskuld het. Hy… sê: ‘Betaal jou skuld!’ Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal.’ Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie. Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi… Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle uitermate ontsteld. Hulle het alles wat gebeur het toe aan die koning gaan vertel. Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê: ‘Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek vir jou jammer gekry het nie?’ Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het. So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe’ (verse 23-35 NLV).

As jy vandag wraak in jou hart koester en weier om iemand te vergewe, lees weer hierdie verhaal. Dis die woord vir jou vandag!

Sielskos: Jes 63-66; Matt 12:38-50; Ps 120; Spr 3:33-35

Krag deur mededeling

2021-02-02
Handelinge 19:18 NLV

Met betrekking tot die kerk in Efese, skryf Paulus: ‘Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely… So het die Woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword’ (verse 18-20 NLV). Geestelike genesing vind in kerke soos dié plaas. Wanneer jy dus in dieselfde patroon van sonde en mislukking vasgevang is, moet jy volwasse, toegewyde Christene soek wat nie deur jou probleem geskok sal word nie, wat nie jou vertroue sal skend nie en wat weet hoe om vir jou en saam met jou te bid.

Jesus het sy volgelinge die outoriteit gegee om belydenisse aan te hoor en genade uit te spreek. ‘Wie se sondes julle ook al vergewe, dit word hulle vergewe; wie s’n julle ook al handhaaf, word gehandhaaf’ (Johannes 20:23 NLV). ‘n Geestelike katarsis vind plaas wanneer iemand jou in die oë kyk en sê: ‘God vergewe jou, ek vergewe jou, vergewe nou jouself en wandel in God se vergifnis!’ Vergifnis is so ‘n sterk krag dat dit genesing kan fasiliteer.

Jakobus skryf: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige uitwerking’ (Jakobus 5:14-16 NLV). Indien jy nie seker is met wie jy moet praat, of wie jy kan vertrou nie, begin by jou pastoor.

Sielskos: Jes 49-52; Matt 12:1-14; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Raak ontslae daarvan

2020-12-16
Efesiërs 4:31 NLV

Die woorde: ‘Raak ontslae van alle bitterheid,’ roep die beeld op van ‘n sjirurg wat ‘n kwaadaardige groeisel uitsny om die persoon se lewe te red. ‘n Ander vers: ‘…Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV), beveel ons om waaksaam te wees, omdat ‘n klein saadjie bitterheid wortel kan skiet en probleme veroorsaak.

Bitterheid het baie oorspronge: ‘n afwesige of skellende ouer wie ons nie kan vergewe nie; ‘n aaklige skeisaak wat ons aanhou herleef; die sorgelose fluistering van ‘n vriend wat nie eers bewus is van die effek daarvan op jou nie; ‘n baas wat ons vir bevordering oorgesien het.

Wat is die antwoord? Paulus skryf: ‘…Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:32 NLV). Hoe gouer jy dit doen, hoe beter! Die swaarste ding wat jy ooit sal ronddra, is ‘n wrok. Jou primêre begeerte sal dan wees om die skuldige party aan die pen te laat ry, veral wanneer jy of jou geliefde die slagoffer is.

Satan kom dan die situasie binne en oortuig jou dat dit reg is dat jy ‘n wrok koester. Jy beskerm mos net jouself sodat jy nie weer seerkry nie, nie waar nie? Wanneer dit gebeur, skop jy vas, jy probeer jou posisie regverdig en jy raak gemaklik daarmee om met bitterheid saam te lewe. Totdat dit jou vernietig.

Dit hoef egter nie met jou te gebeur nie, omdat daar geen emosie is wat so diep wortel geskiet het dat God se genade dit nie kan bereik en verwyder nie. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Raak ontslae van alle bitterheid.’

Sielskos: Neh 8-10; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23

Die leeu en die lam

2020-07-20
Efesiërs 4:2 NLV

Een dag het ‘n leeu ‘n tier in die oerwoud raakgeloop. Hy het die tier se stert gegryp en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die tier het gedwee geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Volgende het die leeu ‘n apie gegryp en gevra: ‘En wie sê jy is die koning van die oerwoud?’ Die apie het nederig geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Toe het die leeu ‘n olifant raakgeloop en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die olifant het hom met sy slurp opgetel, in die lug rondgeswaai en hom teen ‘n boom vasgegooi, waar hy bloeiend en gebroke in ‘n hopie neergeval het. Die leeu het stadig opgestaan, sy wonde gelek en vir die olifant gesê: ‘Dis nie nodig om so rof te raak net omdat jy nie die antwoord ken nie.’ Die les uit hierdie verhaal is: Hoe groter jou gesag is, hoe genadiger moet jy teenoor ander mense wees. In die Skrif word daar na Jesus as die leeu en die lam verwys; Hy is die Leeu van die stam Juda en die Lam van God. Hierin wys Hy vir ons die kern van ware krag en leierskap. Wanneer jy vir die waarheid opstaan, moet jy soos ‘n leeu brul, maar wanneer jy met mense te doen kry, moet jy so sag soos ‘n lammetjie wees. Paulus spel dit duidelik in hierdie Skrifgedeelte uit: ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld, moet julle mekaar in liefde verdra.’ Weer skryf hy: ‘Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV).

Sielskos: Hand 8-9; Luk 8:26-39; Ps 146; Spr 16:4-5

Bid vir geestelike insig

2020-07-17
Spreuke 20:5 NLV

Die mense wat Simon geken het, het geweet dat hy impulsief was en geneig was om te praat voor hy dink. Jesus het egter iets anders in hom gesien; dis hoekom Hy hom Petrus hernoem het, met die implikasie dat hy ‘n rots is wat vir ‘n fondasie geskik was. Kan jy jou die kyk op die ander dissipels se gesigte indink toe Jesus gesê het: ‘…Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie’ (Matteus 16:18 NLV)? Petrus het toe ‘n steunpilaar, ‘n gerespekteerde leier en stigter van die kerk geword, as gevolg van Christus se vermoë om verby die oppervlak te kyk en te sien wat aan die binnekant is. Ons het wonderbaarlike potensiaal omdat ons volgens God se ewebeeld gemaak is, maar soms moet ‘n ‘verstandige’ persoon dit herken en na vore bring. Te veel van ons sien net wat op die oppervlak is. Ons is dus vinning om iemand as arrogant, of humeurig, of swak te etiketteer. Wanneer jy egter geestelike insig het, kyk jy verby dit, na die hoop en vrese agter die persoon se gedrag. Ons het nie nog selfaangestelde kritici nodig nie, ons het die volgende nodig: 1) Ouers wat vir hulle kinders bid, verby hulle foute kyk en hulle uniekheid na vore bring. 2) Eggenote wat na die verborge skatte in hulle huweliksmaats soek. 3) Besigheidsleiers wat hulle werkers met respek behandel en hulle verantwoordelikhede by hulle talente laat pas. 4) Gelowiges wat onvolwasse, struikelende mede-Christene vergewe en werk om hulle te ontwikkel. 5) Gelowiges wat verlore mense deur Jesus se oë sien en weet wat sy transformerende krag kan vermag. Bid dus vir geestelike insig.

Sielskos: Hand 3:11-5:42; Luk 8:1-15; Ps 133; Spr 16:2