Vergewe ander mense (1)

2022-02-25
Romeine 12:19 NLV

Lank nadat jy gedink het jy het iemand vergewe, mag jy steeds harde gevoelens koester. Jy dink en praat byvoorbeeld die heeltyd oor die insident. Jy neem elke geleentheid waar om hulle aan dit wat hulle gedoen het, te herinner. Jy is dan besig om ‘n onvergewensgesinde houding te regverdig! Daar is twee dinge wat God nie sal deel nie.

1) Die eer en lof wat Hom toekom. ‘…My eer deel Ek met niemand anders nie. Die lof wat My toekom, deel Ek nie met afgode nie’ (Jesaja 42:8 NLV).

2) Die reg om te vergeld. Paulus skryf: ‘Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.’ Doen eerder wat die Skrif sê: ‘As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.’ Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:19-21 NLV).

Vergewe dus, gee die situasie aan God oor en vertrou Hom om dit uit te werk. ‘Toe [Jesus] beledig is, het Hy nie terugbeledig nie…Hy het alles oorgelaat aan God wat altyd regverdig oordeel’ (1 Petrus 2:23 NLV). Wrokkigheid ketting jou aan die oortreder vas en jy eindig as ‘n gyselaar op. As jy aanhou dink aan iets wat jou ouers of eggenoot gedoen het, of hoe ‘n kollega krediet vir jou werk geneem het, of dit wat iemand dalk oor jou gesê het, laat dit jou – nie hulle nie – ellendig voel. Moenie enigiemand daardie tipe beheer oor jou lewe gee nie. Vergewe – en beweeg dan aan!

Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11

Gaan terug en maak dinge reg

2022-01-13
Psalm 78:4 NLV

‘n Nalatenskap, goed of sleg, is iets wat een persoon aan ‘n ander persoon agterlaat. Ek hoop dat God, met tyd, jou seerkry genees het en dat jy aanbeweeg het, maar wat laat jy na? Die harde woorde wat jy gespreek het was dalk toe van pas, maar nou sien jy dinge duideliker. Dis wonderlik wanneer jy van wrokkigheid tot vergifnis kan beweeg – maar het jy wonde wat nog nie gesond geword het nie, agtergelaat?

Jakobus skryf: ‘…wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie’ (Jakobus 1:19-20 NLV). Jou woorde kan blywende skade aanrig en jy behoort daaroor besorg te wees. Paulus skryf: ‘Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se onverdiende goedheid verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV).

Het jy sade geplant wat veroorsaak het dat ‘n giftige loot in iemand anders se hart opskiet? Indien moontlik, moet jy vrede maak deur vergifnis te vra en die saak te probeer regstel. Jesus het gesê: ‘As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:23-24 NLV). Dr Dale Turner skryf: ‘Dis die hoogste vorm van selfrespek wanneer ons ons foute erken en dit regstel. ‘n Fout is net ‘n oordeelsfout, maar om daarby vas te staan wanneer dit as ‘n fout ontbloot word, toon ‘n swakheid van karakter.’

Sielskos: Gen 28:1-30:24; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6

Die redes vir jou ontevredenheid

2021-12-01
Jeremia 2:13 NLV

Kom ons neem ‘n oomblik en probeer om die redes vir ons ontevredenheid te verstaan: 1) Ons soek geluk op die verkeerde plekke. God het gesê: ‘My volk het twee sondes gedoen: Hulle het My verlaat, die fontein wat lewe gee, en hulle het vir hulle bakke uitgekap, bakke wat nie water hou nie’ (vers 13 NLV). Daar is ‘n leegheid binne jou wat slegs God kan vul. Hy sal dit doen, mits jy Hom innooi.

2) Ons staan nie in diens van ander nie. Hoe ons ander mense behandel, is dikwels ‘n refleksie van hoe ons oor onsself voel. Die filosoof en digter Eric Hoffer het gesê: ‘Die merkwaardige ding is dat ons werklik ons naaste liefhet soos onsself; ons doen aan ander soos ons aan onsself doen. Ons haat ander wanneer ons onsself haat. Ons is verdraagsaam teenoor ander wanneer ons onsself verdra. Ons vergewe ander wanneer ons onsself vergewe. Ons is geneig om ander mense op te offer, wanneer ons gereed is om onsself op te offer. Dis nie net self-liefde nie, maar ook self-haat wat die wortel is van die probleme wat ons wêreld teister.’

3) Ons vergelyk onsself met ander. Paulus het geskryf: ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle…’ (Romeine 12:15 NLV). Wanneer jy oor iemand anders se prestasies of seëninge wrokkig is, sypel vreugde soos deur ‘n sif uit jou lewe uit. Die Bybel sê: ‘Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam… Ons het gawes wat van mekaar verskil… Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:4-6 NLV).

Sielskos: Jos 11-13; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 28:13-16

Hoe om jouself te beskerm wanneer jy eensaam is

2021-09-26
Psalm 25:16 NLV

Dawid, wat owerspel met ‘n ander man se vrou gepleeg het, het gebid: ‘Draai u gesig na my en bewys genade aan my, want ek is alleen en in diepe nood. Die kwellinge van my gedagtes word al meer. Verlos my tog uit hierdie ellende!.. Kyk hoeveel vyande is teen my, hoe hulle my haat met venyn! Beskerm my en red my! Bewaar my van vernedering, want ek vertrou op U. Mag opregtheid en eerlikheid my beskerm, want ek wag op U’ (verse 16-21 NLV). Hoe kan jy jouself in areas waar jy weerloos is, beskerm?

1) Deur naby aan God te bly. Wanneer jy eensaam is, maak dit nie sin om jouself van God af te sonder nie. Dit verhoog net jou blootstelling aan dinge soos ontrouheid, pornografie, dwelms en alkohol.

2) Deur nie meer weg te kruip nie. Raak betrokke by ‘n aspek in die bediening. Wees gewillig om meer toeganklik te wees, deur ander mense te leer ken en hulle toe te laat om jou te leer ken. Wanneer jy tyd met mense bestee wat waarlik vir jou omgee, hou eensaamheid op om so ‘n groot kwessie te wees.

3) Deur die fokus van jouself af te neem. Winston Churchill het gesê: ‘Ons maak ‘n bestaan deur dit wat ons kry, maar ons maak ‘n lewe deur dit wat ons gee.’ Oorwinning vind plaas wanneer jy na mense in nood uitreik; jouself vir hulle gee, vir hulle bid, vir hulle lief is en hulle dien.

4) Deur diegene te vergewe wat jou seergemaak het. Wanneer jy jouself isoleer nadat jy seergekry het, lei dit net tot bitterheid. Vergewe, gee dit aan God oor, laat Hom toe om jou oortreder te hanteer – en gaan met jou lewe aan.

Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1

Omskep jou verlies in wins (2)

2021-04-15
Matteus 3:8 NLV

Toe Israel se leiers na Jefta vir hulp gedraai het, was hulle in nood en wou hulle hom ‘gebruik.’. Dus het Jefta in wese gesê: ‘Kom ons verstaan mekaar mooi oor die tipe verhouding wat ons gaan hê.’ Op daardie punt het hy met hulle onderhandel en het in die hoogste leierskapsposisie geëindig.

Wanneer jou vertroue geskend word, moet jy vergewe. Deur dit te doen, maak jy jouself vry. Jy moet egter wysheid aan die dag lê om vorentoe te beweeg. God verwag nie van jou om jouself in ‘n posisie te sit waar jy weer seergemaak kan word nie.

Miskien het jy al die storie gehoor van die man wat met ‘n ernstige brandwond op sy regteroor dokter toe is. Hy het verduidelik: ‘Ek was besig om te stryk en televisie te kyk toe die foon lui en toe tel ek die strykyster in plaas van die foon op.’ Die dokter het verbaas gevra: ‘Maar hoe het jy die brandwond op jou linkeroor opgedoen?’ Die man het uitgeroep: ‘Want hy het weer gebel!’

Wanneer jy deur iemand seergemaak word, moet jy versigtig wees om jouself nie weer in ‘n situasie te plaas waar hulle jou oor en oor kan seermaak nie. Vergifnis moet onmiddellik wees, maar vertroue moet verdien word. Jou oortreder moet die vrugte van sy bekering wys – konsekwente gedrag wat bewys dat hy of sy verander het. Jesus het gesê: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.’

Jy benodig twee dinge: genade en wysheid. Genade beteken dat jy aan ander dieselfde vergifnis bewys wat God aan jou bewys het. Wysheid beteken dat jy weet watter tipe verhouding jy in die toekoms met daardie persoon kan hê.

Sielskos: Fil 1-4; Mark 2:1-12; Ps 43; Spr 10:10