Begin deur te vergewe

2025-01-01
Efesiërs 4:32 NLV

As jy die nuwe jaar graag met ‘n skoon bladsy wil begin en ligter deur die lewe wil reis, moet jy die ou wrokke wat jou afrem laat gaan. Philip Yancey beskryf vergifnis as ‘n ‘onnatuurlike aksie.’ Hy sê: ‘Dis ‘n ‘hond-eet-hond’ wêreld, nie ‘n ‘hond-vergewe-hond’ wêreld nie.’ Bitterheid en haat kom van nature voor wanneer jy seergemaak is. Vergifnis is bonatuurlik en verg God se genade, maar onthou, Jesus het gesê: ‘Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie’ (Matteus 6:15 NLV).

Dink daaroor – daar is nie een enkele, enkelvoudige rede hoekom God ons sondes ooit moet vergewe nie, en tog is die oortredings waarvoor Hy ons elke dag vergewe, veel erger as enigiets waarvoor ons ouers, eggenote of vriende ons moet vergewe. Die Bybel sê: ‘…Vergewe mekaar soos God julle vergewe het…’

Vergifnis maak die tronk, waar jy beide die gevangene en die tronkbewaarder is, se deure oop. Wrokke isoleer jou nie net van mense wat eens op ‘n tyd jou vriende was nie, maar verkort ook jou lewe deur dodelike ensieme te produseer wat tot ‘n magdom fisiese kwale bydra.

Een man het vir sy berader gesê: ‘Ek wens my broer kon na my troue toe kom, maar ons het in jare nie met mekaar gepraat nie.’ Die berader het gevra: ‘Hoekom so?’ Die man het stilgebly en na ‘n rukkie geantwoord: ‘Dit klink nou belaglik, maar ek kan nie eers onthou nie!’

Dis ‘n wetenskaplike feit dat vergifnis jare by jou lewe toevoeg. Wanneer jy met individue praat wat die tagtig-jaar-kerf verby gesteek het, vind jy as ‘n reël dat hulle in vrede met hulself leef, omdat hulle geleer het om te vergewe en te laat gaan.

Sielskos: Jes 1-3; Luk 1:1-10; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4

Moenie in die verlede vasgevang word nie

2024-07-01
Genesis 19:17 NLV

Voor God vir Sodom en Gomorra vernietig het, het Hy engele na Lot en sy familie gestuur om hulle te waarsku om die stad te verlaat: ‘…Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan… Agter hom het Lot se vrou omgekyk en in ‘n soutpilaar verander’ (verse 17,26 NLV). Deur om te kyk, het Lot se vrou ‘n direkte instruksie van God verontagsaam. Gevolglik het sy gesterf – vasgevang in die verlede. Hier is drie belangrike lesse te leer.

1) ‘Moet nêrens in die vlakte stilstaan nie!’ Ons almal gaan deur hoogtes en laagtes, maar jy moet nie in die laagtes vasgevang raak of daar tent opslaan nie.

2) ‘En moenie omkyk nie!’ Die rede hoekom die windskerm van jou kar groter as die truspieëltjie is, is omdat jy veronderstel is om die meerderheid van die tyd vorentoe te kyk en net af en toe terug te kyk sodat jy veilig vorentoe kan beweeg en jou bestemming kan bereik.

3) ‘Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan.’ Wanneer iemand jou seermaak, het jy twee keuses: Om terug te slaan of vorentoe te beweeg. Wanneer jy terugslaan, begin iets geestelik binne jou doodgaan. Wanneer jy egter vorentoe beweeg, word jy sterker, wyser en meer volwasse.

Wanneer jy in die verlede vasgevang word, is dit altyd ten koste van die toekoms. Altyd! God het beter dae en beter dinge vir jou in gedagte. Vergewe dus, vergeet en beweeg vorentoe.

Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 3:11-20; Ps 59:9-17; Spr 16:23-26

Moenie aan woede toegee nie; vergewe hulle

2023-10-19
Job 5:2 NLV

Vir redes wat net aan God en Satan bekend is, het Job sy geld, sy kinders en sy gesondheid verloor. As daar ooit ‘n man was wat rede gehad het om kwaad te wees, was dit hy. Elifas het hom egter die volgende raad gegee: ‘Woede maak ‘n dwaas dood…’ Met ander woorde: ‘Die enigste ding wat my seerder kan maak as wat reeds gebeur het, is om toe te laat dat wrewel my gedagtes regeer en my optrede dikteer.’

Jy sê: ‘Maar ek soek geregtigheid!’ Hoeveel geregtigheid? Stel jou voor dat jou vyand aan ‘n sweeppaal vasgemaak is. Die man met ‘n sweep in die hand draai na jou en vra: ‘Hoeveel houe?’ Jy gee ‘n getal. Die sweep kraak, die bloed vloei en die straf word opgelê. Jou vyand sak op die grond neer. Is jy nou gelukkig? Voel jy beter? Het jy vrede in jou gemoed? Dalk vir ‘n rukkie, maar gou sal jy weer iets onthou en dan sal nog ‘n sweepslag nodig wees.

Wanneer sal dit dan ophou? Dit hou op wanneer jy die woorde van Jesus ernstig opneem: ‘As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie’ (Matteus 6:14-15 NLV).

Wanneer jy bid: ‘Hanteer my soos ek my naastes hanteer’ (sien Matteus 6:12), is jy waarlik bewus van wat jy sê? ‘Gee my wat ek vir hulle gee. Skenk my dieselfde vrede wat ek hulle gun. Laat my dieselfde verdraagsaamheid geniet wat ek hulle bied.’ As jy vrede wil hê, moet jy vrede maak. As jy God se vrygewigheid wil geniet, moet jy vrygewig teenoor ander wees. As jy die versekering van God se vergifnis wil hê, gee vergifnis aan ander.

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 24:1-4

Jy verteenwoordig jou Vader

2023-02-02
Lukas 15:20 ABA

Toe die pa sy verlore seun gesien het, was hy ‘baie jammer vir hom.’ Jack Graham skryf: ‘Dis nie ‘n vader wat nie kan wag om sy sondige seun te straf en wat hom as waardeloos afgeskryf het nie. Dis ‘n liefdevolle, sorgsame vader wat nie kan wag om hom te omhels en te verwelkom nie. Hy hardloop die pad af om hom tegemoet te gaan. Wat jy sien is ‘n beeld van die Vader se liefde vir jou – gretig, buitensporig, toeganklik, oorvloedig.’ ‘…toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen’ (vers 20 NLV). Ons verwag gevoude arms, ‘n frons op die voorkop, ‘n onwillige handdruk, ‘n streng berisping. In plaas daarvan sê sy pa: ‘…Gou, bring die mooiste mantel… ‘n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete. En slag die kalf wat ons in die kraal vet maak…’ (verse 22-23 NVL).’

In daardie tyd het die vader se ring gedelegeerde gesag gesimboliseer. Die een wat dit gedra het, het besigheid in die naam van die een wat dit gegee het, gedoen. Sou jy hierdie verlore seun jou sake laat behartig het? Hom met jou kredietkaart vertrou het?

Toe jy na God toe gekom het, het jy die gesag om besigheid in sy Naam te doen, ontvang. Wanneer jy die waarheid praat, is jy sy ambassadeur (sien 2 Korintiërs 5:20). Jy is sy besigheidsbestuurder wanneer jy die finansies wat Hy aan jou toevertrou het, bestuur. Wanneer jy iemand vergewe, is jy sy priester. Hy het vir jou die voorreg gegee om vir ander te doen wat Hy vir jou doen. Spreek woorde wat ander mense versterk. Hoekom? Omdat jy jou Vader verteenwoordig.

Sielskos: GEN.24:1-25:18; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Leer om jou emosies te beheer

2023-01-06
Genesis 50:21 NLV

Wanneer jy die verhaal van Josef lees, besef jy dat hy alle rede gehad het om woedend, bitter en wraaksugtig te wees oor die veragtelike manier waarop sy broers hom behandel het. Wat doen hy egter? Hy raak nie kwaad nie en neem nie eens wraak nie. Hy help die hele Egipte, die land wat hom ‘n slaaf gemaak het en hom onskuldig in die tronk gestop het, om hongersnood te oorleef. Hy help sy familie wanneer hulle kos kom bedel. Hy vergewe en sodoende word hy van sy negatiewe emosies bevry.

Hy het die kwessies van die verlede agtergelaat, nie toegelaat dat dit hom van sy lotsbestemming weerhou nie en in God se guns gebly. As tweede-in-bevel van die hele Egipte, het Josef die mag van lewe en dood oor diegene wat hom seergemaak het, gehad. Tog het hy vir hulle gesê: “‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het my gebring tot in hierdie hoë pos wat ek beklee sodat ek die lewens van baie mense kon red. Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.’ So het hy vriendelik met hulle gepraat en hulle gerusgestel” (verse 20-21 NLV).

Die probleem is nie die woede of teleurstelling nie – behalwe wanneer jy deur jou emosies beheer word. Elke keer wat woede veroorsaak dat jy die dinge wat God in jou sorg geplaas het verniel, word jou emosies wanbestuur. Jy staan grond aan die duiwel af wanneer jy nie jou woede beheer nie. ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus – leer om jou emosies te beheer.

Sielskos: Jes 12-16; Luk 1:39-56; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19