2022-04-07
Johannes 4:34 NLV
In plaas daarvan om Jesus tot die kerk op Sondae te beperk, kom ons bestudeer sy werksfilosofie (houding, waardes en beginsels) oor hoe om dinge gedoen te kry. Die beginsels waarvolgens Hy geleef het, verg die volgende:
1) Om duidelikheid oor jou opdrag te hê. Jesus het verstaan dat fokus nodig is om vaardighede en geleenthede ten volle te benut. As jy dus talentvol, energiek en aktief is en steeds nie konkrete resultate sien nie, mag jou probleem dalk ‘n gebrek aan fokus wees. Toe Nehemia besig was om Jerusalem se mure te herbou, het sy vyande ‘n boodskap gestuur en gesê: ‘…Kan ons mekaar… ontmoet?…’ (Nehemia 6:2 AFR83). Nehemia het egter geantwoord: ‘…Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie'(vers 3 NLV).
2) Om jou take in die volgorde van belangrikheid te prioritiseer. Wanneer jy nie die belangrikste take eerste doen nie, begin take hulself volgens hulle dringendheid reël. Wanneer dit gebeur, loop jy groot geleenthede mis. Die Bybel sê Jesus: ‘…moes deur Samaria reis’ (Johannes 4:4 NLV). Vir sy dissipels het dit seker soos ‘n afleiding gelyk, want dit was nie die kortste roete na hulle bestemming nie. Daar was egter ‘n vrou in Samaria wat Jesus wou verlos; iemand deur wie Hy ‘n hele stad met die evangelie sou bereik. Jesus was duidelik oor sy prioriteite. Is jy?
3) Om ‘n noukeurige rooster te skep. Met ander woorde, stel spertye vir jouself en hou daarby. Jesus het geweet dat Hy net drie-en-‘n-half jaar gehad het om sy werk te doen en Hy het elke dag laat geld. Een van die grootste leuens wat ons vir onsself vertel is: ‘Ek sal later daarby uitkom.’ Om sukses in die lewe te behaal, moet jy Jesus se werksfilosofie as jou bloudruk aanneem.
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 22:24-38; Ps 50:16-23; Spr 9:12
2022-03-30
2 Petrus 1:6 NLV
Het jy al ooit agtergekom dat ons geneig is om ons omstandighede, in plaas van ons tekortkominge, te blameer? Ons skryf ons probleme aan ons swak opvoeding, finansiële moeilikhede of aan ander mense se tekortkominge, toe. Net soos jy nie die spieël kan blameer vir hoe jy lyk nie, net so kan jy ook nie jou karakterfoute op jou omstandighede blameer nie.
Integriteit is altyd ‘n keuse en elke keer wat jy ‘n karakter-gebaseerde besluit maak, neem jy ‘n tree vorentoe in jou geestelike groei. Dink aan die kere wat jy voor versoeking en teenstand te staan gekom het. Skryf hulle neer en dui langs elkeen die keuse wat jy gemaak het aan: om te ontsnap, te verskoon, in te gee, te vermy, uit te hou of te oorkom. Watter probleemareas kan jy identifiseer? Hoe kan jy beter doen? As die dinge wat jy neergeskryf het buite jou beheer was, kies dan om groter beheer van jou lewe te neem.
Hoe? Deur selfbeheersing toe te pas. Karakter word gebaseer op dit wat ons doen wanneer niemand anders kyk nie – hoe ons die lewe se klein ergenisse hanteer en hoe ons mislukking – en sukses – hanteer. Aan die einde van ‘n briljante loopbaan, het Josua vir Israel met hierdie woorde uitgedaag: ‘As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid… Ek en my huisgesin sal die Here aanbid’ (Josua 24:15 NLV).
Karakter word op selfbeheersing gebaseer en selfbeheersing gaan daaroor om die regte besluite te neem. Die goeie nuus is dat jy dit nie alleen hoef te doen nie: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV).
Sielskos: Job 38-39; Luk 20:27-40; Ps 6; Spr 8:32-33
2022-02-22
2 Timoteus 4:7 NLV
Seneca die Jonger het gesê: ‘Sukses gebeur wanneer voorbereiding, geleentheid ontmoet.’ Soos jy in die Skrif van die mense wat God gebruik het om groot dinge te bereik, lees, sal jy agterkom dat hulle baie tyd bestee het om vir ‘n relatiewe kort opdrag voor te berei. Die ego in elkeen van ons smag na twee dinge – die kollig en ‘n lang lewe! Vir God maak net een ding egter saak: om sy wil te doen. Wanneer jy soos Paulus kan sê: ‘Ek het die wedloop voltooi,’ het jy suksesvol gelewe.
Vir wie gebruik God dus? Diegene wat voorbereid is! Of jy nou na besigheid, kuns, opvoeding, politiek, die mediese veld of die bediening geroep word, bly hierdie beginsel onveranderd: Die wat voorbereid is, ontvang geleenthede. Disraeli het gesê: ‘Een geheim tot sukses in die lewe is vir ‘n man om gereed te wees wanneer sy tyd kom.’ Dis ook nie genoeg om net eenvoudig voorbereid te word nie, jy moet voorbereid bly. Salomo skryf: ‘Hou vas aan die reëls wat ek jou leer. Moet dit nie laat los nie. Bly daarby, want dit verryk jou lewe’ (Spreuke 4:13 NLV).
Kennis in die meeste velde verdubbel ongeveer elke vyf jaar en tensy jy aanhou groei, sal jy met verouderde vaardighede opeindig wat nie by die uitdagings van die wêreld waarin jy leef, aanpas nie. Wanneer jy glo dat more se sukses van vandag se voorbereiding afhang, sal jy vandag anders sien. Koningin Elizabeth I het na bewering die koninklike geneeshere die helfte van haar boedel aangebied indien hulle haar lewe kon verleng. Hulle kon natuurlik nie. Ons lewens is kort, dis hoekom die Bybel sê: ‘Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom’ (Psalm 90:12 AFR83).
Sielskos: Jes 58-62; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23
2022-02-18
Psalm 119:18 NLV
Die sleutel tot Bybelstudie is om dit daagliks, sistematies en met gebed, te doen. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie.’
Dit behels drie dinge: 1) God sal jou die waarheid oor Homself wys. Jy sal sy aard, sy opinie en dit wat Hy waardeer, ontdek. As jy met ‘n afwesige ouer grootgeword het, sal jy ontdek dat jou hemelse Vader heeltemal anders is – liefdevol en anders!
2) God sal vir jou die waarheid oor ander mense wys. Jy sal begin om hulle plek in jou lewe te verstaan en te waardeer. Jy sal ook leer om hulle behoeftes en die rol wat God wil hê jy moet speel om hulle te help, te herken en te antisipeer. Jy sien, wanneer God jou seën, is dit altyd om jou ‘n seën vir ander mense te maak (sien Genesis 12:1-2).
3) God sal vir jou die waarheid oor jouself wys. Jy sal begin verstaan en waardeer hoe belangrik jy vir Hom is. Ja, Hy sal jou probleme en swakpunte uitwys. Hy sal egter meer as dit doen. Hy sal vir jou die potensiaal wat Hy in jou sien en die planne wat Hy vir jou het (sien Jeremia 29:11), openbaar.
Maak dus elke dag tyd om jou Bybel te bestudeer. Bestee ‘n gedeelte van die tyd om eenvoudig die Skrif te lees, sonder om in komplekse teologiese konsepte te probeer delf. Lees en absorbeer wat God te sê het en laat sy Gees toe om met jou hart te praat.
Hier is nog ‘n gedagte: Aangesien die Bybel die enigste boek is wat God ooit geskryf het en jy eendag voor die Skrywer self gaan staan, sal jy nie graag vir Hom wil sê dat jy sy boek gelees het nie?
Sielskos: Jes 45-48; Luk 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6
2021-12-15
Efesiërs 1:11 NLV
God kan die verkeerde besluite van die mense rondom jou in jou guns laat werk. In plaas daarvan om dus iemand te soek om te blameer, probeer om die hand van God aan die werk in jou situasie te soek.
Josef het drie dinge ontdek: 1) Wanneer God jou in ‘n paleis wil hê, kan niemand jou in die tronk hou nie. 2) Jou toekoms is nie in ander mense se hande nie; dis in God se hande. 3) Jou Godgegewe lewensopdrag het nie ander mense se samewerking of goedkeuring nodig nie, maar dit verg wel die samewerking van een persoon – jy.
Josef se broers het die verkeerde besluit geneem deur hom kwalik te neem. Potifar se vrou het die verkeerde besluit geneem deur hom vals te beskuldig. Die bakker het die verkeerde besluit geneem deur sy rug op hom te draai. God het dit egter nie gedoen nie! Hy het elke tree wat Josef geneem het bepaal, al die pad tot by die troon toe. Jare later het Josef van aangesig tot aangesig met diegene wat hom so sleg behandel het, gekom en gesê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV).
God se doelwitte sal altyd mense se planne oorkom. Niemand kan God daarvan weerhou om jou te gebruik, te seën en vir jou sukses te gee nie, behalwe jyself. Maak dus seker dat jou hart en houding reg is! Paulus skryf: ‘Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie volk geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het’ (Efesiërs 1:11 NLV). Soek dus God se hand in alles.
Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:30-42; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19