Luister versigtig

2024-06-07
Spreuke 15:31 NLV

Een kundige noem dat leiers eers jou hart aanraak, voor hulle vir jou hand vra. Dis die wet van verbinding. Voor ‘n leier iemand se hart kan aanraak, moet hy of sy eers weet wat daarin is. Jy kom dit agter deur te luister. ‘n Onwilligheid om te luister is tipies van swak leiers. Meer as die helfte van bestuursprobleme is as gevolg van foutiewe kommunikasie. Die oorgrote meerderheid van kommunikasieprobleme spruit daaruit dat mense nie goed genoeg luister nie. Baie stemme roep om ons aandag. Soos jy oorweeg hoe om te luister, onthou dat jy twee redes het om te luister: a) Om met mense te skakel, en b) Om meer van hulle te leer. Dit sluit jou mededingers in.

Sam Markewich het geskerts: ‘As jy nie met my saamstem nie, beteken dit jy het nie mooi geluister nie.’ Hy het natuurlik ‘n grap gemaak, maar die hartseer waarheid is dat wanneer ‘n leier ‘n ander organisasie slegs as mededinging beskou, fokus hy of sy hulle aandag daarop om hul eie onderneming te bou of hul eie doel te verdedig en vergeet gevolglik om uit die ander organisasie se pogings te leer. Jy wil nie noodwending jou aksies op dit wat die ander persoon doen, baseer nie, maar jy moet steeds luister en leer hoe om jouself te verbeter.

Dis ‘n duur fout om so besig te wees om jou eie ding te doen, of te probeer om dinge te laat gebeur, dat jy nie aandag gee aan dit wat rondom jou aangaan nie. Elke dag wat jy lewe en elke ervaring wat jy het, positief en negatief, kan vir jou waardevolle lesse leer. Jy moet egter luister!

Sielskos: Eseg 10-13; Mark 14:27-42; Ps 124; Spr 14:21-24

Moenie eers daaraan DINK om op te gee nie!

2023-03-05
2 Korintiërs 4:8 DB

Ons gee as gevolg van verskeie redes op: 1) Ons vrees mislukking. Ons het almal dinge in ons verlede wat ons eerder sal wil vergeet. Sit hulle agter jou. Paulus skryf: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).

2) Ons is bekommerd oor wat mense gaan sê. ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Hoe jy teenoor kritiek reageer, is een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal maak. Daar sal altyd mense wees wat nie van jou hou of jou verstaan nie.

3) Ons luister na die verkeerde stemme. Satan is die Vader van die Leuen en hy sal alles in sy vermoë doen om jou te ontmoedig. Paulus sê: ‘…Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:4-5 NLV). As ‘n gedagte van God af kom, aanvaar dit; as dit van Satan af kom, ‘vernietig’ dit.

4) Ons verloor fokus. As gelowiges, lewe ons deur te glo en nie deur te sien nie (sien 2 Korintiërs 5:7). Dit beteken dat jy elke besluit moet maak op grond van wat God sê en nie volgens wat jou natuurlike oë kan sien nie.

5) Ons verloor kontak met ander gelowiges. Toe die apostels uit die tronk gekom het, het hulle ‘…dadelik die ander gelowiges opgesoek…’ (Handelinge 4:23 NLV). Om sterk te bly, het jy gemeenskap met ander Christene nodig. Te veel mense gee op die kruin van sukses op; moenie een van hulle wees nie. Daar is net een graad verskil tussen warm water en stoom – hou dus aan en moenie eers daaraan dink om op te gee nie!

Sielskos: Matt 6:19-34; 1 Kon 8:17-40

Navigeer verliese in die lewe (4)

2023-02-26
Prediker 3:6 NLV

Wat het ons kinders nog van ons nodig wanneer hulle treur?

1) Ons eerlikheid. Hulle het nodig om te weet dat ons ook seer het. Wanneer hulle jou sien huil, maar jy sê vir hulle: ‘Ek is doodreg,’ maak dit hulle deurmekaar. Hulle dink dat jy nie regtig seer het nie, of dat trane niks beteken nie, of dat jy nie eerlik met hulle is nie. Hulle moet weet dat jy eerlik met hulle is, sodat hulle eerlik met jou kan wees en jou met hulle seer kan vertrou.

2) Ons moet bewus wees van hulle gevoelens sonder om hulle te veel te beskerm. Vir hulle, soos vir jou, is daar “‘n tyd om te huil… ‘n tyd om te verloor…” (verse 4, 6 NLV). Moenie hulle hartseer, woede en depressie onderdruk of ongeldig verklaar nie. Dis deel van hulle Godgegewe menslikheid en sal hulle help om gebalanseerde, deernisvolle volwassenes te word.

3) Luister op ‘n sensitiewe manier. Kinders leer en groei deur verlies wanneer hulle ‘n oop en begrypende luisteraar het. Luister en herhaal dan hulle gevoelens. ‘Dit klink of jy kwaad is. Wil jy daaroor praat?’ Moenie analiseer nie, vra! Luister met jou oë en ore. ‘Jou woorde sê dat jy reg is, maar jou oë lyk of hulle hartseer is.’

4) Toestemming om negatiewe emosies uit te druk. Woede en wrokkigheid teenoor dokters, die sisteem, familielede, jouself of selfs God, is normaal! Moenie sê: ‘Moenie sulke goed sê nie.’ Sê eerder: ‘Dit klink soos ‘n ware, eerlike uitdrukking van pyn en teleurstelling. Wil jy daaroor praat?’ Uitdrukking van negatiewe emosies haal die angel daaruit.

5) Insluiting by ons hartseer rituele. Sluit hulle by gesinsbyeenkomste, begrafnisbeplanning en dienste in, en hulle sal vertroosting in die bekragtiging, afsluiting en genesing wat hierdie tye bring, vind!

Sielskos: Matt 14:22-33; 1 Kon 3:4-28

Hulp vir jou huwelik

2023-01-26
Spreuke 18:13 NLV

Iemand het gesê: ‘Om te trou is soos om iets te koop wat jy al vir jare in die winkelvenster bewonder. Jy is mal daaroor – maar wanneer jy by die huis kom, pas dit nie by alles nie!’ Die Bybel sê: ‘Mag God… julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe…’ (Romeine 15:5 NLV). Dit beteken dat jy die volgende drie dinge moet doen om ‘n gelukkige huwelik te bou:

1) Hê ‘n oop gemoed. Die Bybel sê: ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom.’ Moet dus nie jou antwoord formuleer terwyl jou man of vrou nog praat nie. Om te luister, beteken dat jy jouself tot die gesprek verbind en die ander persoon se standpunt erken. ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:3-4 NLV).

2) Leer om vir jouself te lag. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal. Hartseer maak ‘n mens terneergedruk’ (Spreuke 15:13 NLV). Wanneer jy finansiële druk, familieprobleme, siekte of net gewone uitputting ervaar, kan humor die spanning verlig en jou perspektief help herstel.

3) Vee die ‘E’ woord uit jou woordeskat uit. Alhoewel God egskeiding onder sekere omstandighede toelaat, is dit nooit sy ideaal nie. Soos een paartjie wat deur hulle huweliksprobleme gewerk het, gesê het: ‘Ons is bly dat ons nie gedurende die moeilike jare tou opgegooi het nie. Ons het lank genoeg uitgehou om te besef dat dit met tyd regtig beter kan begin gaan.’

Wanneer jy jouself daaraan toewy om aan jou verhoudig te werk, maak nie saak hoe dinge uitwerk nie, sal jy nooit oor jou pogings spyt wees nie.

Sielskos: Gen 4-6; Luk 6:1-16; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10

Wees sensitief teenoor ander mense

2022-12-12
Filippense 2:4 NLV

Dikwels in die huwelik is ons onbewus van ons maat se behoeftes. Ons word gevoelloos. Ons hou op luister. Ons is onbewus van die druk waaronder hulle verkeer. Eenvoudig gestel, is die wortel van baie huweliksprobleme ‘n gebrek aan sensitiwiteit.

Elke mens wat jy teëkom het goedhartigheid nodig. Ons vind ‘n wonderlike voorbeeld van sensitiwiteit in koning Dawid se lewe. Dawid se vriend, Jonatan – Saul se seun – is vermoor. Veilig op die troon al vir etlike jare, het Dawid ‘n seldsame versoek gerig. Hy het gevra of daar enigiemand van Saul se familie oor was wat hy kon help. Hy het Saul se kleinseun – Jonatan se seun – Mefiboset, wat kreupel aan beide voete was, gevind. Toe Dawid hom ontbied het, het Mefiboset seker gedink: ‘Ek gaan vermoor word, omdat ek ‘n lid van die vyand se familie, die voormalige vorstehuis, is.’

Let egter Dawid se woorde op: ‘…Moenie bang wees nie! Ek sal aan jou goeddoen ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet’ (2 Samuel 9:7 NLV). Mefiboset se reaksie is interessant: ‘…Wat is u dienaar dat u so goed is vir ‘n dooie hond soos ek?..’ (vers 8 NLV). Hy het soos ‘n hond gevoel en het verwag om soos een behandel te word. Die punt wat jy egter moet insien is die volgende: Dawid het die tyd geneem, moeite gedoen en was sensitief teenoor Mefiboset se behoeftes.

Een van die gevare van sukses is dat die druk wat daarmee saamgaan, jou onsensitief teenoor ander kan maak. Die vraag is: Teenoor wie moet jy vandag meer sensitief wees?

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 15:18-27; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21