Onthou God se goedertierenheid aan jou

2020-06-11
Psalm 26:3 AFR53

Daar is ‘n verhaal van ‘n klein seuntjie aan wie gevra is: ‘Sê jy elke aand jou gebedjie op?’ Hy het geantwoord: ‘Nee, party aande het ek niks nodig nie!’ Ons glimlag, maar die punt is pynlik voor die hand liggend. As jou man of vrou net met jou gekommunikeer het wanneer hulle in die moeilikheid was of ‘n behoefte gehad het wat hulle nie self kon vervul het nie, hoe lank dink jy sou die verhouding gehou het? Daar moet ‘n balans tussen jou lofprysing en jou petisies wees. Jy sê: ‘As die Here groot genoeg is om die heelal te skep en te bestuur, twyfel ek of Hy gepla is as iemand so onbenullig soos ek nie dankie sê nie.’ Dis nie so nie! Toe Jesus tien melaatse mans genees het en net een teruggedraai het om dankie te sê, het Hy gevra: “…’Waar is die ander nege?'” (Lukas 17:17 NLV). As God alleenlik jou op grond van sy geregtigheid en jou geneigdheid tot ongeregtigheid hanteer het, sou jy dit nie gemaak het nie! Hy doen dit egter nie. Hy sê: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe’ (Jeremia 31:3 NLV). Toe die Psalmdigter dit besef, het hy geskryf: ‘Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef’ (Psalm 63:4-5 AFR53). Iemand het geskerts: ‘God gee nie om om ‘n faktuur te ontvang nie, solank as wat Hy daarvoor gedank word!’ Neem dus ‘n oomblik en onthou God se goedertierenheid aan jou.

Sielskos: Op 19-22; Mark 15:21-32; Ps 143; Spr 13:9-10

Wanneer jou kind buite beheer is

2020-06-08
Jesaja 54:13 AFR53

Min dinge kan jou hart so breek soos ‘n kind wat op dwelms is, of met die verkeerde vriende meng en by aktiwiteite wat hulle lewens kan vernietig, betrokke raak. Wat moet jy as ouer doen? Eerstens, moet jy vir hulle bid en God se beloftes oor hulle uitspreek. Jy mag dalk nie in staat wees om hulle te verander nie, maar God kan. Sy Woord sê: ‘En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.’ Wat as jou kind buite beheer is, maar nog in die ouerhuis bly? Dan het jy ‘n groot uitdaging wat God se hulp benodig. Soms is jou ‘probleemkind,’ ‘n kind met ‘n groot roeping en toekoms en Satan weet dit. God het ‘n roeping op hulle lewe geplaas en dis waaroor die stryd gaan! Jy het as ouer God se wysheid nodig wanneer dit by die volgende kom: 1) Om duidelike grense te stel met gepaste en konsekwente nagevolge. Die Bybel sê: ‘Tug is nodig! As ‘n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede’ (Spreuke 22:15 DB). 2) Om die vrees te oorkom dat jou kind jou sal verwerp wanneer jy ‘n onpopulêre, maar wyse besluit maak. Satan sal jou probeer oortuig dat jy hulle sal verloor wanneer jy hulle dissiplineer. Die waarheid is dat jy hulle sal verloor indien jy hulle nie dissiplineer nie! Onthou: ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Twee van die grootste wapens wat jy kan gebruik om Satan oor jou kind se toekoms te beveg, is gebed en deur vas op God se Woord te staan. As jy getrou aan God bly – sal jy wen.

Sielskos: Op 5-9; Mark 14:53-65; Ps 48; Spr 13:2-3

Dien iemand vandag

2020-06-03
Galasiërs 5:13 NLV

Voor Hy na die kruis toe is, sê die Bybel dat Jesus: ‘…toe van die tafel af opgestaan [het], sy bo-klere uitgetrek, ‘n doek gevat en dit om Hom vasgebind [het]. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog met die doek wat om Hom vasgebind was’ (Johannes 13:4-5 NLV). Toe het Hy gesê: ‘Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen… As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle gelukkig wees as julle dit ook doen’ (verse 15-17 NLV). Wat ‘n les! Liefde kan nie in isolasie manifesteer nie. Dit kan nie gedoen word wanneer jy alleen voor die rekenaar of televisie sit nie. Om die sanger Michael W. Smith aan te haal: ‘Love wasn’t put in your heart to stay. Love isn’t love till you give it away.’ Hoe het Jesus sy liefde aan die dissipels bewys? Deur ‘n dienskneg se doek aan te trek. Waar kan jy dit ook doen? Enige plek! Wat van môre by die kantoor, die fabriek of die bouperseel? Jou werksplek kan ‘n heilige plek word waar God se teenwoordigheid die alledaagse, dag-tot-dag roetine kan seën, omdat die liefde van God binne-in jou ‘n dienskneg se doek dra. ‘Laat ek daardie kopieë vir jou maak… Ek sal jou telefoon antwoord terwyl jy gou jou kind se kosblik vir hom skool toe vat… Dit lyk of jy deur ‘n rowwe tyd gaan, ek is ‘n goeie luisteraar. Ek mag dalk nie al die antwoorde ken nie, maar ek weet van Iemand wat doen.’ Paulus sê dat ons mekaar met liefde moet dien. Gaan dus uit jou pad om vandag iemand te dien.

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Mark 14:1-11; Ps 4; Spr 12:25

Wanneer jy lofprys, voel God tuis

2020-01-30
Psalm 22:4 NLV

Die plek waar jy woon is jou huis. Wanneer jy God dus prys, sê jy: ‘Maak U tuis, Here.’ Waar woon God? Hy het baie verskillende adresse en elkeen van hulle is ‘lofprysing.’ Net soos ons ‘n dieper intimiteit met die mense met wie ons ons lewens by die huis deel, geniet, net so skep lofprysing ‘n sin van intimiteit tussed God en ons. Net soos woorde van liefde en waardering twee mense nader aan mekaar bring, so bring woorde van lofprysing jou nader aan God. Die Japanese het ‘n wonderlike gesegde om dit te verduidelik. Net soos hulle keiser eens op ‘n tyd op ‘n troon rondgedra is en die mense sou stop en voor hom buig, sê hulle: ‘Wanneer ons God prys, skep ons ‘n sitplek en Hy kom af en sit daarop.’ Vyf keer in twee opeenvolgende teksverse word ons beveel om God te prys. ‘Prys God, prys Hom; prys ons Koning, prys Hom! Want God regeer oor die hele aarde. Sing vir Hom ‘n pryslied! (Psalm 47:6-7 NLV). Wanneer God dieselfde opdrag vyf keer in twee verse herhaal, doen Hy dit om seker te maak dat jy die boodskap kry. Jy sê: ‘Maar ek kan glad nie sing nie, ek klink soos ‘n kattekoor.’ Luister na ‘n CD van lofprysing en neurie saam. Die Psalmdigter het geskryf: ‘U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Ek wil U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef’ (Psalm 63:3-4 NLV).

Sielskos: Jes 22-25; Matt 11:1-9; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20

Woedebeheer (2)

2019-11-09
Spreuke 14:17 NLV

Die waarheid is dat wanneer jou humeur die oorhand kry, dit die slegste van jou openbaar. Die Bybel sê drie dinge oor onregverdige woede wat jy in gedagte moet hou: 1) Dis dom. ‘Iemand wat kort van draad is, doen dom dinge. Almal haat ‘n agterbakse mens’ (vers 17 NLV). Benjamin Franklin het in Poor Richard’s Almanac geskryf: ‘Take this remark from Richard poor and lame; Whate’er’s begun in anger ends in shame.’ 2) Dis verdelend. “‘n Humeurige mens sit twis aan die gang. ‘n Verdraagsame mens sit ‘n stryery stop” (Spreuke 15:18 NLV). Soms word ons met goeie rede kwaad. Die meeste van die tyd gebeur dit egter omdat ons selfsugtig, ongeduldig, geïrriteerd of seergemaak oor die manier wat ons behandel word, is. In plaas daarvan om die probleem op te los, maak woede dit net erger. 3) Dis destruktief. “‘n Humeurige mens betaal self die prys daarvoor. As jy hom eers een keer oorsien, moet jy dit elke keer herhaal” (Spreuke 19:19 NLV). Dit beteken dat wanneer jy jou humeur verloor, hou jy aan verloor. Jy sal vriende verloor, jy sal die liefde en respek van jou familie verloor, jy sal jou sakevennote verloor en dit kan ook veroorsaak dat jy jou gesondheid verloor. John Hunter, ‘n sielkundige met ‘n ernstige hartkondisie, het gesê: ‘My lewe is aan die genade van die een wat my kwaad maak oorgelaat… die eerste skelm wat my kwaad maak, kan my dood maak.’ Raai wat? Jy kan daardie skelm wees! Vra dus vir God om jou te help om jou woede te beheer.

Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Joh 10:1-10; Ps 99; Spr 26:1-6