Ons het almal dieselfde genade nodig

2025-01-17
Lukas 18:13 NLV

Jesus het gesê: ‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. Die Fariseër het stelling ingeneem en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien!’ Die tollenaar het op ‘n afstand stelling ingeneem en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my as ‘n sondaar genadig!’ Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is…’ (verse 10-14 NLV).

Die verskil tussen hierdie twee mans was dat die Fariseër skuldig aan sondes van die gees was, terwyl die tollenaar skuldig aan sondes van die vlees was. Trots het die deur na die hemel vir die Fariseër toegemaak, maar nederigheid het die deur van die hemel vir die tollenaar oopgemaak. Die Fariseër het gesê dat hy onskuldig is, maar het skuldig huis toe gegaan. Die tollenaar het erken dat hy skuldig was en het onskuldig huis toe gegaan.

Let op dat die tollenaar nie die gewone woord vir genade gebruik het nie. Die woord wat hier gebruik word, dateer terug na die Hebreeuse woord kippur toe, wat ‘versoening’ beteken. Die woord versoening beteken ‘om te bedek.’ Wat die tollenaar gesê het was: ‘God, ek erken ek is ‘n sondige man met ‘n sondige hart. God, sal U my bedek?’ Dit is al wat God van hom moes hoor om hom te red – en dit is al wat God van jou ook moet hoor.

Sielskos: Jes 58-62; Luk 4:1-13; Ps 89:1-14; Spr 2:20

Nie geregtigheid nie, maar genade

2024-10-25
1 Johannes 2:1 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat sy foto laat neem het. Toe hy dit sien, het hy vir die fotograaf gesê: ‘Hierdie foto laat nie reg aan my geskied nie!’ Die fotograaf het na hom gekyk, geglimlag en gesê: ‘Met ‘n gesig soos joune het jy nie geregtigheid nodig nie; jy het genade en medelye nodig!’ Dis die situasie waarin ons ons almal bevind. Die rede hoekom God genade en medelye aan ons bewys, is omdat Jesus namens ons aan al die eise van God se geregtigheid aan die kruis voldoen het.

Sommige mense dink dat God se genade (onverdiende guns) versoening doen vir al jou sondes, tot op die oomblik wat jy Christus jou Verlosser maak. Daarna moet jy dit verdien en deur jou optrede bewys dat jy dit waardig is. In plaas daarvan om dus alleenlik op Christus se optrede aan die kruis te vertrou, vertrou hulle ook op hul eie optrede. Hier is egter die probleem: As om hemel toe te gaan daarvan afhang dat jy elke liewe verkeerde gedagte en daad onthou en dit bely, wat gebeur dan as jy een van hulle vergeet?

Jy hoef dit egter nie met jou optrede te verdien nie. God het dit alles onder beheer! ‘As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige. Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom’ (verse 1-2 NLV). Net een persoon voldoen aan God se standaarde: Jesus! Wanneer jy jou vertroue in Hom plaas, word jy onvoorwaardelik deur God aanvaar en het Hy jou onvoorwaardelik lief.

Sielskos: Jes 8-11; Joh 6:1-24; Ps 126; Spr 27:17-19

Genade en vrymoedigheid

2023-09-11
Hebreërs 4:16 NLV

Indien jy onwaardig voel om God in gebed te nader, stop en lees hierdie woorde: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (vers 16 NLV). Let drie belangrike dinge op:

1) Wanneer jy genade nodig het, kan jy God met volle vrymoedigheid nader. Hoekom? Omdat jy na ‘n troon van genade en barmhartigheid, nie na ‘n troon van veroordeling nie, gaan. Al jou sondes – in die verlede, hede en toekoms – is voor betaal die oomblik toe Jesus gesê het: ‘Dit is volbring.’ Satan wil hê dat jy te veroordeel, skuldig en onwaardig voel om God te nader. Die oomblik wat jy egter jou vertroue in Christus plaas, klee God jou in Christus se geregtigheid. Jy kan dus altyd met volle vrymoedigheid na Hom toe gaan.

2) Wanneer jy meer genade nodig het, bid meer. God het al die genade wat nodig is om jou te help, maar jy moet na sy troon toe gaan en daarvoor vra. Die Bybel sê dat ons in genade moet groei en as jy nie elke dag bid nie, groei jy nie in jou geestelike lewe nie. Wat is dus die antwoord? Bestee meer tyd by die troon wat genade uitdeel.

3) God se genade word volgens jou behoefte op daardie oomblik, gegee. Hy sal môre se genade vir jou eers môre gee, so moenie eers die moeite doen om daarvoor te vra nie. Moet egter nie bekommerd wees nie; die aanbod van genade wat jy in Christus het, sal nie môre – of ooit – opraak nie! Dit beteken dat jy altyd welkom is en nie te dikwels na die troon van genade kan gaan nie.

Sielskos: Eseg 22-23; Mark 12:1-12; Ps 78:9-16; Spr 20:11-14

Hoe kon Hy dit doen?

2023-04-07
Romeine 5:8 NLV

As jy al Schindler’s List gekyk het, het jy seker na die tyd gevra: ‘Hoe kon hulle dit gedoen het?’ Die storte… die oonde… die skoorstene wat menslike oorskot uitrook. Treine wat daagliks met moeders, vaders, kinders en bejaardes opdaag – soos beeste op pad na ‘n slagplaas. Die ergste van alles – soldate wat bevele uitvoer sonder om ‘n oog te knip. Hoe kon hulle dit doen?

Die antwoord is sonde! As jy dink dat slegs Hitler en sy trawante ‘n monopolie op sonde besit, dink weer! Dawid het gesê: ‘Want ek is as sondaar gebore en was dit voor my geboorte’ (Psalm 51:7 NLV). Sy eie ongure hoofstuk van owerspel en moord bevestig dit.

Lees die volgende opsomming wat ons almal beskryf: ‘Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ‘n enkele een nie. Hulle kele is ‘n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs’ (Romeine 3:12-14 DB).

Jy moet dit verstaan sodat jy die volgende kan waardeer: ‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Wanneer jy hierdie Skrifgedeelte lees, verander die vraag na: ‘Hoe kon Hy dit doen?’ Dank God dat ons nie die straf kry wat ons verdien nie. Ons het egter gekry wat ons nodig het – genade!

William R. Newell het geskryf: ‘Oh, the love that drew salvation’s plan! Oh, the grace that brought it down to man! Oh, the mighty gulf that God did span at Calvary!’ Neem vandag ‘n oomblik en dank God vir die genade wat jou verlos het. Dis waaroor Goeie Vrydag gaan.

Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53

Gee vandag jou probleem vir God

2023-03-23
Psalm 55:23 NLV

As jy in moeilike tye grootgeword het, doen jy outomaties een van die volgende twee dinge: 1) Vertrou meer op God omdat jy sy getrouheid al ervaar het. 2) Dink, bekommer en praat aanhoudend oor die ‘wat as’ in die lewe.

Daar is baie om oor te dink, want die toekoms rus in God se hande, nie joune nie. Dis moontlik vir iets om baie groter as wat dit waarlik is, vir jou voor te kom. Dis die kern van bekommernis. Dis soos ‘n sneeubal; dit begin klein, maar soos jy dit oor en oor in jou gedagtes rol, word dit groter en groter totdat dit die potensiaal het om jou te begrawe.

Wat is dus die antwoord? ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Vul jou hart met God se Woord. Ontwikkel dan die gewoonte om dit wat in jou hart is, meer werklik vir jou te laat word as dit wat jy sien, dink of voel. Jy kan kies om aan dit wat God kan doen, in plaas van dit wat jy nie kan doen nie, te dink.

As jy aanhou om oor die ingewikkeldheid van jou situasie obsessief te wees, sal jy in wanhoop opeindig. Met ander woorde, jy sal vasgevang voel. Wanneer dit gebeur, is dit maklik om paniekerig te raak en irrasionele dinge te doen wat net die probleem vererger.

In stede daarvan, ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie.’ Die Here sal jou versterk, ondersteun en jou staande hou. God mag jou nie onmiddellik uit die situasie neem nie, maar sy onderhoudende genade sal jou daardeur bring. Gee vandag jou probleem vir God.

Sielskos: Job 18-20; Luk 20:9-26; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18