2025-02-28
Romeine 1:17 AFR53
Daar is ‘n verhaal van ‘n ma wat vir haar seun gesê het: ‘Dis tyd om op te staan en skool toe te gaan.’ Hy het geantwoord: ‘Ek gaan nie vandag skool toe nie!’ Sy ma het gevra: ‘Hoekom nie?’ Hy het geantwoord: ‘Want die kinders haat my en die onderwysers kritiseer my. Hoekom moet ek skool toe gaan en dit alles deurmaak?’ Sy ma het geantwoord: ‘Want jy is die skoolhoof!’
Die Christelike lewe is ‘n skool. Paulus beskryf elke graad om van ‘geloof tot geloof’ te gaan. In die skool van geloof is die Heilige Gees die onderwyser en die Bybel is die handboek. As jy goed studeer en op jouself toepas, kan jy deur die grade op beweeg. Indien jy dit nie doen nie, sal jy in dieselfde graad bly totdat jy die lesse geleer het en die toetse kan slaag. Jy is soos die dame wat geskerts het: ‘My gunsteling graad was graad vyf. Drie van my gelukkigste jare het ek in daardie graad deurgebring!’
Tensy jy wil hê dat dit jou lot moet wees, lees hierdie woorde en neem dit ter harte: ‘Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ‘n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik’ (2 Timoteus 2:15 NLV).
As jy God wil ken, moet jy Hom in die bladsye van sy Woord ontmoet. Jy sal ook met die Heilige Gees gevul moet bly: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).
Sielskos: Eks 19-21; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28
2024-12-25
Matteus 1:20 NLV
In Josef se lewe sien ons drie sleutels om God se doel en beloftes in ons lewens te vervul. Die eerste sleutel is genade. Kom ons kyk na die tweede sleutel: geloof.
“Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: ‘Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees'” (vers 20 AFR83). Josef wou sy verlowing met Maria privaat verbreek. Toe het God vir hom die goddelike plan vertel. Wat was Josef se deel? Om geloof in die moeilikste omstandighede uit te oefen. Om God te vertrou toe die situasie nie verstaanbaar of rasioneel verduidelik kon word nie. God het vir hom vier dinge gewys:
1) God het hom aan sy identiteit herinner: ‘Josef seun van Dawid.’ God wil hê dat jy moet weet wie jy ‘in Christus’ is (sien Efesiërs 1:18-19).
2) God het Josef verseker dat hy nie bang hoef te wees nie. Wat het Josef in staat gestel om sy vrees te oorkom en vorentoe te beweeg? Om van God te hoor. Om ‘n woord van die Here te hê waarop hy kon staan. Dis wat jy ook nodig het (sien Jesaja 30:21).
3) God het vir Josef rigting gegee. Hy moes Maria as sy vrou neem, ‘n vader vir die kind wees en Hom Jesus noem. Wat is die les vir jou? Wees onderrigbaar en volg God se instruksies. Dis deur geloof en gehoorsaamheid wat jy jou Godgegewe lotsbestemming sal bereik.
4) God het vir Josef verseker dat Hy in die situasie aan die werk was. Wanneer jy dit weet, kan jy vrede in jou hart en ‘n nuwe perspektief ervaar.
Sielskos: Jes 7:14; Luk 2:1-7; Miga 5:2-5a; Jes 9:6-7
2023-03-20
Hebreërs 11:6 NLV
Hier is drie waarhede uit die Skrif wat jou geloof meer effektief sal maak: Eerstens, glo dat Hy werklik dáár is. Die krag van die taal wat hier gebruik word, is baie meer as net ‘n vae erkenning van God se bestaan. Hy is die enigste ware God! Hierdie Skrifgedeelte sê Hy is uniek, opreg en permanent teenwoordig en aktief.
Tweedens, glo dat God in staat is. Toe twee blinde mans Jesus genader het sodat Hy hulle gesond kon maak, het Hy vir hulle gevra: “…’Glo julle regtig Ek kan julle gesond maak?’ Hulle sê vir Hom, ‘Ja, Here, ons glo U kan dit doen.’ Hy raak toe hulle oë aan en sê: ‘Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur'” (Matteus 9:28-29 NLV). Onmiddellik kon hulle sien. Jesus het geweet dat Hy in staat is om hulle gesond te maak, maar Hy wou hê hulle moes glo dat Hy dit kon doen. Totdat jy nie in God se vermoë om aan jou behoefte te voldoen glo nie, het jy geen basis om jou vertroue en gebede op te baseer nie.
Derdens, glo dat God gewillig is. As jy weet dat Hy in staat is, moet jy ‘n tree in geloof neem. ‘n Melaatse man het Jesus genader en gesê: ‘…’Here, as U wil, kan U my gesond maak.’ Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ En dadelik het sy melaatsheid verdwyn’ (Matteus 8:2-3 NLV). Is God gewillig? Hy sê dat Hy ‘dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.’ Dit laat geen plek vir twyfel nie. God is vandag nie net in staat nie, maar ook gewillig om aan jou behoefte te voldoen.
Sielskos: Job 8-10; Luk 19:1-21; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9
2023-02-14
Romeine 5:3 NLV
Viktor Frankl is tydens die Tweede Wêreldoorlog na ‘n Nazi konsentrasiekamp gestuur. Die wagte daar het hom van alles ontneem. Hulle het sy vrou, sy familie en sy klere weggevat. Hulle het selfs sy trouring gesteel. Hy het egter een ding gehad wat niemand by hom kon wegneem nie. Hy het geskryf: ‘Die laaste van menslike vryhede is die vermoë om ‘n mens se houding in ‘n gegewe stel omstandighede te kies.’ Die wagte kon nie Frankl se vryheid om sy houding te kies van hom wegneem nie.
Ons weet nie wat more, of selfs vandag, gaan gebeur nie. Ons kan nie ons omstandighede beheer nie, maar ons kan ons reaksie daarop beheer. Ons kan beheer of ‘n ervaring ons sterker of swakker gaan maak, ons geloof of ons vrees gaan vermeerder, of dit ons ‘n beter of ‘n bitter persoon gaan maak. Daar is ‘n gesegde wat sê: ‘Dieselfde sonskyn wat die botter laat smelt, verhard die klei.’ God wil hê dat ons moeilikhede ons moet versterk.
Paulus skryf: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (verse 3-5 NLV).
Hier is nog ‘n belangrike gedagte – die toetse en beproewings waardeur ons in hierdie lewe gaan, is wat ons bekwaam maak om in die volgende lewe saam met Christus te heers en te regeer. Hierdie wete sal jou help om op die regte manier te reageer!
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19
2023-01-27
Titus 2:13 NLV
Vertroue in Christus se spoedige wederkoms en ons uiteindelike oorwinning, is wat ons in hierdie dae van ontnugtering met sommige van ons nasionale leiers, die devaluasie van ons geld en die verwoesting van oorloë wat op verskeie kontinente gevoer word, sal dra. Jesus het gesê: ‘Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie’ (Matteus 24:42 NLV). Met ander woorde, wees op jou hoede, maar moenie bang wees nie.
Admiraal James Stockdale het agt uitmergelende jare in ‘n Vietnamese kamp vir krygsgevangenes deurgebring. Wat het hom gedra? Hy het gesê: ‘Ek het nooit geloof in die einde van die storie verloor nie. Ek het nooit daaraan getwyfel dat ek nie net huis toe sou gaan nie, maar ook dat ek op die ou einde sou oorwin en die ervaring in ‘n bepalende gebeurtenis in my lewe sou verander, wat ek in retrospeksie nie vir iets sou verruil nie.’ Toe hy gevra is: ‘Wie het dit nie gemaak nie?’ het Stockdale geantwoord: ‘Dis maklik. Dit was die ouens wat gesê het: ‘Ons gaan Kersfees by die huis wees.’ Kersfees sou kom en gaan. Dan sou hulle sê: ‘Ons gaan Paasfees by die huis wees.’ En Paasfees sou kom en gaan. Later sou dit weer Kersfees wees. Hulle is uiteindelik dood aan ‘n gebroke hart.’
Die moed om tussen die twee uiterstes van huidige moeilikheid en uiteindelike triomf te staan, word in hierdie woorde van die Skrif gevind: ‘ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (Hebreërs 12:2 NLV). Die Een by wie jy jou begin ontvang het, waarborg jou ‘n glorieryke oorwinning.
Sielskos: Gen 7-9; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12