2019-11-17
Romeine 8:6 NLV
Paulus skryf: ‘Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak’ (vers 5 NLV). Om ‘deur die Gees beheer’ te word, beteken dat jy sy aansporing gehoorsaam. Jy doen dit deur met ‘n bewustheid van sy teenwoordigheid deur jou dag te gaan. Jy onderwerp jou aan Hom wanneer jy in jou hart voel hoe Hy jou aanspoor om ‘n spesifieke plan van aksie te volg, selfs al verstaan jy nie hoekom nie. Jy mag dalk aangespoor word om ‘n spesifieke gesprek stop te sit, vinnig van ‘n sekere televisieprogram af weg te draai, uit ‘n twyfelagtige omgewing uit weg te stap of selfs ‘n ander roete te volg (Onthou jy die wyse manne in Matteus 2:12?). Wat dit ook al is, doen dit onmiddellik. Die Heilige Gees mag jou dalk oor ‘n versoeking waarsku wat jy nie in staat is om te weerstaan nie, tensy jy Hom daar en dan gehoorsaam. Miskien is daar iemand wat deur die dag in jou gedagtes opkom en jy weet dat hy of sy deur ‘n moeilike tyd gaan en ondersteuning nodig het. Maak kontak met hulle. God wil deur jou met daardie persoon praat en Hy sal jou seën wanneer jy dit doen. Die Heilige Gees mag jou dalk lei om ‘n sekere ding te doen of ‘n risiko te neem wat jy jouself nooit kon indink nie. Die wysste stap is om jouself altyd aan sy plan te onderwerp, ongeag of dit vir jou sin maak of nie. God weet alle dinge, insluitend jou toekoms en sy leiding is altyd tot jou voordeel.
Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Kor 5:6-10
2019-10-25
Psalm 103:13 DB
As jy steeds die letsels van ‘n slegte kindertyd saam met jou dra, kan dit moeilik wees om God as jou liefdevolle Vader te sien. So baie behoeftes waaraan nie in jou kindertyd voldoen is nie – liefde, sekuriteit, vertroue, vertroosting, koestering en materiële benodighede – kan dit moeilik maak om te glo dat God nou in jou behoeftes sal voorsien. Wat staan jou dus te doen? Erken dat jou interne beeld van ‘n vader verwronge is en op geen manier van toepassing op jou hemelse Vader is nie. Selfs die beste pa is net ‘n vae afbeelding van jou hemelse Vader. God wil hê dat jy Hom as ‘n sorgsame, sensitiewe, vrygewige en standvastige Vader moet sien. Dis hoekom Jesus ons geleer het om Hom ‘Ons Vader’ in plaas van ‘Almagtige God en Here’ te noem. Dit is ook hoekom Hy God ‘jou Vader’ en nie net ‘My Vader’ genoem het nie. Soos ‘n goeie vader, het God jou elke behoefte voorsien en daaraan voldoen (sien Matteus 6:25-34). Net soos ‘n goeie ouer die individuele eienskappe van sy kinders verstaan, so ken jou hemelse Vader jou unieke behoeftes, gedagtes en gevoelens. ‘Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is’ (Psalm 103:13-14 DB). Sy versorging is nommerpas gemaak vir jou spesifieke behoeftes en beperkinge. Net soos ‘n goeie aardse vader die verantwoordelikheid aanvaar om vir sy kinders te sorg, hou jou hemelse Vader Homself verantwoordelik om aan jou behoeftes te voldoen; en Hy wil hê dat jy daarvolgens moet optree deur Hom te vertrou. Met ander woorde, jou rol is om soos die kind van ‘n betroubare, vrygewige, liefdevolle Vader op te tree.
Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:1-13; Ps 104:1-18; Spr 24:26-27
2019-10-11
Filippense 4:6-7 NLV
God se vrede is wonderlik. Sommige mense rondom jou het dit vandag nodig. Jy ontvang dit wanneer jy jou lewe aan God toevertrou en volgens die beginsels wat in die Skrif weergegee word, lewe. Wanneer jy iets aan God ‘toevertrou,’ gee jy elke deel daarvan aan Hom (sien Psalm 37:5). Petrus skryf: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Wat ‘n voorreg. Het jy onlangs daarvan gebruik gemaak? ‘Hoe gee ek al my bekommernisse aan Hom oor?’ vra jy. Deur gebed! Sodra jy bewus word dat jy jouself begin bekommer en jou sin vir vrede begin verloor, neem dit onmiddellik na God toe en los dit daar by Hom. Moenie die Duiwel kans gee om aan jou te begin werk nie. Hoe langer jy wag, hoe groter word sy houvas op jou. ‘Maar ek kan nie help om daaraan te dink nie,’ sê jy. ‘Wat kan ek doen?’ Hierdie twee dinge: 1) Gee dit oor aan God en begin op ander dinge fokus. Dis ‘n reaksie wat jy moet aanleer en een wat jy daagliks moet oefen. Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV). Met ander woorde, herlei jou gedagtes! 2) Vind uit wat God in sy Woord oor jou situasie sê. Bring dan jou gedagtes, woorde en aksies in lyn daarmee. As jy dit doen, sal jy God se vrede beleef.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28
2019-04-27
Filippense 4:8 ABA
Die Bybel sê: ‘Satan het reeds in Judas… ingevaar. Hy het weggegaan om te onderhandel met die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer’ (Lukas 22:3-4 NLV). Dit kom voor asof Judas altyd besig was om aan geld te dink en Satan het dit tot sy vernietiging uitgebuit. Gedurende die drie jaar wat Judas vir Jesus gevolg het, het Hy hom meermale oor die gevaar om geld lief te hê, gewaarsku. Jou gedagtes hou nooit op werk nie en as jy nie beheer daarvan neem nie, sal dit jou begin beheer. Paulus skryf: ‘Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees.’ Wat jy word, is ‘n direkte gevolg van dit waarop jou gedagtes gefokus is. Ralph Waldo Emerson het gesê: ‘Die lewe bestaan uit dit wat ‘n man [of vrou] heeldag aan dink.’ John Locke het gesê: ‘Die aksies van mans [of vrouens] is die grootste interpreteerders van hulle gedagtes.’ James Allen het gesê: ‘Jy is vandag waar jou gedagtes jou gebring het. Jy sal môre wees waar jou gedagtes jou heen vat.’ Dis hoekom die apostel Petrus ons waarsku: ‘…Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe’ (1 Petrus 1:13 NLV). Dis hoekom die Psalmdigter geskryf het: ‘…bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie… Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:14-15 NLV). Let die woorde ‘gedagtes van my hart’ op. Die woord vir jou vandag is: Neem beheer van jou gedagtes.
Sielskos: Num 11-13; Mark 2:18-28; Ps 2; Spr 10:30-32
2019-04-12
Eksodus 33:12 NLV
Ons het gesien hoe Moses met God soos ‘n vriend praat en sê wat hy waarlik voel en dink. God wou dit so gehad het. Kom ons luister na hulle gesprek. Toe Moses vir God gesê het: ‘…U het vir my gesê om hierdie volk te lei… U het wel vir my gesê dat U my baie goed ken en dat ek u goedkeuring wegdra’ (vers 12 NLV), was hy besig om te herhaal wat God so pas vir hom gesê het. Kan jy dink aan ‘n keer toe jy vir jou eggenoot of vriend gesê het: ‘Jy was die een wat …. gesê het!’? Dis wat Moses hier doen – hy herinner God aan sy eie woorde. God wil hê dat jy sy beloftes onthou en hulle in gebed spreek. Nie omdat jy Hom daaraan moet herinner nie, maar om jouself daaraan te herinner. Wanneer jy God se Woord in gebed verbaliseer, bid jy volgens sy wil en word jy ‘n gunstige reaksie gewaarborg. Memoriseer dus Skrifgedeeltes wat met jou behoeftes en begeertes verband hou. Klee jou petisies in sy beloftes. Wanneer jy byvoorbeeld sê: ‘Here, U het gesê dat wanneer ek iets in gebed vra en glo dat ek dit reeds ontvang het, sal U dit vir my doen’ (sien Markus 11:23 NLV), bekragtig dit jou gebed. Hoe meer jy van God se Woord leer, hoe meer sal jou gebedstyd in lyn met sy Woord kom en hoe nader sal jy aan Hom voel. Hou jou Bybel byderhand wanneer jy met God praat, sodat Hy jou gedagtes na die woorde wat Hy wil hê jy moet bid, kan rig.
Sielskos: Dan 3-4; Luk 22:39-46; Ps 130; Spr 10:12