Week jou gedagtes in God se Woord

2020-06-09
Psalm 119:11 NLV

Voel jy ontmoedig omdat jy dieselfde sondes oor en oor begaan? Hier is jou antwoord: Week jou gedagtes in God se Woord! Net soos jy ‘n spons in water laat week en dit druppend en vol water is wanneer jy dit uithaal, so moet jy jou gedagtes in die Skrif week totdat dit tot oorlopens toe vol is met God se Woord. Wanneer jy dan versoek word om verkeerd te doen, sal jou reaksie deur die Gees en die Woord bemagtig word. As jy dus moeg en siek daarvoor is om nederlaag op nederlaag te ervaar, kan jy die volgende Skrifgedeeltes gebruik om jou gedagtes te vul en jou heel te maak: ‘Hoe kan ‘n jongmens (of ‘n ouer een!) ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (vers 9 NLV). ‘Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het’ (Johannes 15:3 NLV). ‘…Deur die water van die Woord was Hy die kerk (en jou) skoon’ (Efesiërs 5:26 NLV). ‘Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as die ontleedmes van ‘n chirurg. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop’ (Hebreërs 4:12 NLV). ‘Toe U gepraat het, het ek mooi geluister. Ek het elke woord ingeneem. U woorde het my bly gemaak. Dit maak my opgewonde om te weet dat ek aan U behoort, o Here God die Almagtige’ (Jeremia 15:16 NLV). Hierdie Skrifgedeeltes lei almal tot een gevolgtrekking: As jy ernstig daaroor is om in oorwinning te stap, moet jy jouself in God se Woord verdiep en God se Woord in jou verdiep. Daar is nie ‘n ander manier nie.

Sielskos: Op 10-14; Mark 14:66-72; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6

Lei jou gedagtes weer op

2020-05-07
Spreuke 16:23 DB

Die gedagtepatrone wat jy gevestig het, plaas jou op ‘autopilot.’ Dit beteken dat wanneer spesifieke situasies voorkom, jy geprogrammeer is om op ‘n sekere manier te reageer. Soms is dit ‘n goeie ding, soos om outomaties jouself van gevaar te distansieer. Ander kere, moet jy jou gevestigde gedagtepatrone onderbreek en jou gedagtes keer om in die verkeerde rigting te beweeg. Jy kan, byvoorbeeld, dit al vir jare lank vrees om Kersfees saam met jou familie deur te bring. Hierdie jaar kan jy egter kies om te dink: ‘Dis nie my gunstelingaktiwiteit nie, maar ek gaan vir iets goeds in elkeen van my familielede uitkyk.’ Of miskien het jy in die gewoonte verval om te kla en oorweldig te voel wanneer jy jou rekeninge aan die einde van die maand ontvang. Jy kan eerder kies om te dink: ‘Ek gaan soveel as moontlik hieraan afbetaal en bietjie vir bietjie sal ek uit die skuld kom.’ Miskien hou jy nie van jou werk, jou baas of jou kollegas nie. Indien dit die geval is, het jy ‘n keuse. Jy kan negatief en krities wees, of jy kan sê: ‘Ek is bly ek het ‘n werk; baie mense het nie een nie. Ek gaan elke dag my bes doen en glo dat God vir my guns by my baas sal gee. My werksomgewing is dalk nie ideaal nie, maar ek sal my deel doen om dit vir myself en die mense rondom my, aangenaam te maak.’ In plaas van om op jou eerste gedagtes te reageer, lei jou gedagtes – een gedagte op ‘n keer – op om anders te dink. Dit sal ‘n bietjie werk verg, maar wanneer jy God se gedagtes dink, help Hy jou om alles te bereik wat jy moet bereik.

Sielskos: Num 14-15; Mark 7:1-13; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8

Wees versigtig wie jy nader (2)

2020-03-01
Psalm 32:5 NLV

Wanneer jy met ‘n hardkoppige gewoonte of verslawing stoei, sal jy krag in die regte ondersteuningsgroep vind. Jy moenie skaam wees om vir hulp uit te reik wanneer jy dit nodig het nie – maar wees versigtig aan wie jy jou sondes bely! Die Psalmdigter het geskryf: ‘…’Ek bely my opstand teen die Here.’ En my sonde en oortredings het U vergewe.’ Een Bybelonderwyser stel dit so: Moet nooit iets bespreek wat jy wil hê iemand anders moet vergeet nie. Jou woorde maak gedagtes permanent; hulle gee lewe en langslewendheid aan alles wat bespreek word. Argumente sou sterf en konflikte sou ophou, as dit nie was vir jou woorde wat hulle gehandhaaf het nie. Woorde blaas lewe in alles in. ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Woorde kan seermaak. ‘Skinderstories is so soet soos lekkers. Jy sluk dit maklik, en dit sink tot diep in jou gemoed’ (Spreuke 18:8 NLV). Jy kan nie ander mense keer om van jou te praat nie, maar moenie vir hulle inligting gee wat jy dalk sal wil hê hulle moet vergeet nie. Moet ook nooit onnodige inligting gee wat meer vrae inspireer nie. Wees versigtig wanneer jy jou foute bely. Jou poging om openlik te wees mag dalk baie opreg wees, maar jou fout mag dalk groter in hulle geheue wees as die les wat jy daaruit geleer het en met hulle probeer deel. Daar is natuurlik tye wanneer addisionele inligting en verduideliking raadsaam, voordelig of selfs noodsaaklik is, maar jy moet wys wees. Fokus op jou toekoms, nie op jou verlede nie. Moet nooit iets sê wat jy nie wil hê die res van jou lewe herhaal moet word nie.’

Sielskos: Hand 2:1-21; Joël 2:23-32

God praat deur jou gedagtes

2020-02-12
1 Johannes 2:20 NLV

Het jy al ooit ‘n gesprek met iemand in jou gedagtes gevoer? Eers bespreek jy die een kant van die kwessie en dan die ander. Dink dus hieroor: As jy ‘n gesprek met jouself in jou gedagtes kan hê, dink jy nie God kan ook ‘n gesprek met jou in jou gedagtes hê nie? Die probleem is dat ons gedagtes dikwels onbetroubaar is omdat ons dit met soveel gemors besoedel; daarom twyfel ons aan sy vermoë om met ons deur ons gedagtes te praat. Sodra God jou verlos, begin Hy om jou denke te vernuwe (sien Romeine 12:2). Paulus skryf: ‘…’Wie kan verstaan wat die Here dink? Wie kan Hom raad gee?’ Óns kan hierdie dinge egter verstaan, want ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV). Wanneer God jou red, begin Hy om sy gedagtes deur jou te dink. Hy praat deur verskeie kanale – jou gedagtes is net een daarvan. Die Bybel sê: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). God sal jou wil rig en in jou ‘n begeerte skep om die dinge te doen wat Hom behaag. Hy volhard ook in sy leiding. Wanneer ‘n begeerte om iets te doen aanhoudend terugkeer, mag dit dalk God wees wat jou lei. Dis hoekom dit noodsaaklik is om jou gedagtes te monitor en te beskerm. Jesus het gesê: ‘Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het’ (Johannes 15:3 NLV). Reinig jou gedagtes elke dag met God se Woord en stel jouself in om te hoor wat Hy vir jou sê.

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Matt 13:47-58; Ps 141; Spr 4:18-19

Die regte brandstof vir jou gedagtes?

2020-01-17
Romeine 12:2 NLV

Ons prestasie word deur dit wat ons verbruik, bepaal. Dis hoekom jy versigtig moet wees met wat jy jou liggaam, jou kinders, jou troeteldiere en selfs jou kar voer. Dit waarmee jy jou gedagtes voer is net so belangrik, veral wanneer jy hierdie twee lewenswette oorweeg: 1) Die wet van kognisie. Jou gedagtes beïnvloed jou emosies en jou gedrag. Jesus het gesê dat ‘n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie en dat ‘n slegte boom nie goeie vrugte kan produseer nie (sien Matteus 7:18). Met ander woorde, goeie denke kan nie slegte resultate produseer nie, net soos slegte gedagtes nie goeie resultate kan produseer nie. 2) Die wet van blootstelling. Die Bybel sê: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ Jy sal altyd aan dit waaraan jy die meeste blootgestel word, dink. As mens kyk na die geweld, belusting en gierigheid wat deur die media uitgebeeld word, is dit g’n wonder dat misdaad en onsedelikheid hoogty vier nie. Jy kan nie net sê: ‘Ek gaan hierdie tydskrif lees, hierdie program kyk, na hierdie musiek luister, maar dit sal my nie affekteer nie.’ Sosiale wetenskaplikes bevestig wat God nog altyd sê – dit affekteer jou wel! Waar jy gaan, wat jy lees (of nie lees nie), wat jy kyk en die drome wat jy het, vorm jou gedagtes. Paulus skryf: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (Kolossense 3:16 NLV). Wanneer jy dus die regte brandstof vir jou gedagtes nodig het, onthou: ‘[God se] boodskap kan julle geloof sterk maak en dit kan julle help om te weet dat God vir julle die dinge sal gee wat Hy belowe het om vir al die gelowiges te gee’ (Handelinge 20:32 ABA).

Sielskos: Eks 25-27; Matt 8:1-9; Ps 81; Spr 2:11-15