2020-07-06
Deuteronomium 8:18 NLV
Die beroemde uitvinder, Samuel Morse, het daarvan gedroom om eendag ‘n groot skilder te wees. Hy het selfs na Parys gereis om sy droom na te streef. Jare tevore, het sy prediker-pa, Jedediah Morse, hom raad in die woorde van die Graaf van Chesterfield gegee: ‘Fokus op een ding op ‘n slag. Die standvastige aandag op een item is die ware teken van ‘n meerderwaardige intellek.’ Gevolglik het Morse hom in sy kuns gewerp. Na ‘n reeks terugslae, het hy dit op die ou einde prysgegee. Die finale terugslag was toe hy nie gekies is om ‘n historiese muurskildery in Washington te verf nie. Die historikus, David McCullough, sê in sy boek The Greater Journey: ‘Hy moet aan een ding op ‘n slag sy aandag gee, het sy pa vir hom gepreek. Daardie ‘een ding’ sou uiteindelik sy telegraaf wees. As hy nie ophou skilder het nie, sou Morse nooit die suksesvolle elektromagnetiese telegraaf uitgevind het nie.’ Samuel Morse het redelik laat in sy loopbaan sy skilderkuns opgegee om daarop te fokus om die telegraaf uit te vind en uiteindelik het ‘n taal genaamd ‘Morse Kode’ die manier wat die wêreld kommunikeer, getransformeer. Die Bybel sê: ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ Goeie nuus: God het nie ‘n ouderdomsbeperking nie! Hy kan jou sukses aan die begin, die middel of die einde van jou lewe gee. Jy moet egter bereid wees om die dinge waarin jy misluk het te laat gaan, om sodoende die ding waarin jy sukses sal behaal, aan te gryp.
Sielskos: Jer 28-30; Luk 5:12-26; Ps 110; Spr 15:8-9
2020-06-23
Spreuke 4:27 NLV
Baie van ons misluk, nie omdat ons nie talentvol, gedetermineerd of passievol is nie, maar omdat ons van ons ‘koers afwyk.’ God het vir die profeet Habakuk gesê: ‘…Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters op kleitablette sodat iemand wat verbyhardloop dit kan lees’ (Habakuk 2:2 NLV). Tensy jy ‘n duidelik gedefinieerde doelwit het en dit ten alle tye voor jou hou, sal jy nie in die regte rigting hardloop nie. Motiveringspreker en skrywer, Sam Horn, het gesê: ‘Dis moeilik om op koers te bly, as ons nie weet wat ons bestemming is nie.’ In sy boek, One Big Thing, skryf Phil Cooke: ‘Ek was nog nooit ‘n aanhanger van die persoon wat die ‘oop deur beleid’ uitgedink het nie. Ja, ons wil toeganklik vir kollegas en werknemers wees, maar op ‘n stadium is dit tyd om die deur toe te maak en aan die werk te spring. Na jou volgende onderbreking, maak ‘n nota van hoe lank dit neem om weer by jou vorige vlak van intensiteit en fokus te kom. Jy sal geskok wees oor hoeveel tyd dit van jou dag steel. Te dikwels geniet ander mense se behoeftes prioriteit bo jou droom. Natuurlik moet ons vir ons kinders sorg, ons eggenote eer en ons primêre verantwoordelikhede rondom ons familie en werk nakom. Die eerste tree om jou droom te vervul, is egter om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Dit beteken dat jy dit moet skeduleer en minder belangrike behoeftes van kollegas en vriende moet ‘onskeduleer.’ Hierdie daaglikse verpligtinge beitel ons tyd weg en kort voor lank verdwyn jou droom in die stof. Hou dus op om te doen wat ander mense belangrik ag en begin fokus op dit wat vir jou (en God!), belangrik is.’
Sielskos: Hosea 1-5; Luk 2:8-20; Ps 8; Spr 14:9-12
2020-03-27
Filippense 3:14 NLV
‘n Deel van Paulus se sukses kan toegeskryf word aan die feit dat hy so gefokus was. ‘Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee…’ Fokus kan energie en krag aan amper enigiets gee, of dit nou geestelik, emosioneel of fisies is. Die sosioloog, Robert Lynd, het opgemerk dat ‘kennis slegs mag is, indien ‘n mens weet aan watter feite nie aandag gegee moet word nie nie.’ Die geboorte van ‘n potensiële deurbraak is dikwels die gevolg wanneer jy verskeie goeie idees met mense deel. Om idees egter na die volgende vlak te neem, moet jou gedagtes minder uitgestrek en meer selektief wees. ‘n Goeie idee word ‘n uitstekende idee wanneer jy die tyd neem om daarop te fokus. Dit mag dalk frustrerend wees om vir ‘n lang tyd op een idee te fokus, maar jou volharding sal vrugte afwerp. Die brein sal nie fokus totdat dit ‘n doelwit het nie. Die doel van jou doelwitte is egter om jou aandag te fokus en rigting te gee, nie om ‘n finale bestemming te identifiseer nie. Soos jy oor jou doelwitte dink, moet jy seker maak dat hulle: 1) duidelik genoeg is om in fokus te bly; 2) naby genoeg is om bereik te kan word; 3) nuttig genoeg is om lewens te verander. Hierdie drie riglyne sal jou aan die gang sit. Maak seker dat jy jou doelwitte neerskryf. As jy hulle nie neerskryf nie, kan jy amper gewaarborg wees dat hulle nie genoeg gefokus is nie. As jy waarlik wil seker maak dat hulle gefokus is, neem die raad van David Belasco aan: ‘As jy nie jou idee op die agterkant van my besigheidskaartjie kan neerskryf nie, is jou idee nie duidelik genoeg nie.’
Sielskos: Job 29-31; Matt 26:1-13; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2019-11-20
Handelinge 20:28 NLV
Hier is nog ‘n kwessie waarmee pastore dikwels sukkel: Hulle weet hoe om ander geestelik te voed, maar nie hulself nie. Voor Paulus die kerk in Efese die laaste keer verlaat het, het hy die kerkleiers byeen gebring en gesê: ‘Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het…’ Voor God die bediening bou, bou hy die predikant; andersings word jy ‘n maklike teiken vir die Vyand. Toe die administratiewe kant van die kerk gedreig het om die apostels se daaglikse gebed- en Bybelstudietyd weg te neem, het die apostels geantwoord: ‘Óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.’ Pastoor, moenie net daarop fokus om jou preek voor te berei nie, berei ook jou gees voor! Moet nie net grense vir jou mense stel nie, stel ook grense vir jouself. Wanneer jy glo dat jy geestelike kortpaaie kan neem, maak dit jou vir verkeerde verhoudings en destruktiewe gewoontes ontvanklik. Uiteindelik lewe jy dan op twee vlakke – publieke diens en private stryd. Wanneer dit gebeur, lewe jy met die vrees van blootstelling, jy voel soos ‘n skynheilige en jy gee die selfvertroue wat jy nodig het sodat God jou kan gebruik, prys (sien 1 Johannes 3:21,22). Gevolglik word die kerk geestelik beroof en ly hulle daaronder. Dus: wat het sukkelende diensknegte van God nodig? Geestelike vaders! Paulus skryf: ‘Daar is baie mense wat vir julle leer van Christus… Maar julle het nie baie vaders nie…’ (1 Korintiërs 4:15 NLV). Kry ‘n volwasse, gesoute vriend in die bediening en reik uit na hulp voor jou probleem buite beheer raak. Dis nie net ‘n goeie idee nie – jou oorlewing in die bediening mag dalk daarvan afhang!
Sielskos: 2 Kro 25-28; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12
2019-10-11
Filippense 4:6-7 NLV
God se vrede is wonderlik. Sommige mense rondom jou het dit vandag nodig. Jy ontvang dit wanneer jy jou lewe aan God toevertrou en volgens die beginsels wat in die Skrif weergegee word, lewe. Wanneer jy iets aan God ‘toevertrou,’ gee jy elke deel daarvan aan Hom (sien Psalm 37:5). Petrus skryf: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Wat ‘n voorreg. Het jy onlangs daarvan gebruik gemaak? ‘Hoe gee ek al my bekommernisse aan Hom oor?’ vra jy. Deur gebed! Sodra jy bewus word dat jy jouself begin bekommer en jou sin vir vrede begin verloor, neem dit onmiddellik na God toe en los dit daar by Hom. Moenie die Duiwel kans gee om aan jou te begin werk nie. Hoe langer jy wag, hoe groter word sy houvas op jou. ‘Maar ek kan nie help om daaraan te dink nie,’ sê jy. ‘Wat kan ek doen?’ Hierdie twee dinge: 1) Gee dit oor aan God en begin op ander dinge fokus. Dis ‘n reaksie wat jy moet aanleer en een wat jy daagliks moet oefen. Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV). Met ander woorde, herlei jou gedagtes! 2) Vind uit wat God in sy Woord oor jou situasie sê. Bring dan jou gedagtes, woorde en aksies in lyn daarmee. As jy dit doen, sal jy God se vrede beleef.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28