Maak seker daarvan om God te prys!

2020-11-14
Psalm 34:2 NLV

Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees… Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons saam sy Naam prys’ (verse 2-4 NLV). Let drie dinge in hierdie Skrifgedeelte op:

1) Jy moet kies om die Here te prys. ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees.’ Dis nie ‘n impuls nie, dis ‘n keuse wat jy maak, ongeag jou gevoelens. Die woord ‘halleluja’ is die bevelvorm van die woord ‘prys’. Dis ‘n uitdrukking van lofprysing, maar dis ook ‘n bevel om die Here te begin prys.

2) Lofprysing roer jou emosies. Eerstens, het Dawid die Here geprys omdat hy beveel is om dit te doen. Tweedens, het hy die Here geprys omdat hy dit wou doen. As jy jou gevoelens wil verander, moet jy jou fokus verander. Voor dit verby was, het Dawid gesing: ‘Maar hulle wat die Here dien, sal Hy bevry. Nie een wat by Hom skuil, sal veroordeel word nie’ (vers 23 NLV).

3) Lofprysing beïnvloed ander. ‘Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons sy Naam prys.’ Lofprysing is aansteeklik; dit verander die atmosfeer rondom jou. Wanneer jy saam met mense lofprys, gee dekorum pad voor verruklikheid en jy bevind jouself in ‘n area van vreugde wat jy nog nooit vantevore ervaar het nie.

Lofprysing het verskeie vorms van uitdrukking. Psalm 150 noem nege verskillende maniere om God te prys. Jy kan praat, skree, sing, jou hande klap of hulle ophef. Jy kan musikale instrumente speel, jy kan staan, kniel of dans. Die punt is – maak seker om God te prys!

Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Joh 11:1-16; Ps 4; Spr 26:17-22

Hoe om moedeloosheid te oorkom (2)

2020-11-12
Nehemia 4:14 NLV

Moenie net aan die probleem dink nie, dink aan die Here. Nehemia het gesê: ‘Ek het sake dopgehou en toe die leiers, die amptenare en die res van die volk bymekaargeroep en gesê: ‘Moenie vir die vyand bang wees nie! Hou in gedagte dat die Here groot en vreesaanjaend is’…’

Wat moet jy spesifiek onthou? Drie dinge: 1) Onthou die Here se goedheid aan jou in die verlede. Wanneer jy aan al die goeie dinge wat Hy reeds in jou lewe gedoen het begin dink, sal jou gees opgebeur word en jou angs verminder.

2) Onthou God se nabyheid in die hede. Wat is Hy besig om tans in jou lewe te doen? Die waarheid is dat Hy by jou is, of jy nou sy nabyheid voel of nie. Hy het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).

3) Onthou God se krag vir die toekoms. Hy sal jou krag vir jou behoeftes gee.

Wanneer jy moedeloos raak, neem jou gedagtes van die omstandighede af en fokus op die Here, want omstandighede kan jou depressief maak en jou ontmoedig. Die kans is goed dat jy moedeloos voel, omdat jy negatiewe gedagtes dink.

Kies ‘n paar bemoedigende Bybelverse om te memoriseer en vir jouself aan te haal: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). ‘…As ‘n mens glo, is álles moontlik!’ (Markus 9:23 NLV). Hou in gedagte dat dit jou gedagtes is wat jou gevoelens bepaal en wanneer jy jou gedagtes met beloftes uit God se Woord vul, kan jy moedeloosheid oorkom.

Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 26:7-12

‘Die hemelse dinge’

2020-10-29
Kolossense 3:2 NLV

Die Bybel sê: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op hierdie aarde nie.’ Daar is baie dinge wat in hierdie wêreld kan gebeur wat maklik ons gedagtes en emosies kan affekteer. Ons moet leer om bo hulle uit te rys. Wanneer negatiewe gedagtes opbou en beheer van jou emosies probeer neem, moet jy ‘n paar minute neem om jou gedagtes op ‘die hemelse dinge’ te fokus. Dit help dikwels om op ‘n positiewe manier oor dit wat jou pla, te praat.

Gesels byvoorbeeld as volg met jouself: ‘My familie mag dalk nie alles wees wat ek wil hê hulle moet wees nie, maar ek is dankbaar dat ek ‘n familie het. My huis mag dalk nie so mooi en netjies wees soos ek dit sal verkies nie, maar dis steeds ‘n goeie plek om te bly. Ek mag dalk tans deur ‘n moeilike tyd gaan, maar Jesus is met my en gaan my hierdeur bring.’

Die duiwel weet watter knoppies om te druk om ‘n emosionele reaksie te ontlok. Wat moet jy dus doen? Staan op God se Woord: ‘Geseënd is hulle vir wie U vermaan, Here, vir wie U uit u gebooie onderrig. U gee hom verligting in moeilike tye…’ (Psalm 94:12-13 NLV).

Hoe meer jy jouself dissiplineer om nee vir jou gevoelens en ja vir God se wysheid te sê, hoe makliker word dit om die Vyand in ‘n geestelike stryd te oorwin. Besluit dus vandag dat jy nie jou lewe rondom onbetroubare emosies gaan rangskik nie en fokus eerder op ‘die hemelse dinge’!

Sielskos: Esra 1-2; Joh 7:14-24; Ps 104:24-35; Spr 24:28

Dra altyd ‘n boek met jou saam

2020-10-19
1 Timoteus 4:13 NLV

Wat jy lees en bestudeer, is wat jy word. Wanneer jy die regte boeke met jou saamdra, onderhou jy ‘n aanhoudende vloed van waarheid en informasie na jou hart en gedagtes toe.

1) Lees ontmoedig onproduktiewe gesprekke. Jy moet altyd gereed wees om jou geloof te deel en ander mense te dien. Het jy egter al ooit langs iemand gesit wat nie wou ophou praat nie? Baie keer het mense wat daarvan hou om te praat, nie regtig iets beduidends om te sê nie. Hulle praat net om stilte te vermy, maar wanneer jy ‘n boek beskikbaar het, los dit daardie probleem op.

2) Maak ‘n lys van boeke wat jy elke maand wil lees. Dit voorkom onwyse keuses in oomblikke van verveeldheid, versoeking of moegheid. Kies aan die begin van die jaar twee-en-vyftig boeke wat jy teen die einde van die jaar wil lees – een per week.

3) Dra boeke saam wanneer jy reis. Wanneer jy weg van jou besige skedule is, kan jy droom, fokus en beplan.

Toe hy Timoteus gementor het, het Paulus geskryf: ‘…konsentreer daarop om die Skrif aan die gemeente voor te lees, die gelowiges te bemoedig en om hulle te onderrig. Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het… nie. Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (verse 13-15 NLV).

Die eerste boek wat jy moet lees is die Bybel – en dis ook die een wat jy die meeste moet lees. Lees egter ander boeke ook, omdat God die bron van alle ware wysheid en kennis is. Om Salomo aan te haal: ‘Die verstandige ding om te doen, is om eers te bekom… Stel dit hoog op prys en dit sal aan jou eer gee’ (Spreuke 4:7-8 NLV).

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 4:39-54; Ps 41; Spr 24:5-6

Hou op om die ergste te sien

2020-10-16
Matteus 6:31 NLV

Maak nie saak wat in die lewe gebeur nie, probeer om dinge in perspektief te hou. Doen jou bes om dinge te sien soos hulle waarlik is en moenie hulle uit proporsie blaas nie. Ontwikkel die gewoonte om na die groter prentjie te kyk, in plaas daarvan om op die een kwessie wat jou ontstel, vas te haak. Deur aanhoudend aan jou probleme te dink, lyk hulle groter as wat hulle regtig is.

Wanneer jy voor ‘n situasie te staan kom wat jou ontstel, moet jy eers die paniek hanteer voor jy die probleem kan hanteer. Gaan sit stil, kalmeer jouself en neem die tyd om spesifiek aan die goeie dinge wat jy geniet, te dink.

Die waarheid is dat bekommernis nooit weggaan nie. Wanneer jy een kwessie oplos, wag ‘n ander een om sy plek in te neem. Wat moet jy dus doen? Verander jou perspektief! In plaas daarvan om op jou bekommernisse te fokus, moet jy God in die situasie inbring. Het Hy jou al ooit gefaal? Nee, en Hy sal ook nooit! Die genade van God wat jou onderhou het en jou deur die vorige moeilike situasie gebring het, sal met jou in hierdie een – en die volgende een! – wees.

Let op wat Jesus oor die dinge wat ons die meeste bekommer, gesê het: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie… Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (verse 31-33 NLV).

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:13-26; Ps 32; Spr 23:29-35