Om sukses te behaal, moet jy God se Woord bestudeer
2022-02-18Psalm 119:18 NLV
Die sleutel tot Bybelstudie is om dit daagliks, sistematies en met gebed, te doen. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie.’
Dit behels drie dinge: 1) God sal jou die waarheid oor Homself wys. Jy sal sy aard, sy opinie en dit wat Hy waardeer, ontdek. As jy met ‘n afwesige ouer grootgeword het, sal jy ontdek dat jou hemelse Vader heeltemal anders is – liefdevol en anders!
2) God sal vir jou die waarheid oor ander mense wys. Jy sal begin om hulle plek in jou lewe te verstaan en te waardeer. Jy sal ook leer om hulle behoeftes en die rol wat God wil hê jy moet speel om hulle te help, te herken en te antisipeer. Jy sien, wanneer God jou seën, is dit altyd om jou ‘n seën vir ander mense te maak (sien Genesis 12:1-2).
3) God sal vir jou die waarheid oor jouself wys. Jy sal begin verstaan en waardeer hoe belangrik jy vir Hom is. Ja, Hy sal jou probleme en swakpunte uitwys. Hy sal egter meer as dit doen. Hy sal vir jou die potensiaal wat Hy in jou sien en die planne wat Hy vir jou het (sien Jeremia 29:11), openbaar.
Maak dus elke dag tyd om jou Bybel te bestudeer. Bestee ‘n gedeelte van die tyd om eenvoudig die Skrif te lees, sonder om in komplekse teologiese konsepte te probeer delf. Lees en absorbeer wat God te sê het en laat sy Gees toe om met jou hart te praat.
Hier is nog ‘n gedagte: Aangesien die Bybel die enigste boek is wat God ooit geskryf het en jy eendag voor die Skrywer self gaan staan, sal jy nie graag vir Hom wil sê dat jy sy boek gelees het nie?
Sielskos: Jes 45-48; Luk 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6