Spreek woorde wat heelheid bevorder

2022-06-16
Spreuke 6:2-3 NLV

Stormie Omartian sê: ‘Vroeg in my wandel met die Here het ek baie negatief gepraat. ‘Ek is ‘n mislukking,’ ‘Ek is lelik,’ ‘Niks loop ooit reg nie.’ Toe het die Heilige Gees met my hart gepraat: ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV).

Ek het van kindsbeen af ‘n spraakprobleem gehad en is dwarsdeur my skoolloopbaan daaroor gespot. Toe ek oud genoeg was om professionele hulp te kon bekostig, het ek met ‘n spraakterapeut begin werk. Ek het dag vir dag, jaar na jaar geoefen, maar net ‘n klein verbetering ervaar. Met elke toespraak wat ek gelewer het, het ek steeds halfpad deur my stem verloor. ‘Ek sal nooit reg kan praat nie,’ het ek gehuil. Soos ek egter daardie woorde gesê het, het die Here vir my gesê: ‘Jy bring dood oor jou situasie omdat jy nie die waarheid praat nie. Praat dit wat jy weet die waarheid in my Woord is. ‘…Die mense wat hakkel, sal maklik kan praat’ (Jesaja 32:4 NLV). ‘Ek het my woorde in jou mond gesit…’ (Jesaja 51:16 NLV).

Kort daarna, toe ek gevra is om ‘n toespraak by ‘n damesoggend te lewer, het ek my vrese na God toe geneem en sy waarheid gepraat in plaas daarvan om my eie negatiewe opinies te lug. My praatjie het so goed afgeloop dat ‘n hele nuwe bediening daaruit ontstaan het. Die Bybel sê: ‘as jy gevang is deur wat jy sê, vir jouself ‘n strik gestel het, dan moet jy gou iets daaraan doen…’ (Spreuke 6:2-3 NLV). Dit sluit die manier wat jy met jouself praat, in. Vee woorde van hopeloosheid, twyfel en negatiwiteit uit jou woordeskat uit. Dit mag dalk onskadelik klink, maar dit affekteer jou liggaam en siel. Spreek woorde wat die heelheid wat jy begeer, reflekteer.’

Sielskos: 2 Kon 7-9; Matt 18:10-20; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16