Sleutels tot gebede wat beantwoord word (1)

2022-06-05
Hebreërs 11:6 NLV

Net soos die regte sleutel die deur oopsluit, is daar Skriftuurlike beginsels wat waarborg dat jou gebede beantwoord sal word. Kom ons kyk die volgende paar dae daarna.

Geloof. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (vers 6 NLV). God reageer nie noodwendig op jou behoefte nie. Waarop reageer God dus? Jou geloof! Satan sal egter jou gedagtes met vertwyfeling probeer vul. Wanneer hy dit doen, moet jy jou hart ondersoek en kyk wat dit sê.

Jy kan God se Woord in jou hart glo, selfs wanneer jou gedagtes dit bevraagteken. Staan dus op dit wat in jou hart is en nie op dit wat in jou gedagtes is nie. Soms begin twyfel met afleiding. Wanneer jou aandag van God se beloftes afgelei word, begin jy twyfel. Soos jy meer en meer op jou probleme fokus, begin jou geloof wankel. Wanneer dit gebeur, moet jy soos ‘n laser op God se beloftes herfokus – en slegs skrams na jou probleme kyk. Moet hulle nie probeer ontken nie, maar moenie hulle onnodige aandag gee nie.

Die Bybel sê: ‘Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:6-8 NLV). Bly aan God se Woord geanker en moenie begin ronddryf wanneer jou omstandighede begin verander nie.

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18