Selfbeheersing
2022-03-302 Petrus 1:6 NLV
Het jy al ooit agtergekom dat ons geneig is om ons omstandighede, in plaas van ons tekortkominge, te blameer? Ons skryf ons probleme aan ons swak opvoeding, finansiële moeilikhede of aan ander mense se tekortkominge, toe. Net soos jy nie die spieël kan blameer vir hoe jy lyk nie, net so kan jy ook nie jou karakterfoute op jou omstandighede blameer nie.
Integriteit is altyd ‘n keuse en elke keer wat jy ‘n karakter-gebaseerde besluit maak, neem jy ‘n tree vorentoe in jou geestelike groei. Dink aan die kere wat jy voor versoeking en teenstand te staan gekom het. Skryf hulle neer en dui langs elkeen die keuse wat jy gemaak het aan: om te ontsnap, te verskoon, in te gee, te vermy, uit te hou of te oorkom. Watter probleemareas kan jy identifiseer? Hoe kan jy beter doen? As die dinge wat jy neergeskryf het buite jou beheer was, kies dan om groter beheer van jou lewe te neem.
Hoe? Deur selfbeheersing toe te pas. Karakter word gebaseer op dit wat ons doen wanneer niemand anders kyk nie – hoe ons die lewe se klein ergenisse hanteer en hoe ons mislukking – en sukses – hanteer. Aan die einde van ‘n briljante loopbaan, het Josua vir Israel met hierdie woorde uitgedaag: ‘As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid… Ek en my huisgesin sal die Here aanbid’ (Josua 24:15 NLV).
Karakter word op selfbeheersing gebaseer en selfbeheersing gaan daaroor om die regte besluite te neem. Die goeie nuus is dat jy dit nie alleen hoef te doen nie: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV).
Sielskos: Job 38-39; Luk 20:27-40; Ps 6; Spr 8:32-33