Satan wil jou keer (2)
2020-04-14Sagaria 3:1 NLV
Soms is Satan se aanvalle voor die handliggend. In die Ou Testament, skryf die profeet Sagaria: ‘Die engel het Jesua die hoëpriester vir my gewys. Hy het voor die engel van die Here gestaan. Die Satan het regs van die engel gestaan, besig om Jesua van baie dinge aan te kla.’ Satan verkies gewoonlik om incognito te werk, dus sal hy jou deur middel van mense aanval – dikwels die mense naaste aan jou. Die Bybel sê vir ons: ‘Gedurende die aandete het die duiwel alreeds ‘n saadjie in die hart van Judas… geplant om Jesus uit te lewer’ (Johannes 13:2 NLV). Wat is dus jou beste lyn van verdediging? Die lewende Woord van God. Jesus het voor meer versoekings as wat enigeen van ons kan verduur, te staan gekom en drie keer die Satan afgeweer deur die Skrif vir hom aan te haal. Wanneer Satan jou gedagtes met versoeking, veroordeling, vertwyfeling en minderwaardige gevoelens aanval, is God se Woord ‘n skild wat hy nie kan deurdring nie. Let op wat gebeur het nadat Jesus die geveg met die Vyand gewen het: ‘Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg’ (Matteus 4:11 NLV). Jy is nie alleen nie. God het ‘n skare engele rondom jou geplaas om jou te versterk en jou te beskerm. ‘Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat gered gaan word’ (Hebreërs 1:14 NLV). Gedurende seisoene van teëspoed, moet jy onthou dat jy ‘n oorwinnaar en nie ‘n slagoffer is nie. Straal geloof uit. Verwag dat jou geloof bonatuurlik geëer sal word deur die God wat belowe het om in te tree wanneer jy Hom die nodigste het (sien Jesaja 59:19).
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Mark 1:1-8; Ps 50:16-23; Spr 10:4-7