Raak ontslae daarvan
2020-12-16Efesiërs 4:31 NLV
Die woorde: ‘Raak ontslae van alle bitterheid,’ roep die beeld op van ‘n sjirurg wat ‘n kwaadaardige groeisel uitsny om die persoon se lewe te red. ‘n Ander vers: ‘…Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV), beveel ons om waaksaam te wees, omdat ‘n klein saadjie bitterheid wortel kan skiet en probleme veroorsaak.
Bitterheid het baie oorspronge: ‘n afwesige of skellende ouer wie ons nie kan vergewe nie; ‘n aaklige skeisaak wat ons aanhou herleef; die sorgelose fluistering van ‘n vriend wat nie eers bewus is van die effek daarvan op jou nie; ‘n baas wat ons vir bevordering oorgesien het.
Wat is die antwoord? Paulus skryf: ‘…Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:32 NLV). Hoe gouer jy dit doen, hoe beter! Die swaarste ding wat jy ooit sal ronddra, is ‘n wrok. Jou primêre begeerte sal dan wees om die skuldige party aan die pen te laat ry, veral wanneer jy of jou geliefde die slagoffer is.
Satan kom dan die situasie binne en oortuig jou dat dit reg is dat jy ‘n wrok koester. Jy beskerm mos net jouself sodat jy nie weer seerkry nie, nie waar nie? Wanneer dit gebeur, skop jy vas, jy probeer jou posisie regverdig en jy raak gemaklik daarmee om met bitterheid saam te lewe. Totdat dit jou vernietig.
Dit hoef egter nie met jou te gebeur nie, omdat daar geen emosie is wat so diep wortel geskiet het dat God se genade dit nie kan bereik en verwyder nie. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Raak ontslae van alle bitterheid.’
Sielskos: Neh 8-10; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23