Op ‘n ompad gelei

2024-09-22
Eksodus 13:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Toe die farao uiteindelik die volk laat gaan, het God hulle nie kortpad deur die Filistynse gebied laat trek na die land wat Hy vir hulle beloof het nie. Die Here het gesê: ‘As die volk nou met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug Egipte toe.’ Daarom het God hulle eerder met die woestynpad… laat trek…’ (verse 17-18 NLV).

Daar is ‘n les hieruit te leer. God weet waar jy op jou geestelike reis is en Hy lei jou daarvolgens, selfs al lyk dit asof jy op ‘n ompad is. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede’ (Psalm 37:23 NLV).

Die kortste roete van Egipte tot by die Beloofde Land was deur vyandige grondgebied en God het geweet dat sy mense nie reg vir ‘n oorlog was nie. Om God se mense uit Egipte te kry was op die ou einde die maklike deel; om Egipte uit God se mense te kry was veel moeiliker. Nadat hulle veertig generasies lank van die farao afhanklik was, moes hulle God en sy maniere leer ken en leer om Hom te vertrou. Dus het Hy hulle reis gevolglik bepaal.

Is jy tans besig om ‘n woestynervaring te hê? Wees bemoedig. Die vervulling van dit wat God jou beloof het mag dalk langer neem as wat jy gedink het, maar dis nie tyd wat gemors word nie. God is ook nie besig om jou te straf nie; Hy is besig om jou vir jou roeping op te lei. Wat moet jy dus doen? 1) Bestee tyd saam met Hom in gebed en sy Woord. 2) Maak minder op jouself en meer op God staat. 3) Put krag uit sy genade en volg sy leiding.

Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12