Oorwinnaars van reuse (3)
2018-11-181 Samuel 17:40 NLV
In Dawid se tyd het hulle deur middel van ‘verteenwoordiging’ geveg. Een man sou die nasie as ‘n geheel beveg en die land van die soldaat wat verloor, sou onderdanig aan die land van die wenner word. Dus was die geveg tussen Dawid en Goliat inderwaarheid ‘n geveg tussen Israel en die Filistyne. Ons is bekend met Dawid se oorwinning oor die reus met geloof, ‘n klippie en ‘n slingervel. Tog sê die Skrif vir ons dat hy nie net een klip opgetel het nie, maar ‘…vyf gladde klippies…’ Hoekom? Dit was nie ‘n gebrek aan geloof nie – hy het geweet dat Goliat vier broers het. Let op: 1) Oorwinnaars van reuse besef dat hulle reus groter kwessies verteenwoordig. ‘n Reus staan nooit alleen nie, agter hom lê sy redes. Verslawing, mishandeling en woede word almal deur ander kwessies voortgedryf en ondersteun. Iewers agter die ooglopende reus is sy ondersteunende broers – pyn, skuldgevoelens, verlies en skaamte. Dawid was voorbereid met vyf klippies – een vir Goliat en een vir elk van sy vier broers. Wat lê agter jou reus? Met God se hulp kan jy beide jou reus en sy ondersteuningspan oorwin. 2) Oorwinnaars van reuse word nie deur die uitdagings oorweldig nie. Moet nooit toelaat dat jou vrese jou geloof oorweldig nie. Die Bybel sê dat ‘…God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Vrees sal op die mislukkings in die verlede voed, maar jy kan nie toelaat dat gister se vrees vandag se geloof oorweldig nie. Neem dus vandag jou mislukkings; maak ‘n lys daarvan op ‘n stuk papier en skryf in groot letters bo-aan die bladsy: ‘Dinge wat ek nie weer hoef te probeer nie! Ek het die les geleer.’
Sielskos: Dan 1:3-21; Dan 3:7-30; Dan 5:10-12; Dan 9:1-19