Oorkom stres (5)
2019-09-16Markus 3:14 NLV
Moenie dit alles self probeer doen nie. Een van die redes hoekom ons gestres raak, is omdat ons dink dat alles van ons afhang. Nie Jesus nie. Hy het twaalf ander mense ingeroep, opgelei en bemagtig sodat hulle die las kon help dra. Hy het sy werk gedelegeer. Hy het ander mense betrek. Hoekom doen ons dit nie? Twee redes: 1) Perfeksionisme. Ons dink: ‘As ek die werk goed gedoen wil hê, moet ek dit self doen.’ Dis ‘n oulike idee, maar dit werk gewoonlik nie uit nie omdat daar net te veel dinge is wat gedoen moet word. Ons het eenvoudig nie die tyd of die talent om alles self te doen nie. Dis inderwaarheid ‘n egoïstiese houding wat sê: ‘Niemand, maar niemand kan dit soos ek doen nie!’ Dink jy Jesus kon ‘n beter werk as sy dissipels gedoen het? Natuurlik, maar selfs met daardie wete, het Hy hulle steeds die werk laat doen. Hoekom? Omdat ons ander mense moet toelaat om foute te maak om sodoende te leer, dieselfde manier wat die dissipels geleer het. Moenie ander mense se opvoeding steel nie. 2) Onsekerheid. ‘Wat as ek hierdie verantwoordelikheid vir iemand anders gee en hulle doen dit beter as ek?’ Hierdie moontlikheid is ‘n bedreiging vir baie van ons. Jy sal egter nie bedreig voel as jy weet wie jy is, wie jy probeer tevrede stel, wat jy wil bereik en die een ding waarop jy moet fokus, weet nie. Om effektief te wees moet jy ander mense betrek, want jy kan nie op meer as een ding op ‘n slag fokus en dit goed doen nie.
Sielskos: Hoogl 1-4; Matt 25:41-46; Ps 3; Spr 21:4-8