Onthou om: ‘Ek is lief vir jou,’ te sê
2022-02-141 Samuel 20:17 NLV
In die hoop om hulle verhouding te red, het ‘n vrou haar man na ‘n berader toe gesleep. Gedurende hulle sessie het die berader vir die man gevra: ‘Sê jy vir jou vrou jy is lief vir haar?’ Die man het gemompel: ‘Ek het vir haar gesê ek is lief vir haar toe ons getrou het – en as dit ooit verander, dat ek haar sal laat weet.’
Mense weet dat jy vir hulle lief is, wanneer jy dit vir hulle wys en wanneer jy dit vir hulle sê. Die verhouding tussen Jonatan en Dawid was so sterk dat hulle bereid was om hul lewens vir mekaar af te lê. Tog sê die Bybel: ‘Jonatan het sy eed van vriendskap met Dawid hernu, want… hy het hom liefgehad soos homself.’
Wanneer jy ‘n geliefde verloor, besef jy dat verhoudings baie belangriker as besittings is. Wanneer ‘n mens net ‘n kort tyd oor het om te lewe, verander jou perspektief radikaal. Dit maak dat jy elke kosbare oomblik met belangrike woorde wat jy nog nie gesê het nie en belangrike dinge wat jy nog nie gedoen het nie, wil vul.
Moenie toelaat dat jou selfgesentreerdheid wat agter ‘n masker van ambisie of godsdienstige ywer wegkruip, jou daarvan weerhou om jou liefde aan die mense in jou lewe wat nodig het om dit te hoor, uit te druk nie. Maak daardie oproep. Stuur daardie epos. Koop daardie blomme. Sê: ‘Ek is lief vir jou.’
Ja, dis belangrik om jou Godgegewe opdrag in die lewe te vervul, maar nie ten koste van die mense wat werklik saak maak nie. Klein woordjies wat mense nooit moeg word om te hoor nie, is: ‘Ek is lief vir jou.’ Dis nie ingewikkeld nie – dit verg net bedagsaamheid.
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19