Onthou God se goedertierenheid aan jou
2020-06-11Psalm 26:3 AFR53
Daar is ‘n verhaal van ‘n klein seuntjie aan wie gevra is: ‘Sê jy elke aand jou gebedjie op?’ Hy het geantwoord: ‘Nee, party aande het ek niks nodig nie!’ Ons glimlag, maar die punt is pynlik voor die hand liggend. As jou man of vrou net met jou gekommunikeer het wanneer hulle in die moeilikheid was of ‘n behoefte gehad het wat hulle nie self kon vervul het nie, hoe lank dink jy sou die verhouding gehou het? Daar moet ‘n balans tussen jou lofprysing en jou petisies wees. Jy sê: ‘As die Here groot genoeg is om die heelal te skep en te bestuur, twyfel ek of Hy gepla is as iemand so onbenullig soos ek nie dankie sê nie.’ Dis nie so nie! Toe Jesus tien melaatse mans genees het en net een teruggedraai het om dankie te sê, het Hy gevra: “…’Waar is die ander nege?'” (Lukas 17:17 NLV). As God alleenlik jou op grond van sy geregtigheid en jou geneigdheid tot ongeregtigheid hanteer het, sou jy dit nie gemaak het nie! Hy doen dit egter nie. Hy sê: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe’ (Jeremia 31:3 NLV). Toe die Psalmdigter dit besef, het hy geskryf: ‘Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef’ (Psalm 63:4-5 AFR53). Iemand het geskerts: ‘God gee nie om om ‘n faktuur te ontvang nie, solank as wat Hy daarvoor gedank word!’ Neem dus ‘n oomblik en onthou God se goedertierenheid aan jou.
Sielskos: Op 19-22; Mark 15:21-32; Ps 143; Spr 13:9-10