Omskep jou verlies in wins (2)
2021-04-15Matteus 3:8 NLV
Toe Israel se leiers na Jefta vir hulp gedraai het, was hulle in nood en wou hulle hom ‘gebruik.’. Dus het Jefta in wese gesê: ‘Kom ons verstaan mekaar mooi oor die tipe verhouding wat ons gaan hê.’ Op daardie punt het hy met hulle onderhandel en het in die hoogste leierskapsposisie geëindig.
Wanneer jou vertroue geskend word, moet jy vergewe. Deur dit te doen, maak jy jouself vry. Jy moet egter wysheid aan die dag lê om vorentoe te beweeg. God verwag nie van jou om jouself in ‘n posisie te sit waar jy weer seergemaak kan word nie.
Miskien het jy al die storie gehoor van die man wat met ‘n ernstige brandwond op sy regteroor dokter toe is. Hy het verduidelik: ‘Ek was besig om te stryk en televisie te kyk toe die foon lui en toe tel ek die strykyster in plaas van die foon op.’ Die dokter het verbaas gevra: ‘Maar hoe het jy die brandwond op jou linkeroor opgedoen?’ Die man het uitgeroep: ‘Want hy het weer gebel!’
Wanneer jy deur iemand seergemaak word, moet jy versigtig wees om jouself nie weer in ‘n situasie te plaas waar hulle jou oor en oor kan seermaak nie. Vergifnis moet onmiddellik wees, maar vertroue moet verdien word. Jou oortreder moet die vrugte van sy bekering wys – konsekwente gedrag wat bewys dat hy of sy verander het. Jesus het gesê: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.’
Jy benodig twee dinge: genade en wysheid. Genade beteken dat jy aan ander dieselfde vergifnis bewys wat God aan jou bewys het. Wysheid beteken dat jy weet watter tipe verhouding jy in die toekoms met daardie persoon kan hê.
Sielskos: Fil 1-4; Mark 2:1-12; Ps 43; Spr 10:10