Om werksekerheid te hê (1)
2024-04-07Spreuke 12:11 NLV
As jy dink dat die perfekte lewe een sal wees waarin jy nie hoef te werk nie, dink weer. God het die tuin van Eden geskep, toe het Hy Adam geskep, en toe het Hy vir Adam gesê dat dit sy werk is om die tuin te versorg. Hoekom? Omdat werk waardigheid en betekenis tot ons lewe toevoeg. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie’ (vers 11 NLV). Kom ons kyk vir die volgende paar dae hoe om werksekerheid te hê.
Die vrees om jou werk te verloor is in die volgende kernvrese gewortel: Gebrek: ‘Hoe sal ek my verpligtinge nakom?’ Ontoereikendheid: ‘Ek is nie goed genoeg nie.’ Hulpeloosheid: ‘Wat doen ek nou?’ Eensaamheid: ‘Ek sal geïsoleerd word.’ Vir sommige mense is die skaamte en vernedering om hul werk te verloor net so verwoestend as die verlies aan inkomste. Dit kan ‘n selfvervulde profesie word as jy aanhoudend wroeg dat jy jou werk kan verloor, omdat angs jou minder doeltreffend en effektief in jou werk kan maak.
As jy dus met die konstante vrees leef dat jy jou werk kan verloor, is dit tyd om op te hou om jouself te bekommer en te begin om ‘n strategie te ontwikkel wat jou posisie by die werk sal verbeter, of jou van ‘n sagte landing as jy ontslaan word sal verseker. Jou eerste en belangrikste strategie moet wees om op God se getrouheid te vertrou: ‘Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen… Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak… Dit sal gebeur as jy jou God gehoorsaam…’ (Deuteronomium 30:9-10 NLV).
Sielskos: Gal 5:22; Jes 61; Heb 12:2; Jes 35:3-10