Oefen om onselfsugtig te wees

2022-02-28
2 Korintiërs 12:15 NLV

Om mense te help, bring groot vervulling mee. Wanneer jy jou dae gebruik om ander te dien, kan jy jou kop in die aand neerlê en rustig slaap. Selfs al het jy die meeste van jou lewe bestee om selfsugtige winste na te jaag, is dit nooit te laat om jou hart te verander nie.

Dis wat Alfred Nobel gedoen het. Hy was geskok toe hy sy doodsberig in die koerant sien. (Sy broer het gesterf en die redakteur het foutiewelik Alfred se naam in die berig genoem, omdat die plofstof wat sy maatskappy gemaak het, baie mense doodgemaak het.) Dus het Nobel besluit om die res van sy lewe daaraan te wy om vrede te bevorder en erkenning te gee aan bydraes tot die mensdom. Dis hoe die idee van die Nobelpryse ontstaan het!

Wanneer jy buite jouself kyk en ‘n bydrae aan ander mense maak, begin jy werklik lewe. Onselfsugtigheid is sy eie beloning; dit hang nie van ander mense se reaksie af nie. Dis die beginsel waarvolgens die apostel Paulus gelewe het: ‘Ek sou baie graag alles wou spandeer vir julle lewe, ja, ook myself. As ek julle uitermate liefhet, hoe werk dit dat julle my dan minder liefhet?’ (vers 15 NLV).

Wanneer jy ‘n vierjarige sien, verwag jy selfsug. Wanneer jy dit egter in ‘n veertigjarige sien, is dit nie baie aantreklik nie. Van al die kwaliteite wat jy kan najaag, blyk onselfsugtigheid die grootste verskil te maak om ander deugde aan te kweek. Ja, dit dreun teen die menslike aard in. As jy egter leer om op ‘n onselfsugtige wyse te dink en ‘n gewer te word, word dit makliker om ander deugde soos dankbaarheid, liefde, respek, geduld en dissipline, te ontwikkel.

Sielskos: Eks 7-9; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19