Moenie aan woede toegee nie; vergewe hulle

2023-10-19
Job 5:2 NLV

Vir redes wat net aan God en Satan bekend is, het Job sy geld, sy kinders en sy gesondheid verloor. As daar ooit ‘n man was wat rede gehad het om kwaad te wees, was dit hy. Elifas het hom egter die volgende raad gegee: ‘Woede maak ‘n dwaas dood…’ Met ander woorde: ‘Die enigste ding wat my seerder kan maak as wat reeds gebeur het, is om toe te laat dat wrewel my gedagtes regeer en my optrede dikteer.’

Jy sê: ‘Maar ek soek geregtigheid!’ Hoeveel geregtigheid? Stel jou voor dat jou vyand aan ‘n sweeppaal vasgemaak is. Die man met ‘n sweep in die hand draai na jou en vra: ‘Hoeveel houe?’ Jy gee ‘n getal. Die sweep kraak, die bloed vloei en die straf word opgelê. Jou vyand sak op die grond neer. Is jy nou gelukkig? Voel jy beter? Het jy vrede in jou gemoed? Dalk vir ‘n rukkie, maar gou sal jy weer iets onthou en dan sal nog ‘n sweepslag nodig wees.

Wanneer sal dit dan ophou? Dit hou op wanneer jy die woorde van Jesus ernstig opneem: ‘As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie’ (Matteus 6:14-15 NLV).

Wanneer jy bid: ‘Hanteer my soos ek my naastes hanteer’ (sien Matteus 6:12), is jy waarlik bewus van wat jy sê? ‘Gee my wat ek vir hulle gee. Skenk my dieselfde vrede wat ek hulle gun. Laat my dieselfde verdraagsaamheid geniet wat ek hulle bied.’ As jy vrede wil hê, moet jy vrede maak. As jy God se vrygewigheid wil geniet, moet jy vrygewig teenoor ander wees. As jy die versekering van God se vergifnis wil hê, gee vergifnis aan ander.

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 24:1-4