Mediteer-perkoleer (4)

2023-01-10
Psalm 119:97 NLV

Bybelse meditasie is anders as meditasie soos die samelewing dit ken. Die Oosterse filosofieë leer mens dat jy jou gedagtes moet leegmaak. Dis presies die teenoorgestelde wat die Skrif sê! Bybelse meditasie beteken dat jy jou gedagtes met die waarheid wat God geopenbaar het, vul. Dawid was ‘n koning. Dink jou net die druk en probleme, eise en besluite waarvoor hy elke dag te staan gekom het, in. Tog het hy gesê: ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag.’

Het jy al opgemerk dat ons vreeslik baie tyd aan alledaagse dinge soos op die foon wees, in rye wag en bestuur, bestee? In groot stede neem dit mense dikwels ‘n uur of meer om by die werk te kom en dieselfde om weer by die huis te kom. Dis tien ure ‘n week. Veertig ure ‘n maand. Vier-honderd-en-tagtig ure ‘n jaar. Dis ‘n ongelooflike hoeveelheid tyd!

Die vraag is: wat doen jy met jou gedagtes gedurende hierdie tyd? Ry jy net voort met jou gedagtes in neutraal? Of luister jy na die radio of musiek? Of raak jy kwaad vir die bestuurders rondom jou? Wat ‘n goeie tyd om jou gedagtes in rat te sit! Wat ‘n geleentheid om geestelik te groei! Wat oefening vir jou liggaam doen, doen meditasie vir jou siel. Die Bybel sê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53). ‘n Plakkaat op iemand se kantoormuur het gelees: ‘Jy is nie wat jy dink jy is nie. Maar wat jy dink – is jy!’

As jy wil hê dat jou lewe anders moet wees, moet jy ander gedagtes begin dink; mediteer dus op God se Woord!

Sielskos: Jes 26-29; Luk 2:1-7; Ps 46; Spr 1:32-33