Medelye
2025-03-01Matteus 9:36 NLV
Wanneer jy selfbehep en net op jou eie belange gefokus is, is dit maklik om mense in nood mis te kyk en geen besorgdheid te toon nie. Wanneer jy egter jou lewe aan Christus toevertrou en in sy voetspore volg, verander jou gesindheid.
“Toe Jesus na die baie mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid. Hulle was soos skape sonder ‘n wagter wat na hulle omsien. Daarop sê Hy vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die werkers wat dit moet insamel, is so bitter min. Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien'” (verse 36-38 NLV). Jesus was ontroerd deur mense wat weerloos was. Die stres van die lewe het hulle afgemat en die laste wat hulle gedra het was swaar. Hulle was mense met geen rigting, geen fokus, geen doelwitte in die lewe nie. Wat was Christus se reaksie? Omdat die behoefte so groot was, het Hy vir sy dissipels gesê om te bid dat God ‘werkers vir sy oesland voorsien.’
‘n Mens kry net soveel tyd om ‘n oes in te samel, anders verloor jy dit. Moenie die punt wat Jesus maak, of die dringendheid daarvan, misloop nie. Jy is geroep om medelye teenoor die mense rondom jou wat moeg en weerloos is te bewys en elke geleentheid om hulle na Jesus toe te bring, aan te gryp.
‘n Man wat nie kon loop nie het by die tempelhekke gesit en bedel. Dag na dag het die skare verby hom geloop, maar nie Petrus en Johannes nie (sien Handelinge 3:1-11). Wanneer jy skielik deur ‘n behoefte waar jy telkemale al verbygeloop het, ontroer word, is God besig om vir jou te sê om betrokke te raak en iets daaraan te doen.
Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29