Leuens: Satan se moedertaal
2020-07-15Johannes 8:44 NLV
Jesus het van Satan gesê: ‘…Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ‘n leuenaar en ook die vader daarvan is.’ Hy lieg op drie maniere vir ons: 1) Vertwyfelinge: Sy strategie is om jou te ontmoedig en jou te laat tou opgooi deur te sê: ‘Wat help dit? Niks het verander nie!’ Wanneer jy dit sê, teken jy die strokie en aanvaar die aflewering. Moenie dit doen nie! Die Bybel sê: ‘…Deur jou woorde en jou dade word jy gevang…’ (Spreuke 6:2 DB). Dit wat jy sê, vorm jou perspektief en skep die omgewing waarin jy lewe. Moet nooit iets sê wat Satan laat dink dat hy gewen het nie. 2) Skok. As jy nie Satan se aanval verwag nie, sal jy geskok wees en dink: ‘Ek maak seker nie vordering nie. Hoekom anders sal ek dan dieselfde gevegte oor en oor veg?’ Satan gee nie sommer tou op nie en sy aanval is bewys dat hy jou nog nie oorwin het nie. 3) Gevoelens. Satan sal jou probeer oortuig dat jy nie vergifnis verdien nie. Hy sal vir jou sê dat omdat jy nie voel dat jy vergewe is nie, is jy nie vergewe nie. Onthou egter, hy is ‘n leuenaar. Dis hier waar die oorwinning besluit word. Staan vas. Die werk is reeds in jou gedoen. God se Woord sê so; nou moet jy dit ook begin sê. Tyd sal jou posisie versterk. Sy strategie is om jou te laat voel dat niks verander het nie. Moenie dit glo nie! Jesus het gesê: ‘…As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:31-32 NLV).
Sielskos: Joël 1-3; Luk 7:24-35; Ps 118:19-29; Spr 15:33