Leier, hier is God se manier
2018-11-20Eksodus 18:23 NLV
Hoekom dring ons daarop aan om alles self te doen? Drie redes: 1) Ons is bang dat ander mense nie die werk so goed soos ons sal doen nie – maar hoe anders sal hulle leer? 2) Ons is bang dat hulle ons sal oorskadu. 3) Ons dink dat God van ons verwag om alles persoonlik te doen. Moses se skoonpa het vir hom gesê ‘Luister nou na goeie raad… Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat… Vir die beslissing oor hulle verskille moet jy mans uit die volk aanstel wat as regters kan optree. Stel een man aan vir elke 1 000 mense of selfs vir elke 100 of 50 of tien mense… Stel hulle as voltydse regters oor die volk aan. Hulle kan die groter sake dan na jou verwys. Die kleiner sake kan hulle sommer self verhoor. So kan julle saam die vrag dra… As dit volgens God se wil is, kan jy die sake van nou af so hanteer. Dit sal jou werk maklik maak. Die volk sal terselfdertyd dan ook meer tevrede gestel kan word’ (Eksodus 18:19-23 NLV). Evalueer dus wat slegs jy kan doen en delegeer wat ander kan doen. As die taak te groot is vir jou, sien dit as ‘n teken dat God vir jou sê, ‘Moenie dit alleen probeer aanpak nie!’ Dit beteken nie dat jy die werk aan sommer net enigiemand kan gee nie. As jy die verkeerde persoon in ‘n werk, wat glad nie vir hulle sin maak nie, aanstel, sal dit rampspoedig wees. Jy moet: 1) die regte mense vind; 2) die regte werk vir hulle gee; 3) hulle vertrou om die regte ding te doen. As jy hierdie drie dinge doen, sal jy lank genoeg lewe om die vrugte van jou sukses te smaak.
Sielskos: Pred 5-8; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 30:11-14