Leer om jou emosies te beheer
2023-01-06Genesis 50:21 NLV
Wanneer jy die verhaal van Josef lees, besef jy dat hy alle rede gehad het om woedend, bitter en wraaksugtig te wees oor die veragtelike manier waarop sy broers hom behandel het. Wat doen hy egter? Hy raak nie kwaad nie en neem nie eens wraak nie. Hy help die hele Egipte, die land wat hom ‘n slaaf gemaak het en hom onskuldig in die tronk gestop het, om hongersnood te oorleef. Hy help sy familie wanneer hulle kos kom bedel. Hy vergewe en sodoende word hy van sy negatiewe emosies bevry.
Hy het die kwessies van die verlede agtergelaat, nie toegelaat dat dit hom van sy lotsbestemming weerhou nie en in God se guns gebly. As tweede-in-bevel van die hele Egipte, het Josef die mag van lewe en dood oor diegene wat hom seergemaak het, gehad. Tog het hy vir hulle gesê: “‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het my gebring tot in hierdie hoë pos wat ek beklee sodat ek die lewens van baie mense kon red. Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.’ So het hy vriendelik met hulle gepraat en hulle gerusgestel” (verse 20-21 NLV).
Die probleem is nie die woede of teleurstelling nie – behalwe wanneer jy deur jou emosies beheer word. Elke keer wat woede veroorsaak dat jy die dinge wat God in jou sorg geplaas het verniel, word jou emosies wanbestuur. Jy staan grond aan die duiwel af wanneer jy nie jou woede beheer nie. ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV).
Die woord vir jou vandag is dus – leer om jou emosies te beheer.
Sielskos: Jes 12-16; Luk 1:39-56; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19