Lag meer!

2020-10-17
Psalm 126:2 NLV

God het elke menslike emosie wat jy voel, geskep. Hy het jou ontwerp om te huil wanneer jy hartseer is en te lag wanneer jy gelukkig is: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles… ‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag…” (Prediker 3:1,4 NLV). Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV).

Vraag: Hoe gereeld lag jy? Dokters sê dat lag ‘n wonderlike genesende effek op jou liggaam het. Dit het ook wonderlike genesende effekte op jou gedagtes en siel. Stop en dink aan die dae wat jy gelag het, selfs al het jy nie regtig iets gehad om oor te lag nie. Jy was ver van God af en deur jou sondige gewoontes gebonde, maar Hy het jou vrygemaak, nie waar nie?

In die Ou Testament lees ons: ‘Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit soos ‘n droom. Ons het gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: ‘Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.’ Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde!’ (Psalm 126:1-3 NLV).

As God jou vrygemaak het, het jy waarlik iets om oor te lag. Hou op om so hard op jouself te wees – omdat jy nie perfek is nie, jou stadige groei in God, jou gebedslewe wat aandag kort, dat jy nie meer Skrifgedeeltes kan memoriseer nie, jou vrees om jou geloof met ander te deel, ens. Ons dra sulke swaar laste rond. Dis maklik om baie dinge te vind om oor bekommerd te wees, maar jy moet soms ‘n bietjie daaraan werk om gelukkig te wees. Die woord vir jou vandag is dus – lag meer!

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4