Laat die genesing begin
2019-03-26Psalm 30:3 NLV
Ons praat so maklik oor dinge wat nie saak maak nie. Wanneer dit egter tyd is om oor ons vrese, ons eensaamheid, ons skuldgevoelens of ons behoefte aan liefde te praat, klap ons soos oesters toe. Soms maak ons asof ons nie hoor nie, terwyl die waarheid egter is dat ons nie hou van wat ons hoor nie. Jy het gehoor hoe jou maat sê dat hy meer van jou tyd nodig het, of jou kind wat sê: ‘Ek is lief vir jou.’ Jy het hulle ook hoor sug toe jy niks terug gesê het nie. Jy het weggehardloop en weggekruip omdat jy óf nie weet hoe om dit te gee wat hulle vra nie, óf omdat jy nie die prys wil betaal nie. Ons almal het wegkruipplekke – soos ons werk, ons gewoontes of verhoudings wat geen emosionele eerlikheid benodig nie. God het jou egter met ‘n behoefte aan aanraking en die uitdrukking van emosies geskep. Hoe lank gaan jy agter daardie masker wegkruip en jou behoeftes en vrese ontken? God het gesê: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie…’ (Genesis 2:18 NLV). As jy aanhou om jou emosies te ontken, sal jy nooit die vreugde van ‘n goeie verhouding ervaar nie. Dawid was nie bang om aan God te erken dat hy swak, hartseer of kwaad gevoel het, of liefde nodig gehad het nie. Hy het gesê: ‘Vanaf die einde van die aarde roep ek tot U om hulp, want ek is moedeloos verby…’ (Psalm 61:3 NLV). As jy nie jouself teenoor ander mense kan uitdruk nie, begin deur met God te praat. Wat Hy vir Dawid gedoen het, kan Hy ook vir jou doen. Draai dus vandag na Hom toe en laat die genesing begin.
Sielskos: Est 1-4; Luk 19:45-48; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31