Jy moet tussen waarheid en leuens kan onderskei

2021-11-23
Matteus 13:28 NLV

Jesus het gesê: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ ‘Dis ‘n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit… Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word…'” (verse 24-30 NLV).

Daar is twee belangrike lesse hieruit te leer: 1) Jy moet God se Woord so goed ken dat leuens, maak nie saak hoe oortuigend dit voorgehou word nie, jou nie kan mislei nie. Paulus het die leiers van die kerk in Efese gewaarsku: ‘Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom: Wakkerloop!..’ (Handelinge 20:30-31 NLV).

2) Jy moet geestelik wakker en op jou hoede wees. Let op dat die sade wat daardie aand gesaai is, eers baie later as onkruid opgekom het. As jy, geestelik gesproke, vir lank genoeg op die verkeerde baan bly, sal jy ver van waar God jou wil hê opeindig en sal jy besef: ‘Dis ‘n vyand se werk!’ Wat is dus die antwoord? ‘Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede’ (Handelinge 2:42 NLV).

Sielskos: 2 Kro 29-31; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16