Jy gaan deur hierdie storm kom!
2019-02-04Handelinge 27:25 NLV
Op pad na Rome het Paulus ‘n verwoestende storm ervaar. Sy verhaal leer ons drie waardevolle lesse: 1) Jou ongehoorsaamheid kan ‘n storm veroorsaak. Omdat die kaptein nie na Paulus se waarskuwing wou luister nie, het hy sy skip, sy vrag en amper sy lewe verloor. Jou ongehoorsaamheid kan ‘n storm in jou gesondheid, jou finansies, jou familie of jou loopbaan ontketen. God begin nie sy gebooie met, ‘As jy lus is, moet jy die volgende doen,’ nie. Nee. Hy bedoel wat Hy sê en Hy sê dit vir jou eie beswil, gee dus aandag! 2) Jy is nie alleen in die storm nie. God is met jou. Paulus het gesê: ‘Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus… om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is. Daarom, hou moed, manne!..’ (verse 23-25 NLV). Met God aan boord, is daar nie ‘n storm wat sterk genoeg is om jou te sink nie. 3) Wanneer jy op God se beloftes staan, het jy sy outoriteit. Paulus het dalk soos ‘n gevangene gelyk, maar in realiteit het hy meer mag as die kaptein gehad. Alhoewel hy met kettings geboei was, was hy die vryste man op die skip. Wanneer jy duidelik van God gehoor het, kan jy enige situasie hanteer, omdat sy Woord sê: ‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie. Elke aanklag teen jou, sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van die Here…’ (Jesaja 54:17 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Hou aan om op God te vertrou en Hy sal jou deur hierdie storm bring!
Sielskos: Gen 10-12; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32