Jou vreugde sal weer terugkeer

2019-10-14
Psalm 30:6 NLV

Dis moelik wanneer jy die hele dag hard werk en dan na ‘n leë huis moet terugkeer. Dis ‘n vreeslike tipe eensaamheid. Dis die pyn van soveel hê om te deel, maar daar is niemand om dit mee te deel nie. God ken egter jou behoefte en Hy gee om. Dis hoekom Hy Eva vir Adam gemaak het, Boas vir Rut en Rebekka vir Isak gevind het. Dis hoekom sy Woord kwessies soos seksuele frustrasie, eensaamheid, mislukking en ‘n gebrek aan selfwaarde aanspreek. Daar bestaan natuurlike leemtes en begeertes in elkeen van ons en hoe ons hulle vul, bepaal ons vermoë om te oorleef en geluk te vind. As jy sukkel om op jou eie die uitdagings van die lewe te oorkom, moet jy weet dat jy nie alleen is nie! ‘…die Vader van meelewing en die God wat in elke opsig bemoedig’ (2 Korintiërs 1:3 NLV), is by jou. Niemand verstaan soos Jesus nie. Sy familie het Hom verwerp, sy dissipels het Hom verlaat en die wêreld het Hom gekruisig. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:15 NLV). Hy weet wanneer jy voel dat niks wat jy doen ooit goed genoeg is nie. Hy weet dat jy nie net ‘n ouer is nie, maar ook ‘n mens in eie reg. Hy weet, Hy verstaan en Hy nooi jou uit om na Hom toe te kom. Die seisoen waarin jy jou tans bevind gaan nie vir ewig aanhou nie. ‘n Nuwe een is op pad, met nuwe energie, nuwe verhoudings, nuwe ervarings en nuwe vreugde. Onthou dus: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.’ Jou vreugde sal weer terugkeer!

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21; Heb 11:8-16