Jou ‘voordele pakket’

2020-03-07
Maleagi 3:14 NLV

In die laaste boek van die Ou Testament, Maleagi, vra die Israeliete: ‘…Dis tevergeefs om God te dien. Wat het ons daarby gebaat…?’ Dis ‘n vraag wat ongelowiges en soms selfs gelowiges vra, veral wanneer tye moeilik is en ons geloof getoets word. Die Psalmdigter gee egter vir ons die antwoord: ‘Prys die Here! Die gelukkigste mense op aarde is hulle wat groot respek vir die Here het, wat met blydskap luister na alles wat die Here sê. Hulle nageslag is baie groot. Die Here se goedheid is by sulke mense oral waar hulle gaan. Hulle het meer as genoeg om van te leef. Hulle doen net goed aan ander mense. God se goedheid skyn soos die son oor hulle hele lewe. Hy is by hulle met sy goedheid, sy ontferming, sy beskerming. Iemand wat die Here vrees, deel graag sy besittings met ander. Hy leen uit, hy doen altyd die regte dinge. Almal praat daarvan. Hulle onthou hom, want hy struikel nie. Slegte nuus ontstel hom nie, want sy hand is veilig in die Here s’n. Omdat hy op die Here vertrou, is hy glad nie bang nie, want hy weet sy vyande sal tot ‘n val kom. Hy strooi sy besittings uit; arm mense dra hy op die hande. Hy hou nooit op om goed te doen nie. Wat ‘n leefstyl! Dit bring baie eer en vreugde’ (Psalm 112:1-9 DB). Die voordele wat jy ontvang wanneer jy God dien sluit geluk, kinders op wie jy kan trots wees, sukses, invloed en eer in. Let veral die volgende woorde op: ‘…Slegte nuus ontstel hom nie, want sy hand is veilig in die Here s’n. Omdat hy op die Here vertrou, is hy glad nie bang nie…’ Hierdie seëninge is alles deel van jou ‘voordele pakket.’

Sielskos: Gen 32-34; Matt 21:12-17; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2