Jou oes is oppad

2024-04-14
Markus 4:27 NLV

Het jy al ooit ‘n ‘saad’ van geloof gesaai en nou wonder jy wanneer jy die ‘oes’ wat God in sy Woord beloof het, sal kan insamel? Indien dit die geval is, lees verder: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar’ (verse 26-29 NLV).

Voor jy die seën wat God belowe het kan oes, gaan jy deur sekere stadiums. Eers is daar die stadium wat jy self nie weet nie. Jou saad is in die grond begrawe. Hoe en wanneer jou oes kom is totaal van God afhanklik. Jy moet egter glo dat dit gaan gebeur. Volgende kom die blaartjie uit. Dis net ‘n klein blaartjie wat in die bries waai, maar dis genoeg om jou moed te gee en vir jou te wys dat jou oes op pad is. Volgende kom die aar. Die saad het ontkiem en lyk soos dit waarvoor jy gebid het. Dis dan wanneer jy dit met gebed moet water gee, dit met God se Woord moet bemes en dit van enigiets of enigiemand wat dit deur twyfel en ongeloof kan ontwortel, moet beskerm. Uiteindelik is dit die stadium van die koringkorrel, wanneer die koring ryp word en jy onmiddellik begin oes.

Maak nie saak in watter stadium jy jou vandag bevind nie, staan vas en hou aan om op God te vertrou. Jou oes is op pad.

Sielskos: Gal 5:22; Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168