Jesus se werksfilosofie (1)
2022-04-07Johannes 4:34 NLV
In plaas daarvan om Jesus tot die kerk op Sondae te beperk, kom ons bestudeer sy werksfilosofie (houding, waardes en beginsels) oor hoe om dinge gedoen te kry. Die beginsels waarvolgens Hy geleef het, verg die volgende:
1) Om duidelikheid oor jou opdrag te hê. Jesus het verstaan dat fokus nodig is om vaardighede en geleenthede ten volle te benut. As jy dus talentvol, energiek en aktief is en steeds nie konkrete resultate sien nie, mag jou probleem dalk ‘n gebrek aan fokus wees. Toe Nehemia besig was om Jerusalem se mure te herbou, het sy vyande ‘n boodskap gestuur en gesê: ‘…Kan ons mekaar… ontmoet?…’ (Nehemia 6:2 AFR83). Nehemia het egter geantwoord: ‘…Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie'(vers 3 NLV).
2) Om jou take in die volgorde van belangrikheid te prioritiseer. Wanneer jy nie die belangrikste take eerste doen nie, begin take hulself volgens hulle dringendheid reël. Wanneer dit gebeur, loop jy groot geleenthede mis. Die Bybel sê Jesus: ‘…moes deur Samaria reis’ (Johannes 4:4 NLV). Vir sy dissipels het dit seker soos ‘n afleiding gelyk, want dit was nie die kortste roete na hulle bestemming nie. Daar was egter ‘n vrou in Samaria wat Jesus wou verlos; iemand deur wie Hy ‘n hele stad met die evangelie sou bereik. Jesus was duidelik oor sy prioriteite. Is jy?
3) Om ‘n noukeurige rooster te skep. Met ander woorde, stel spertye vir jouself en hou daarby. Jesus het geweet dat Hy net drie-en-‘n-half jaar gehad het om sy werk te doen en Hy het elke dag laat geld. Een van die grootste leuens wat ons vir onsself vertel is: ‘Ek sal later daarby uitkom.’ Om sukses in die lewe te behaal, moet jy Jesus se werksfilosofie as jou bloudruk aanneem.
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 22:24-38; Ps 50:16-23; Spr 9:12