Hy hou die hele wêreld in sy hande
2019-10-28Daniël 4:25 NLV
As iemand wat in die Bybel glo, is daar drie woorde wat nie in jou woordeskat moet wees nie: geluk, toeval en lot. Vervang hulle eerder met die woord voorsienigheid, wat beteken dat daar vooruit gesien en voorsien word. Die Westminster geloofsbelydenis, wat in die sewentiende eeu geskryf is, verklaar: ‘God, die groot Skepper van alle dinge, dra, bestuur, skik en regeer alle skepsels, dade en dinge, van die grootste tot selfs die kleinste, deur sy alwyse en heilige voorsienigheid, volgens sy onfeilbare voorkennis…’ Dit beteken dat God, nie ons nie, in beheer is! Wat dan van die menslike wil? Kan ons nie onafhanklik optree nie? Die teoloog dr R.C. Sproul het geskryf: ‘God se soewereine voorsiening is verhef bo ons dade. Hy werk sy wil uit deur die optrede van menslike wil, sonder om die vryheid van daardie menslike wil te oortree.’ Kyk na Josef. Sy broers het hom probeer vernietig, maar in plaas daarvan het hulle aksies hom op die troon van Egipte geplaas en God se wil vervul. Later het hy gesê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is’ (Genesis 50:20 NLV). Judas se gruwelikste daad het die beste ding wat ooit gebeur het meegebring – Christus se versoening van ons sondes aan die kruis. Voel jy verward deur die dinge wat om jou aan die gang is? Een rede is omdat ons net omtrent 10 persent van ons geestelike potensiaal gebruik. Paulus wys ons ook daarop dat ons maar net ten dele ken (sien 1 Korintiërs 13:9 NLV). Wanneer ons in die hemel kom mag God dit dalk alles verduidelik – of nie. Tot dan, vertrou Hom. Verbly ook jouself, want Hy hou die hele wêreld in sy hande – insluitend vir jou!
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 7:25-44; Ps 104:27-35; Spr 24:29