Hou aan bid en vertrou op God

2019-12-01
Psalm 3:3 NLV

Bid jy al vir jare dat God jou man, jou vrou, jou kinders of jou vriende moet red? Smag jou hart daarna om te sien hoe die mense vir wie jy lief is Hom dien? Raak jy mismoedig? Het iemand al vir jou gesê: ‘Jy mors jou tyd. Hulle sal nooit verander nie’? Indien dit die geval is, lees wat die Psalmdigter geskryf het: ‘So baie sê: ‘God sal hom nooit red nie!’ Maar U Here, is ‘n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op. Ek het tot die Here geroep. Vanaf sy heilige berg het Hy geantwoord’ (verse 3-5 NLV). Let spesifiek op die frase: ‘So baie sê…’ Almal het ‘n opinie, maar totdat God oor die kwessie gepraat het, is dinge nog lank nie verby nie! So lank as wat Hy nog op die troon is en sy beloftes steeds waar is, hou aan bid en vertrou op God vir ‘n wonderwerk. ‘Maar hulle is so ver van God af op die oomblik!’ sê jy. Hulle mag dalk wees, maar lees die volgende teksvers en verbly jouself: ‘Die Here is nie te swak om julle te red nie. Hy is nie te doof om julle te hoor nie’ (Jesaja 59:1 NLV). Jou geliefde is nie te ver heen vir God nie. Hulle mag dalk aan alkohol of dwelms verslaaf wees, ‘n buite-egtelike verhouding hê of selfs in die tronk wees. Waar hulle ookal vandag is, die lang arm van God se genade kan uitreik en hulle red. Satan weet dit en wil hê dat jy mismoedig moet word en tou moet opgooi. Moenie dit doen nie! Net soos krag deur ‘n elektriese draad vloei, so vloei God se krag deur jou gebede. Hou dus aan bid en vertrou op God!

Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13