Hoe om jou doelwitte te stel (3)
2019-12-14Spreuke 3:5 NLV
Vertrou meer op God as op jouself. Dit beteken nie dat jy deur die lewe moet gaan en jouself die hele tyd moet betwyfel nie, of bang wees om aan te beweeg vir ingeval jy ‘n fout maak nie. Wanneer jy God se plan in jou lewe herken en aanvaar, ontvang jy die krag wat jy nodig het om dit te vervul. Valse nederigheid sal jou geestelik en emosioneel strem en jou daarvan weerhou om vorentoe te beweeg. Toe God Jeremia ‘n profeet genoem het, het hy geprotesteer: ‘…ek is ‘n kind’ (Jeremia 1:6 ABA). Luister egter wat het God vir hom gesê: ‘…Jy moenie sê jy is ‘n kind nie…’ (vers 7 ABA). So seker as wat die tong mag het oor lewe en dood (sien Spreuke 18:21), so moet jy leer om God se Woord oor die visie wat Hy vir jou gegee het, te spreek. Ja, dis ‘n fout om te dink dat jy God se rol kan vervul of dat Hy joune sal vervul. Sodra jy egter jou persoonlike opdrag verstaan en krag uit Hom put, kan jy begin glo dat jy sukses sal behaal, ongeag watter struikelblokke daar in jou pad mag staan. Wanneer jy weet dat jy binne God se wil is en doen wat Hy jou aangesê het om te doen, kan jy vol vertroue op hierdie Skrifgedeeltes staan: ‘…Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige’ (Sagaria 4:6 NLV). ‘Een van julle kan selfs duisend van hulle op loop jaag, want die Here julle God veg aan julle kant. Dit is wat Hy julle beloof het’ (Josua 23:10 NLV). ‘Wanneer ek roep, antwoord U my; U bemoedig my en gee my krag’ (Psalm 138:3 NLV). Jy is nie vandag alleen nie – God is by jou!
Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23